Zulu moet trekpas kry ná hofuitspraak oor kleuterskole – DA

(Foto: Maroela Media)

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, moet die trekpas kry.

Só het die DA Maandag gesê nadat die Pretoriase hooggeregshof bevind het private kleuterskole wat aan die nodige gesondheidsprotokol voldoen, mag heropen.

Kleuterskole is nou al maande lank gesluit ná die Covid-19-uitbreking en die gevolglike staat van landwye inperking. Terwyl skole wat by die departement van basiese onderwys geregistreer is hul bedrywighede kon hervat, moes sentrums vir vroeë kinderontwikkeling steeds gesluit bly, selfs al het miljoene ouers reeds teruggekeer werk toe met geen veilige dagsorghawe vir hul kleuters nie.

Zulu het weke lank voete gesleep met die datum vir die heropening van die sentrums. Die hof het Maandag uitsluitsel oor die kwessie gegee nadat Solidariteit se gilde vir maatskaplike werkers en die Skoleondersteuningsentrum die minister hof toe gesleep het oor die kwessie.

Regter Hans Fabricius het Zulu en haar departement geroskam, onder meer omdat hulle nie die nodige verklarings ingedien het nie.

“Die gedrag van die eerste respondent [Zulu] in die verrigtinge is veel laer as die standaard wat kan en moet verwag word in dié uiters belangrike verrigtinge wat handel oor jong en kwesbare kinders. Ek moet my ernstige afkeuring te kenne gee.

“Was dit nie vir die belang van jong kinders nie, het ek korte mette van al die ontoelaatbare bewyse gemaak,” het Fabricius in sy uitspraak gesê.

Die regter het die departement ook beveel om die koste van die aansoek te betaal.

Alexandra Abrahams, ʼn DA-lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, het gesê Zulu se onbevoegdheid en onwilligheid om met die bedryf te vergader het die sektor in ʼn krisis gedompel.

“Weens die minister se ewig veranderende doelwitte om die opening van die bedryf te vertraag, moes talle vroeëkinderontwikkelingsentrums hul deure permanent sluit en die kinders na wie hulle omgesien het, het nou geen heenkome nie,” het Abrahams gesê.

“Die minister het so min agting vir die bedryf en die kinders wat dit bevoordeel, dat sy nie eens ʼn beantwoordende verklaring ingedien het nie.”

Abrahams het gesê Zulu se optrede is ʼn voorbeeld van ministers wat hulself as verhewe bo die reg beskou. Volgens haar benadruk dit ook die behoefte aan ʼn oorsigkomitee oor die nasionale koronavirus-bevelsraad om die inwerkingstelling van irrasionele regulasies wat onnodige pyn en lyding veroorsaak, te verhoed.

Die DA sê dit is hoog tyd dat pres. Cyril Ramaphosa sy ministers vasvat. Boonop wys Zulu se optrede – van haar mislukkings met die uitbetaal van Sassa-toelae tot haar vrotsige hantering van die heropening van vroeëkinderontwikkelingsentrums – dat sy onbevoeg is om só ʼn belangrike portefeulje te hanteer.

Die departement het in ʼn kort verklaring gesê hy “neem kennis” van die hofuitspraak en dat hy verder kommentaar sal lewer sodra hy dit behoorlik bestudeer het.

Talle ouers en kleuterskoolhoofde het intussen ook die uitspraak verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

1. Ontslaan haar as minister;
2. Laat sy die hofkoste uit haar eie sak betaal.
3. Die President moet in sy prestasie ooreenkoms met ministers bepaal dat onnodige hofsake ‘n rede is om sodanige minister te ontslaan.

Jaco ·

kleuterskole is ‘n wit ding. in swart gemeenskappe is daar gewoonlik’n ouma, tante of ouer kind wat na die klein kindertjies kyk. So hierdie hele toehou van kleuterskole is net nog ‘n manier om wit besighede te laat swaarkry en te laat bankrot speel. Dieselfde aksie is aan die gang teen restaurant.
Dis alles goed en wel. Ramaphosa het reeds gese die lockdown toon finaal hoe ongelyk en “wit beheerd” ons ekonomie nog steeds is. So ja, dis seker maar reg om wit besighede te “straf” vir apartheid. Wat ek net oor wonder is wat gebeur met die swart mense wat vir daardie tans toe en bankrot besighede gewerk het. Hulle het tog niks verkeerd gedoen nie. So waarom word hulle met werkloosheid gestraf? UIF gaan nie vir ewig aanhou nie. Die R350 grants gaan ook iewers stop. So wat dan gemaak met “our people”?

katerinadiekat ·

Dis nou maar hulle probleem. Hulle bly ANC stem, totdat hul ophou daarmee kan niemand hulle help nie.

Anel ·

Steek almal bo 65 in due pad. Staatsamptenare tree tussen 60 en 65 jaar af. So, steek die hele ouetehuis un die pad. Hoeveel geld wil hulle nog bymekaar mask op hulle ouderdom? Het geen idee wat hulle doen nie. En hulle kan niks saamvat as hulle by hulle voorvaders aan sluit nie. So bly daar is darem nog regters wat nie bang is om te sê wat reg en verkeerd is nie. Baie bly vir die kleuterskole dat hulle weer inkomste kan verdien en vir die kinders wat na hul maatjies en jufrouens verlang het.

Cherokee ·

So heftig soos ek teen die DA gekant is, kan ek geen sin maak uit jou aanval op hulle oor ‘n realistiese aksie, nie.

christo ·

Daar sal geen optrede teenoor van die President wees nie. Sy een van van Ramaphosa se gunsteling ministers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.