Zondo-verslag teen einde Augustus verwag

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie na staatskaping. (Foto: Gulshan Khan/AFP)

Die kommissie na staatskaping onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo verwag om teen einde Augustus – of September op die laaste – sy verslag met bevindings en aanbevelings bekend te maak.

Zondo het Woensdag, ʼn dag ná die geskiedkundige uitspraak waarin die Konstitusionele Hof oudpres. Jacob Zuma direkte tronkstraf vir minagting van die hof opgelê het, ʼn mediavergadering oor die kommissie se vordering tot dusver gehou.

Zondo het die uitspraak as ʼn belangrike een vir die land en die konstitusionele demokrasie bestempel en gesê dit bevestig opnuut dat niemand bo die reg verhewe is nie.

Maar, sê Zondo, “ ʼn mens wens dit het nooit nodig geword om hierdie punt te bereik nie”.

Die kommissie is op die been gebring om die talle bewerings van staatskaping te ondersoek. Zuma is deur verskeie getuies betrek en heelwat getuienis is aangehoor van sy beweerde betrokkenheid by staatskaping, maar Zuma het uiteindelik geweier om sy samewerking aan die kommissie te gee.

Die oudpresident het in Julie 2019 voor die kommissie verskyn en destyds gekla oor sy sogenaamde kruisondervraging. Hy het ook gedreig om die kommissie te verlaat.

“Op baie van die vrae wat hy geantwoord het, het hy geantwoord dat hy nie kon onthou nie, of nie seker was nie. Natuurlik was daar vrae waarop hy wel geantwoord het en wanneer hy wel kon onthou,” sê Zondo.

Die adjunkhoofregter sê dit sou natuurlik beter gewees het indien Zuma antwoorde sou verskaf tot al die kommissie se vrae aan hom uitgeput was. Zondo sê verskeie getuies wat reeds verskyn het, se weergawes oor Zuma se beweerde betrokkenheid, staaf mekaar egter.

“Ek is tevrede dat die kommissie uiteindelik ʼn duidelike bevinding sal kan maak gegrond op die getuienis wat aangehoor is.”

Op ʼn vraag oor of Zuma as die “argitek van staatskaping” beskou kan word, sê Zondo hy kan “in hierdie stadium nie enigiets sê nie”.

Hy sê alle getuienis waarby Zuma betrek is, is aan die oudpresident beskikbaar gestel en hy is onseker oor van hoeveel hulp Zuma uiteindelik vir die kommissie sou wees indien hy wel weer sou verskyn.

Die omstrede Gupta-broers, wat glo Zuma se noue meelopers was en na bewering ʼn groot aandeel in die beweerde staatskaping gehad het, het ook nie voor die kommissie verskyn nie.

Zondo sê hulle het skriftelike verklarings oor sommige kwessies ingedien na aanleiding van die getuienis van sekere getuies en dat dit oorweeg sal word.

Vordering, verslag

Zondo sê daar sal geen voorlopige verslag van die kommissie se werk vrygestel word nie, net ʼn finale verslag wat hy hoop om teen die einde van Augustus af te handel. Die hooggeregshof in Pretoria het vroeër vandeesweek ʼn aansoek toegestaan wat die kommissie se werk met nog drie maande verleng. Dié tydperk verstryk in September.

Die adjunkhoofregter sê ook die mondelingse getuienis voor die kommissie is grootliks afgehandel. ʼn Handvol uitstaande getuies, asook Cyril Ramaphosa – in sy hoedanigheid as president van die land – se getuienis moet nog klaargemaak word. Ramaphosa het vroeër reeds as president van die ANC getuig.

Die kommissie hoor sedert Augustus 2018 mondelingse getuies aan, het reeds 418 dae amptelik gesit, die transkripsie van getuienis is meer as 71 000 bladsye lank en meer as 330 getuies het verskyn. Die kommissie het die belastingbetaler tot dusver net minder as R1 miljard uit die sak gejaag.

Zondo sal dit ‘weer doen’

Met verwysing na die talle openbare aanvalle wat Zuma tot dusver op die regbank, en dikwels die adjunkhoofregter self, gerig het, sê Zondo hy sal nie ʼn oomblik huiwer om weer die amp te aanvaar nie.

“Ek is persoonlik onderwerp aan verskeie aanvalle deur mnr. Zuma. Ek het probeer om my werk voort te sit en dit sonder vrees, guns of vooroordeel te doen.

“Dit was moeilik, vir my en my gesin, maar daar is werk om gedoen te word en ek het hierdie werk aanvaar. Dit is ʼn belangrike werk.”

Zondo sê hy was egter nie die enigste kommissielid wat deurgeloop het nie.

“Is ek spyt dat ek die werk aanvaar het? Glad nie. As ek gevra word om dit weer te doen, sal ek. Ons land het nodig gehad dat hierdie werk gedoen word. Die hoofregter het my gevra om dit te doen en ek het nie gehuiwer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

gpsa ·

Behalwe vir Zuma wat 15 maande tronk toe gaan, wat het hierdie kommisie reg gekry en wat het dit gekos? Nog vermorsing van geld in my opinie.

tweeling ·

Gaan doen net bietjie leeswerk van hoeveel geld is al terug gekry agv inligting wat uit die kommissie gekom het, dit is miljoene rande.

tweeling ·

Ek het nogal gewonder hoeveel die oom al geskryf het aan die verslag, dit ‘n almintige lot inligting om bymekaar te sit.

Pietertjie ·

Ek wonder wie gaan al daai tonne papierwerk lees, en wie gaan wát daaromtrent doen, en wánneer..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.