Zuma-akte wys omkoopgeld vir ‘politieke beskerming’

Voormalige pres. Jacob Zuma in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Durban (6 April 2018). Foto: ANA

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê daar was ʼn onwettige verhouding van “gemeenskaplike doel” tussen oudpres. Jacob Zuma, Schabir Shaik en die Franse wapenvervaardiger Thales om omkoopgeld te betaal en te aanvaar vir “politieke beskerming”.

Die akte van beskuldiging in die saak van die “Staat versus Jacob Gedleyihlekisa Zuma en Thales South Africa (Pty) Ltd” is deur die NVG bekend gemaak. Volgens die dokument van 89 bladsye staan Zuma tereg op een klag van rampokkery, twee van korrupsie, een van geldwassery en 12 van bedrog. Thales, wat deur Christine Guerrier verteenwoordig word, staan tereg op een klag van rampokkery, twee van korrupsie en een van geldwassery.

Zuma en Guerrier het Vrydag vlugtig in die Durbanse hooggeregshof verskyn waar die saak tot 8 Junie uitgestel is. Thales het voorheen bekend gestaan as Thint Holdings Southern Africa (Pty) Ltd en  Thomson-CSF Holdings Southern Africa (Pty) Ltd.

Volgens die akte van beskuldiging het Zuma tydens die beweerde omkopery “talle hoëprofiel-posisies in die provinsiale en nasionale uitvoerende gesag en in die ANC” beklee en wesenlik die vertroue en mag van sy posisie misbruik om homself te verryk.

Dit lui verder dat Zuma, Thales en Shaik en maatskappye van die Nkobi-groep (wat deur Shaik beheer is) ʼn gemeenskaplike doel gevorm het om Zuma om te koop deur ʼn reeks betalings van Shaik en die Nkobi-groep. Die verhouding het glo in Oktober 1995 tot stand gekom en tot Julie 2005 geduur waartydens 783 betalings van R4 072 499,85 gemaak is.

Die verhouding tussen Shaik en Zuma het glo in Februarie 1999 aan die lig gekom toe ʼn bedrag van R1 282 027,63 onreëlmatig afgeskryf is in Nkobi se boekhourekords. Verskeie betalings aan Zuma ten bedrae van R283 451,16 wat as ʼn lening aangedui word, is ingesluit by die bedrag.

Volgens die akte van beskuldiging is daar geen “wettige sakesin” aan die betalings nie en kon Shaik se maatskappye dit nie bekostig nie aangesien dit “oortrokke fasiliteite oorskry het en dus inderwaarheid geld by banke geleen het teen die heersende rentekoerse om die betalings rentevry te maak”.

Hoewel die skedule van die betalings as lenings beskou kan word, kom dit steeds op voordele neer aangesien dit rentevry verskaf is en sonder waarborg, lui die akte van beskuldiging. Zuma se vermoë om die geld terug te betaal was ook “ernstig twyfelagtig”.

Voormalige pres. Jacob Zuma en Christine Guerrier, ʼn verteenwoordiger van die Franse wapenvervaardiger Thales, in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Durban (6 April 2018). Skermskoot: SABC regstreekse uitsending

Daar word ook melding gemaak van Zuma wat in 1999 ingegryp het en Shaik, die Nkobi-groep en Thales bygestaan het om ʼn “dispuut op te los rakende Nkobi se deelname” in African Defence Systems (Pty) Ltd wat kort daarna ʼn multimiljardrand-kontrak van die staat ontvang het. Die kontrak was R1,3 miljard werd met R450 miljoen wat direk aan ADS betaal is en die res wat aan die subkontrakteurs gegaan het.

Volgens die akte van beskuldiging wys die ingryping op ʼn geval waar Nkobi bystand van Zuma gekry het om te oorleef en waar Thales verseker is van “goedkeuring” deur die adjunkpresident van die ANC vir hul keuse van ʼn Suid-Afrikaanse SEB-vennoot.

Onder ʼn afdeling genaamd “spesifieke korrupsie” in die akte van beskuldiging word beweer dat Thales, Shaik en Zuma tussen 1999 en 2000 saamgesweer het om Zuma “R500 000 per jaar in omkoopgeld te betaal in ruil vir Zuma se beskerming” van enige ondersoek.

Thales het glo van ʼn maatskappy in Mauritius gebruik gemaak om betalings aan Shaik se maatskappye te maak onder die dekmantel van ʼn “diensverskaffersooreenkoms” en die geld, nagenoeg R1 miljoen, is daarna na Zuma gekanaliseer.

Die hooggeregshof het tydens Vrydag se verskyning gehoor dat Zuma ʼn hersieningsaansoek sal indien rakende die besluit om hom te vervolg. Na gelang van die uitkoms hiervan kan Zuma aansoek doen dat vervolging permanent tersyde gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Apie ·

Hoekom kan zuma nog vry rondloop? Hy moes lankal toegesluit gewees het, soos n gewone man op straat. Wette geld vir hom ook!!

Casper Labuschagne ·

@apie – Zuma was toegesluit op Robbeneiland en vir lank ook. Die vraag wat ek myself al hoeveel keer afgevra het, is vir wat het ons ooit vir Zuma vrygelaat?

