Zuma: ‘ANC beweeg SA vorentoe’

Foto: @AbramLuruli/Twitter

Foto: @AbramLuruli/Twitter

President Jacob Zuma het Sondag duisende ANC-ondersteuners by die ENB-stadion in Soweto toegespreek waar die party sy laaste verkiesingsbyeenkoms gehou het.

Zuma het sy toespraak begin deur te sê die ANC het ʼn opwindende en dinamiese verkiesingsveldtog gehad en dat die party gereed is om Suid-Afrika vorentoe te beweeg. “Die mense het aan ons gesê dat Suid-Afrika ʼn baie beter plek is om in te leef as wat dit voor 1994 was, danksy die programme en beleide van die ANC.” Zuma sê wel daar is ook areas van kommer geïdentifiseer.

Hy het ook omvattend verwys na alles wat die ANC volgens hom die afgelope vyf jaar bereik het. Zuma het onder meer daarop gewys dat die ANC as deel van armoedeverligting, aan meer as 11 miljoen kinders toelaes verskaf.

Zuma het daarop gewys dat ekonomiese transformasie ʼn sleutelprioriteit sal wees in die volgende administrasie. “Ons sal die uitvoering van die bepalings van die nuwe Wetsontwerp op Gelyke Indiensneming en die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging versterk. Suksesvolle implementering sal meer geleenthede vir swart, Indiër en bruin mense sowel as vroue, die jeug en persone met gestremdheid daarstel, soos ons voortgaan om die erfenis van apartheid om te keer.”

Volgens Zuma sal die ANC ses miljoen werksgeleenthede oor die volgende vyf jaar skep. “In die afgelope vyf jaar, sedert 2009, het ons 3,9 miljoen werksgeleenthede deur die openbare werke-program geskep. Ons doelwit was 4 miljoen.”

Zuma sê die grondhervormingsprogram sal ook vorentoe beweeg. “Nagenoeg 5 000 plase van 4,2 miljoen hektaar is aan swart mense oorgedra ten bate van meer as 200 000 gesinne. Ons beklemtoon ons onderneming om die oorblywende grondeise wat voor die afsnydatum van 1998 ingedien is, vinnig af te handel.”

Volgens Zuma is die ANC die tuiste van alle progressiewe Suid-Afrikaners. “Ons doen ʼn beroep op ons meer as 1,2 miljoen lede sowel as ANC-vrywilligers en ondersteuners om seker te maak dat daar in elke dorp en stad miljoene van ons mense na die kiesstasies gaan waar hulle geregistreer is om te stem op 7 Mei.”

“Kom ons stem vir die beweging van Nelson Mandela, Oliver Tambo, Walter Sisulu, Chris Hani, Solomon Mahlangu, HarryGwala, Mitta Siperepere, Dorothy Nyembe, Ruth First, Billy Nair, Braam Fischer, Reg September en ʼn magdom ander beroemde leiers. Die ANC leef, die ANC lei,” het Zuma afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

desmond ·

Dis net wanneer die verkiesing naby is wat ons van die ANC verlei word asof ons nie die land se eerste burgers was nie. Khoisan,kleurlinge maak julle oe oop want ons is eerste burgers van die land die ander nasie is in kommers stem vir n party wat saak maak en iets beteken. Maak julle oe oop en los die wat julle met julle harte iets doen,doen met jou kop dis die regte ding om te doen. Trek jou kruisie op die regte plek.

Grassie ·

Die Pres is reg, hy en sy party is besig om S A vorentoe te beweeg – soos ‘n groot vragmotor sonder remme teen ‘n steil afdraende af met ‘n helse spoed en ‘n baie diep afgrond voor. Daar is nie meer omdraaikans nie, net ellende wat voorlê. Die infrastruktuur van die land, ekonomie, gesondheidsdienste, onderwys, polisiediens, weermag, diensverskaffing aan bewoners, staatsdiensadministrasie, landbou, in kort alles wat die burgers van ‘n land nodig het om te bestaan is onomkeerbaar verwoes deur onbevoegdheid en korrupsie. Dit is blykbaar aanvaarbaar vir die gepeupel want hulle gaan weer vir hom stem. Trieste, Suid-Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.