Zulu oorwin nog ’n terugslag

Zulu het al menigte hindernisse oorkom (Foto: Verskaf)

Zulu, die geliefde perd wat bekend geword het nadat hy wonderbaarlik by die dood omgedraai het, het ʼn terugslag beleef, maar weereens sy vegtersgees bewys.

“Toe Zulu Sondag nie wou opstaan nie, het ek besef daar is fout,” vertel Veronica van Greunen, ’n inspekteur by die Wetnose-dierereddingskuiling in Bronkhorstspruit waar Zulu vanaf einde Junie woon.

Volgens Van Greunen het Zulu Sondagoggend net bly lê en werknemers van Wetnose het ’n spanpoging aangewend om hom op sy voete te kry. Sy bene was bewerig en die personeel het hom regop probeer hou.

Daar is nog nie ’n presiese rede vasgestel vir die onverwagte wending in Zulu se gesondheid nie. “Zulu se terugslag is vir ons baie vreemd, want hy het vir my heel gelukkig en gesond gelyk. Die veearts was ook heel tevrede met sy bloedtoetse,” sê Van Greunen.

Toe Van Greunen vanoggend by Zulu ingeloer het, het hy egter reeds baie beter gelyk. “Hy het weer ’n wil om te lewe,” sê sy.

Van Greunen is van mening dat Zulu moontlik ʼn emosionele terugslag ervaar het as gevolg van die mishandeling, verwaarlosing en algemene trauma wat hy moes deurmaak.

Maroela Media het vroeër berig Zulu is einde Junie langs ’n grondpad oos van Pretoria vir die dood agtergelaat. ’n Plaaslike inwoner het gesien hoe sy eienaars hom van ’n sleepwa aftrek, langs die pad los en wegjaag, met ’n tweede perd steeds aan die sleepwa vasgemaak.

“Zulu is van die sleepwa afgetrek en oor die teerpad tot op die grondpad gesleep. Hy het in die proses baie wonde opgedoen,” verduidelik Van Greunen. Die wonde is onmiddellik na die voorval behandel, maar het twee dae daarna weer oopgegaan.

“Ek kan sien hy het nog steeds seer, want hy maak ’n kreungeluid as ons die wonde probeer behandel.”

Sowat twee weke na die voorval is Van Greunen egter meer positief as ooit oor Zulu se toekoms en sê die hings is ’n vegter wat menigte hindernisse al oorkom het. Zulu het al volkome herstel van die koliek wat hy aan die begin van die maand opgedoen het. Die swelling op sy bene het ook al begin sak en sy hoewe is behandel, wat hom in staat stel om makliker te loop.

Zulu hou baie van eet (Foto: Verskaf)

“Ons monitor hom daagliks. Hy volg ’n streng dieet en die veearts behandel hom op ’n daaglikse basis. Hy word omvou met liefde en omgee,” sê Van Greunen.

Alhoewel daar alreeds baie belangstelling is, sal Zulu eers vir aanneming beskikbaar gestel word sodra hy fisiek en emosioneel gereed is. “Ons wil ook nie in dié stadium hê dat te veel mense vir Zulu besoek nie omdat hy ʼn bietjie deur ’n moeilike tyd gaan,” sê Van Greunen.

Luidens ’n vorige berig het Wetnose inligting ontvang oor die man en vrou wat vermoedelik vir  Zulu langs die pad gelos het, maar dié inligting is nie genoeg om die paar te identifiseer nie. ’n Beloning van R25 000 is ook uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die vervolging van die eienaars.

Nuwe inligting is intussen ontvang dat twee kinders, tussen tien en twaalf jaar oud, ook in dié voertuig was. Hulle was na bewering op pad van Cullinan na Pretoria toe hulle vir Zulu langs die pad afgelaai het.

Besoek Wetnose se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

waarheid ·

Ek hoop die mense wat die arme dier so mishandel het word gevang!!!

dalene ·

Vreeslik dankie vir die updates op Zulu. Dink so baie aan hom.

kraai ·

Mooi Zulu!!!! Hulle moet die mense wat dit aan Zulu gedoen het, vir my bring. ek sal weet wat om te doen, Hulle sal smeek vir genade

Poppie ·

Ek hoop regtig daar word opgetree teenoor die mense wat vir Zulu vir dood agtergelaat het. Geen normale mens doen dit nie. Ek dink almal is ook bekommerd oor die ander perd wat op die sleepwa was. As een so lyk en mishandel word, is dit duidelik dat die ander perd ook dieselfde behandeling gaan kry. Vir my is diere en babas wat mishandel word, een van die ergste misdrywe, want hul kan nie sê wie dit gedoen het en waar hul seer het nie. Dit maak my skoon skuins bedinges as ek sulke goed lees.

SUSAN ·

As Zulu so lyk wonder ek hoe lyk die ander perd wat op die sleepwa gebly het.

Onnie ·

Zulu is die gelukkige een om van die sleepwa af te gegooi is, ek bekommer my dood oor die welstand van die ander perd wat nog in die hande van “monsters” is.

Jean ·

So leer die wreedarts hulle kinders dis okay om diere te mishandel…Hoekom het julle diere??! mag julle nie wegkom nie! Show no mercy and expect NO mercy!

JohanL ·

Kry vir Leon Rossouw – met selfoon tegnologie sal hy sommer gou ‘n paar potensiele mense in daardie plek plaas op daardie tyd. Meeste mense het mos selfone by hulle deesdae.

Korreleer dit met voertuie en wie weet wat daaruit kan kom?

Ronel ·

Ag asseblief, kan iemand nie na vore kom met die name van die skuldiges nie? Vriende het tog seker hierdie perd by vriende gesien, ek het so gehoop dat die groot beloning mense sal laat praat!

toy ·

Hulle gaan eendag rekenskap gee hoekom hulle vir Zulu so behandel het. Was hulle so behandel as kinders of wat, ek verstaan hoe party mense se koppe werk nie.

Anton Esterhuizen ·

Ek is bly Zulu vorder mooi aan! Ek vertrou hy sterk mooi en aan!

KP ·

Kry vir Shonelle Deolall van Johannesburg sy is n diere-kommunikeerder dalk kan sy help. Het haar op Facebook opgespoor.

Lindie du Plessis ·

Hier is ‘n goeie gesinsfilm in wording, registreer solank die filmregte, want ons soek almal ‘n storie waar die onmoontlike oorwin word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.