Eish ·

Dit, staatskaping, wydverspreide korrupsie, onetiese algemene optrede, nepotisme en blatante omkopery ens. laat n mens met die gevolgtrekking dat die uiteindelike doel van die sogenaamde ” struggle” slegs selfverryking was onder die dekmantel van bevryding. Die stemvee volg die elite klakkeloos.
Daar is nie weinig uit die stryd wat met n ongeskonde reputasie in die kwarteeu van die nuwe bedeling staan. Die Gordhan’s, Manual’s en moontlik Jeremy Cronin kan moontlik die uitsonderings wees.
Die misdadige gedrag het die reël geword waar dit voorheen die uitsondering was.

Siener van Melbourne ·

Eish ek het dit nog altyd gesê. Die ANC is nie n bevrydings organisasie nie, was nooit. Net n spul selverrykende boewe.

Cherokee ·

Dit blyk jy redeneer dat mense wat Umkhonto we Ziswe ondersteun het, lede van ‘n party was wat Umkhonto we Siswe finansieël gedra het en die moederparty daarvan was, dalk ‘met ongeskonde reputasie staan’. Teleurstellende woorde. Die Manuels, Cronins en Ghordhans was tevrede dat winkelbomme onskuldiges verwoes het, want hulle was lede van die hoofparty daartydens, en het sover bekend, hulself nie daarteen uitgespreek nie.

Whoopy ·

Ja wragtie die struggle vir GELYKE GELEENTHEDE is daar ook GEEN sien van nie. Eerstens het al die mense in die parlement en staatsdiens (hoe poste) en parastatals (hoe poste) hulleself verryk. Tweedens het BEE en EE En AA die einde van baie kleiner maatskappye en organisasies beteken. Derdens is die KWOTA stelsel alles behalwe GELYKE GELEENTHEDE. Jy kan nie se jy het vir vryheid gestruggle, as ons nou agter slot en grendel in ons huise moet sit nie, jy kan nie se jy het vir gelyke geleenthede gestruggle as jy na 24 jaar aandring op BEE en AA en EE nie. Jy kan nie se jy het vir vryheid om jou moedertaal te gebruik geveg as jy aandring daarop dat skole en Universiteit verengels nie .. hierdie hele storie oor VRYHEID en GELYKE GELEENTHEDE Is ‘n grap .. ons is nou meer ongelyk as ooit. En LAND (PLASE, GROND) is nog AL wat die regering het om stemme te kry en te behou . dit is die troefkaart ..daarsonder het hulle NIKS meer om te gee nie …

rollie ·

Hoe gaan die Engelse spreekwoord: “it takes two to tango” As Shabir Sheik aan korrupsie skuldig is as gevolg van sy korrupte verhouding met Zuma, dan moet Zuma ook skuldig wees. Dis tog logies.

Theresa B ·

The untouchables. Geen earlike haar op hul lywe nie. Maar kyk terug na wie se mond was die grootste.

Opel ·

Ai my liewe afrikaner volk. Ingesluit afriforum en afrikaner politieke partye en al die organisasies wat vir ons voortbestaan veg. Gaan kyk asb op google na “the basic principles of psychological war fare” asb dit sal 5 min neem en enige iemand wat die nuus in sa volg sal dit daarmee kan vergelyk. Moet asb nie weer sinnelose kommentaar op al hierdie berigte plaas nie want ons sweep mekaar net op en help hulle om vinniger hulle doelwit te bereik. Asb gaan lees dit!

Theresa ·

Goed opgesom. But, it does take 2 to tango en so ‘n “oorlog” kan na albei kante gevoer word. Op hierdie stadium is dit eenkantig.

honourable member ·

Hy sal soos gewoonlik niks oorkom nie. Onthou nou net hy was nie alleen in al hierdie korrupsie en al wat hy hoef te doen is om te begin sing soos n kanarie dan gaan n hele paar helde val.

humor ·

Ai tog, ek dink opel was nog nooit van die beste motors nie.

Rynhardt ·

Zuma moes dadelik vervolg gewees het.Sy uitstel van saak oor twee maande was n groot fout!Daar is oorgenoeg bewyse om hom agter tralies te plaas.Sekere media instellings vra reeds:”What is Jacob Zuma up to?” Hul vermoed onraad.Verder word daar beklemtoon dat Zuma n verskriklike woede in hom het teenoor Ramaphosa.Zuma en sy volgelinge voel hy is in die rug gesteek deur Ramaphosa en die Anc!Een ding is duidelik, dat dit n nare kant navore gaan bring,want daar is twee woedende,erg verdeelde groepe in Anc!Die een groep voel geregtigheid het nie geskied teenoor Zuma nie!????

Wolf ·

Whoopy en Opel, dankie tog vir julle observasies. Julle is natuurlik reg met wat julle se. Ek wens net die verregse swart politieke party wat mense vanaf podiums opsteek se leier word in die bek geruk.

At ·

Is die k-woord regverdig?? Is die SAkaanse “reg”stelsel regverdig? Gaan Zuma vrygespreek word? Kies die regte antwoord….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.