Zondo-verslag onthul ongerymdhede by Bosasa

Itumeleng Mosala, sekretaris van die Zondo-kommissie (links) oorhandig die derde deel van die verslag aan Phindile Baleni, direkteur-generaal in die presidensie (1 Maart 2022) (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die president se kantoor het Dinsdag die derde deel van die verslag van die Zondo-kommissie van Ondersoek na Staatskaping, Korrupsie en Bedrog ontvang. Dié deel van die verslag beslaan byna 1 000 bladsye en handel oor korrupsie by Bosasa. Dié maatskappy het in die verlede miljoene rande se staatstenders ontvang. Verskeie ministers word in die verslag geïmpliseer.

Phindile Baleni, direkteur-generaal in die presidensie, het die verslag namens pres. Cyril Ramaphosa in ontvangs geneem. Prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die kommissie, het die verslag by die Uniegebou aan Baleni oorhandig.

Die verslag handel oor ongerymdhede by Bosasa en geld en geskenke wat aan verskeie ministers oorbetaal is.

Die verslag verwys spesifiek na opknappings wat by die voormalige minister van omgewingsake, Nomvula Mokonyane, se huis gedoen is en geld wat sy na bewering ontvang het.

Duduzile Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), word ook geïmpliseer in die verslag en dat sy na bewering geld en geskenke ontvang het. Die verslag is verdoemend oor haar rol in die verwoesting van die SAL.

Die kommissie het ook bevind dat die minister van energie en voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, voordeel getrek het uit Bosasa se “korrupte modus operandi”. Die maatskappy het kringtelevisiekameras by sy huise in Boksburg, Gauteng en Cala in die Oos-Kaap geïnstalleer.

Oudpres. Jacob Zuma word ook vir die soveelste keer direk geïmpliseer in die verslag en daar word breedvoerig uitgewei oor sy ontmoetings met senior beamptes by Bosasa en Nkandla.

Die kommissie het bevind dat daar “redelike gronde is om te vermoed” dat Zuma se optrede jeens Bosasa teenstrydig was met sy “pligte as president onder die Grondwet”. Dit hou onder andere verband met ʼn betaling van R300 000 per maand aan die Zuma-stigting en sy beweerde inmenging om staatsdepartemente, hoofsaaklik die departement van korrektiewe dienste, te verhoed om hul Bosasa-kontrakte te kanselleer.

Die verslag bied ʼn volledige uiteensetting oor kontrakte tussen Bosasa en die departement van korrektiewe dienste.

Intussen word die saak oor bedrog en korrupsie ter waarde van R1,8 miljard tussen die maatskappy en die departement op 23 Maart 2022 in die hooggeregshof aangehoor. Die beskuldigde in die saak is die voormalige kommissaris van korrektiewe dienste Linda Mti, die voormalige finansiële hoof van die departement Patrick Gillingham, voormalige finansiële hoof van Bosasa Andries van Tonder en voormalige bedryfshoof van Bosasa Angelo Agrizzi.

Die saak hou verband met vier tenders wat tussen Augustus 2004 en 2007 aan Bosasa en sy filiale toegeken is. Die tender was vir spyseniering en opleidingsdienste, die installasie van kringtelevisiekameras, installasie van grensheinings en die verskaffing van ʼn televisiestelsel en moniteringstoerusting.

Lees die derde deel van die verslag (in vier volumes) hier: https://www.thepresidency.gov.za/documents
Hou Maroela Media dop vir verdere verslaggewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jack ·

Hulle voel so trost om die “trofee” te ontvang.Nee wat gooi maar in die hoek laat dit stof vergader.Die ander twee word reeds as ‘n deurstop gebruik en nommer drie sal dieselfde pad volg.Zondo het sy tyd en almal se tyd om hom gemors om die verslag te formuleer.Die grap is hy was betaal daarvoor.Strompel voort SA.

Yvonne ·

Sien is glo dat hier iets van sal kom, ek is al so sinies oor al die kader beskerming

Nie Verbaas ·

Ek slaap saam. Hier kom weer jare se speel vir tyd. Hou dop, Zuma loop en Agrizzi en van Tonder sit. Maklik om kleiner en wit vissies toe te sluit. Klugspul.

Kobus ·

Alles wat ons weet is nou via ‘n omvattende verslag beskikbaar. Tyd van praat is verby, dis nou tyd vir doen. Kans vir enige Oranje oorpakke wat uitgedeel gaan word is skraal.

Chris dupreez ·

Wat van n ,, spanfoto ,, van hulle almal in hulle oranje pakke. Dit kan ook dan oral in die staatsdepartemente se ingange gehang word.

SlinkseKoljander ·

En ons almal weet dit al hoe lank???? Kyk hoe lekker glimlag hulle, asof hulle nou net n Nobel prys vir vrede gewen het.

Wat n grap is die mense en land nie!

Deon ·

Veels geluk, julle het nou die trofee gekry….. Wat gaan van dit word?

Julius ·

Snaks dat gangster paradise reeds alles onthul het wat nou na miljoene se gemors net weer beklemtoon word. Zondo kan nou tubai toe vlieg.

Misky ·

Kom ons kyk wat gebeur. Ek probeer vasbyt aan die bietjie positiwiteit en dat dit nie langer onder die mat ingevee kan word nie.

Sarel ·

Nou Goed…kan dasr nou begin word om die geld terug te kry…Hierdie mense is so mak hulle geniet nog steeds hulle weelde

Grassie ·

Ek wonder of Ramamparra nou die moed gaan hê om vir Mantashe in die pad te steek. Ek glo nie.

Mieke ·

Grassie… ek dink nie hy sal dit kan doen nie. Die een weet te veel van die ander se ‘dealings’!!

Twallie ·

Ramaphosa gaan al die Zondo Volumes in File 13 file. Ons sal nooit weer daarvan hoor nie.

domheks ·

Sal JELLIEVIS regtig sy kaders laat vervolg?
So sal die land seker in geheel afbrand as ou zuma weer moet tronk toe gaan. Maar die brand stigters is mos die ‘agtergeblewe’ ‘armlastige’ siele!

Cobus ·

Nooit, wie sou dit nou kon raai. Viva reenboog droom Viva, dit was so so voorspelbaar al in 92.

Frank John ·

Wat, ‘n wonderlike land bly ons nie in nie, dit alles wys my net dat iewers in die toekoms daar groot dinge vir ons in stoor is. God het ‘n plan en die werk wat Hy begin het gaan Hy klaar maak en Sy kinders sal seevier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.