Zulu was nie sy gewone self nie, sê ekspedisie-dokter

Gugu Zulu en sy vrou, Letshego (Foto: Gugu Zulu, Facebook)

Gugu Zulu en sy vrou, Letshego (Foto: Gugu Zulu, Facebook)

Die renjaer Gugu Zulu, wat op Kilimandjaro in Tanzanië gesterf het, het ʼn paar dae voor die ekspedisie gekla oor ʼn seer keel, het die span se mediese dokter, Roxanne Schutte, Woensdag gesê.

“Ons was Donderdagoggend by die hotel toe hy vir my gesê het sy keel is krapperig. Ek het vir hom gesê hy moet ʼn suigtablet en bietjie vitamine C inneem sodat ons kan kyk of ons dit nie vinnig kan oplos nie,” het sy tydens ʼn perskonferensie by die Nelson Mandela-stigting by OR Tambo Internasionale Lughawe gesê. “Toe ons begin loop het, het ek hom die aand gevra hoe hy voel, en hy het gesê die suigtablette werk en hy voel oukei.”

Die 40 klimmers het Woensdagaand by die lughawe geland nadat hulle van Tanzanië teruggekeer het. Die groep was deel van ʼn ekspedisie, Trek4Mandela om geld in te samel vir hoërskoolmeisies.

Schutte het gesê Zulu het niks die volgende dag vir haar gesê nie. Die volgende aand het hy gekla sy sinusse is seer. “Zulu het bietjie af gevoel,” het sy gesê. “Ek het sinusmedisyne by my gehad en dit saam met pynstillers vir hom gegee. Ek het vir hom gesê ek sal die volgende oggend weer kom hoor hoe dit gaan. Hy was nie sy gewone vrolike self nie. Ek kon sien hy sukkel.”

“Hy het Sondag gesê as ek vir hom iets vir energie gee, sal hy die kruin kan bereik. Ek het voorgestel dat ons hom op ʼn drup plaas met energie-aanvullings en anti-oksidante, en dan sal ek weer kom kyk of hy reg gaan wees om te klim.”

Sy is ʼn uur later ontbied nadat Zulu vomeer het. Hy het gesê hy voel naar. Sy het vir hom medisyne daarvoor gegee en gesê hy moet rus vir die klim.

“Dit was Sondag, die aand wat ons die kruin bereik. Ek het omstreeks 20:00 gehoor iemand skree en gil. Ek was in die kamer langs Gugu, en ek het opgestaan en na hom toe gegaan. Hy het gesukkel om asem te haal. Hy het sy bewussyn verloor, maar ʼn sterk pols gehad. Ek het geroep dat iemand ʼn draagbaar moet bring sodat ons hom hospitaal toe kan neem.”

Zulu was kritiek, maar stabiel, toe hy na die hospitaal geneem is. Schutte het gesê sy het verwag hy sal beter voel sodra hy ʼn laer hoogte bereik. “Sodra mens af beweeg, voel mens gewoonlik beter, en dit is wat ek verwag het. Toe ons die volgende dag van Gugu se afsterwe hoor, was ons almal geskok. Hy was nie siek nie. Hy het geringe simptome gehad wat meeste mense in die groep gehad het weens die hoë hoogte – ʼn krapperige keel, toe neus… Ons het kilometers ver op stowwerige paaie geloop, dit was te wagte.”

Schutte het gesê die nadoodse ondersoek sal die ware oorsaak van sy dood bekend maak. “Enigiets anders is nou blote spekulasie.”

Sibusio Vilane, ervare bergklimmer wat die ekspedisie gelei het, het Woensdag in trane uitgebars toe hy oor die reis gepraat het. Hy het om verskoning gevra en gesê hy het vir die 41 klimmers en hul families beloof hy gaan hulle veilig terugbring.

Vilane het al 19 ekspedisies na Kilimandjaro gelei. Hy het gesê hy het nooit gedink só tragedie sal gebeur nie, alhoewel daar risiko’s is om die berg te klim.

Zulu (38) was ʼn veteraan renjaer en televisie-aanbieder, wat liefdevol bekend gestaan het as “the fastest brother in Africa”. Sy vrou, Letshego Zulu, ook ʼn avonturier en fiksheidsentoesias, was deel van die ekspedisie.

Zulu word oorleef deur Letshego en hul eenjarige dogtertjie.

Lees alle vorige berigte oor Gugu Zulu op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann ·

Fondsinsameling projek? Weet jy wat KOS so n uitstappie? En NADAT almal se karjakker betaal is…gaan die res vir?
Skuus, nie om van die hartseer van die afsterwe weg te vat nie, maar ek sou ook baie graag n hele paar naby absurdhede in my lewe wou doen onder die faandel van fondsinsameling en vir als betaal kry…

Maak nie saak ni ·

Duidelik het jy nie die hart van hierdie twee mense geken nie! Moet asb noe oordeel nie!

Fraçois ·

“Rest in peace, brother”. Het vir Gugu leer ken toe hy nog in Sasol kleure gejaag het & ekself by Sasol Brandstof Navorsing betrokke was.

snoefie ·

die
koste van die ekspidisie sou 350 000 lewenslank in saniteredoekies gehul het. di
e nelson Mandela stigting het hulleself oortref met die ene. ek hoop almal wie so gulhartige aan die nelson Mandela stigting gee, sien nou duidelik daarvoor hulle geld aabgewend word. VIVA!!!!

m ·

Hierdie man moes in die eerste instansie nie die berg gaan uitklim het nie want hy was duidelik nie gesond nie,

D. ·

Baie sterkte aan Gugu se familie en vriende. Dit was nogal ‘n skok om te hoor van sy afsterwe, maar ek stem saam met m. As mens so hoë berg uitklim en mens voel nie lekker nie, vat jy dit nie verder nie. Die lug is so dun daar bo, mens sukkel om asem te haal alreeds, en mens se longwande verswak en dit kan lei na vog op die longe, so dan verdrink jy eintlik.
Ek weet hy’t dit gedoen vir liefdadigheid, maar soms is jou eie lewe belangriker as die ander aan wie jy gedink het.

Bosbok ·

Ek het self ook n paar jaar terug Kilimanjaro uitgeklim – selfde roete as Gugu. n Paar dinge het nie vir my lekker sin gemaak nie. Hy het al op dag 2 gekla hy voel griepig ( twitter inskrywing) en dit is dan glad nog nie so hoog nie. ( Ek kon ook aflei hulle sou op dag 5 summit) Ek het vir my kollegas gesê ek dink nie dit is hoogte siekte alleen nie. Ek dink eerlikwaar ook nie dat hy verder moes stap nie. Hy moes eerder langer by die laer hut gebly het en stadiger gestap het om te kyk of hy beter voel as om n spul medisynes te gedrink het vir die griep simptome. Ek is bly hulle gaan n nadoodse ondersoek doen,

peanut ·

ongeag die omstandighede waaronder hy gestap het, en of hy moes voortgaan, al dan nie, sy motiewe was suiwer, want hy was n eerbare man, wat deur sy gesin, familie en vriende oneindig baie gemis gaan word.

Mag die Vader se Hand oor elkeen wees wat sy afsterwe betreur, net Hy weet hoekom Hy nou al vir Gugu nodig gehad het.

Johann ·

En ek vra weer: wat beloop die kostes vir so ‘n ” fondsinsamelings” projek? M.a.w wat is die R.O.I (return on investment) ? Behalwe die verwagte PR waarde wat die Mandela naam aan enige projek bied; hoekom juis so ‘n ekstreme “sport”? En ja; ek vra dit vanuit ondervinding en ervaring in CSI en CSR.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.