Zulu ‘baie beter’ ná hy by dood omdraai

Deur Megan Gittins

Zulu hou geduldig sy been uit sodat sy hoewe behandel kan word. (Foto: Facebook via Wetnose)

Zulu, die perd wat by die dood omgedraai het nadat hy in ʼn erg verwaarloosde toestand langs ʼn grondpad oos van Pretoria gelos is, is goed op pad na volkome herstel.

Die perd, wat deur die werknemers van Wetnose-dierereddingskuiling Zulu gedoop is, word die afgelope week by dié sentrum toegegooi onder liefde en ontvang die behandeling wat hy nodig het. “Sy beserings lyk baie beter,” sê Veronica van Greunen, ʼn inspekteur by Wetnose.

Zulu was erg verwaarloos, gedehidreer, honger en swak toe hy deur ʼn inwoner in die Cullinan-gebied gevind is. Hy is dieselfde dag deur die Wetnose-dierereddingskuiling gered.

Byna ʼn week na die voorval is Zulu goed op pad na volkome herstel. Hoewel sy bene geswel is, is sy hoewe intussen behandel wat dit vir hom makliker maak om te loop.

Volgens Van Greunen is Zulu steeds in pyn, maar herwin hy elke dag meer en meer sy krag. Sy wonde, wat deur ʼn val veroorsaak is toe hy langs die pad afgelaai is, word elke dag behandel en is besig om geleidelik gesond te word.

Zulu se gesondheid het egter vanoggend ʼn onverwagte wending geneem toe hy koliek opgedoen het, sê Van Greunen. “Koliek is ʼn baie ongemaklike, pynlike probleem in hulle spysverteringstelsel,” verduidelik sy. Alhoewel Zulu reeds menigte hindernisse oorkom het, word hy steeds noukeurig dopgehou. “Ons was bekommerd, maar hy lyk beter,” sê sy.

Zulu het reeds baie vriende by die Wetnose-diereskuiling gemaak. (Foto: Facebook via Wetnose)

Ondanks Zulu se verskeie beproewings en onlangse koliek-diagnose, is hy ʼn regte sosiale vlinder by die dierereddingskuiling en maak hy vriende met mens en dier so ver hy gaan.

Die lot van die tweede rooibruin perd wat saam met Zulu op die sleepwa was, is egter nog nie bekend nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn inwoner het Dinsdag gesien hoe ʼn motor met twee perde agterop ʼn sleepwa langs die pad stop. Dit is toe dat Zulu van die sleepwa afgetrek en langs die pad gelos is. Die motor het weggejaag met die ander perd nog op die sleepwa.

Van Greunen sê die ander perd was vasgebind en sy hoewe het by die kant van die sleepwa uitgesteek. “Ons is bekommerd oor dié perd se welstand,” sê sy.

Zulu loer hoe die veearts sy medisyne gereed kry. (Foto: Facebook via Wetnose)

Wetnose het reeds ʼn bietjie inligting ontvang oor die man en vrou wat vermoedelik vir Zulu langs die pad gelos het, maar dié inligting is nie genoeg om die paar te identifiseer nie. Die skuiling het ʼn beroep op die publiek gedoen om na vore te kom met enige inligting wat hulle kan help om Zulu se voormalige eienaars en die tweede perd op te spoor.

“Ons vra dat mense ons asseblief help om die eienaars op te spoor sodat ons geregtigheid kan kry. Alle inligting sal as streng vertroulik hanteer word,” sê Van Greunen.

“Asseblief, moenie ophou om ons te help nie.”

Besoek Wetnose se Facebook‑blad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Diertjie ·

Baie dankie vir julle liefde en omgee teenoor die diere julle is awesome!!! Hoop julle kry die eienaars en sluit hulle toe????!!!

Emma ·

Hoop hy sal gou gesond word. Mense moet lank tronkstraf kry wat diere so verwaarloos. Jammer vir diere wat so verniel word deur mense

Gert ·

Indien n mens nie respek het vir diere nie, het hy/sy ook nie repek vir mense nie. Ek wonder net wat hulle gaan antwoord die dag as hulle voor die Groot Stoel moet gaan staan en antwoorde gee. Bly dit is nir ek nie!!

Schalk ·

As ek regtig moet noem wat ek aan sulke mense sal doen word ek verewig ge-swartlys. Dit is afgryslik waartoe mense in staat is.

Anne ·

Ag toemaar ounooi se ou perd. Jy sal volledig herstel en iemand wat jou baie liefhet sal jou baas wees.
Swaar strawwe vir dieremishandeling asseblief tog!! Boetes is regtig nie genoeg nie.

Anoniem ·

Dis seker die eerste keer wat ‘n hings as ‘n sosiale vlinder beskryf word. Oulik!

Helene ·

Kry net eers die ander perd, dan sal ek volkome kan ontspan. Minimum 10 jaar vir dieremishandeling. Boetes is nie goed genoeg nie!!

jean ·

Dankie, dankie, dankie….vir wat elkeen doen. Dit laat ‘n ou warm in die hart….

Kobus ·

Julle wat in die vorige mond uitgespoel het oor honde. Kyk wat doen die sg. Beskaafde mens aan ‘n dier.

Baie dankie julle Wetnose mense xxx ·

Dankie aan die wonderlike mense wat omgee vir Zulu. Zulu mag jy hestel van jou marteling en beproewing wat sogenaamde mense aan jou gedoen het. Baie sterkte aan die wat hom versorg en liefhet tydens sy pad na herstel.

@ Die mense wat hom so langs die pad weggegooi het en vir dood agtergelaat het – julle is nie werd om ‘n mens genoem te word nie. Ek kry die ander perd jammer wat nog by julle is. Mag daardie perd spoedig gevind word. Hopelik weet iemand wie julle is.

“An animal’s eyes have the power to speak a great language” – Martin Buber

Michelle ·

Wetnose, julle doen wonderlike werk en help díe wat nie ‘n stem het nie, dankie daarvoor. Daar sal ongelukkig slegs geregtigheid plaasvind as daar ‘n regter in die hof is wat ‘n diereliefhebber is, want die ander trek net hulle skouers op en sê dat hulle nie verstaan wat die groot bohaai is nie, want dis dan net ‘n dier (dit is wat in ‘n hofsaak gebeur het waar daar honde gebruik was vir gevegte, die beskuldigdes het vóór die regter die aanklaers gedryg deur te wys hulle gaan hulle nekke afsny & die regter het dit alles geïgnoreer en die mans vrygelaat met ‘n waarskuwing.) Wat kan ons as ‘n gemeenskap doen om die diere te help deur behoorlike regsprosedures in plek te kry vir hierdie diere? Dit help nie om maar net elke keer wonde skoon te maak en medisyne te gee nie, want dit keer nie dat dit met nóg ‘n dier gaan gebeur nie. Party mense het nou maar net nie respek vir ‘n lewe nie, dis mos “net ‘n dier”…????

Adam ·

Dink net hoe goed dit sou gaan as mense so uitgereik het na ander mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.