Zuma appelleer teen besluit dat hy nié NDOV mag aanstel

Pres. Jacob Zuma spreek die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) toe (9 November 2017). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma het Donderdag ʼn aansoek om verlof tot appèl by die konstitusionele hof ingedien teen die Noord-Gautengse hooggeregshof se besluit dat Cyril Ramaphosa, nuwe partyleier van die ANC, ʼn nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) moet aanstel.

Dit volg nadat regter Dunstan Mlambo vroeg in Desember verlede jaar beslis het dat Shaun Abrahams se aanstelling as NDOV onwettig was en ter syde gestel moet word. Mlambo het beveel dat Zuma nié die aanstelling mag maak nie en verder vir Ramaphosa 60 dae gegee om ʼn NDOV te kies.

Die hof het onder meer aangevoer dat Zuma nié die aanstelling kan maak nie omdat daar ʼn botsing van belange sou wees aangesien die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die 783 aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery teen hom moet ondersoek.

Zuma het in sy appèl gesê die hof was foutief in sy uitspraak om die mag van hom te ontneem om ʼn NDOV aan te stel terwyl hy steeds ander funksies as president van die land mag uitvoer. Hy het ook gesê die hof was verkeerd in sy uitspraak om te sê dat die land “twee presidente tegelykertyd kan hê wat saam presidensiële magte uitoefen”.

Mlambo se uitspraak volg nadat burgerlike organisasies vroeër die hof genader het om ʼn goue handdruk van R17 miljoen wat Mxolisi Nxasana, Abrahams se voorganger, in 2015 ontvang het onwettig te laat verklaar.

Zuma het in Junie 2015 ʼn skikkingsooreenkoms met Nxasana bereik waarvolgens Nxasana sy posisie as NDOV op 1 Junie 2015 sou verlaat.

Die ooreenkoms het gevolg ná ʼn tien maande lange struweling tussen Zuma en Nxasana. Die struweling het in 2014 begin toe Zuma ’n ondersoek aangevra het om te bepaal of Nxasana bevoeg is om sy amp te beklee. Dié stap het gevolg nadat dit aan die lig gekom het dat Nxasana versuim het om vorige botsings met die reg te verklaar, onder meer ʼn aanklag van moord in die 1980’s waarop hy vrygespreek is.

Abrahams is kort ná Nxasana se bedanking in 2015 as die nuwe hoof van die NVG aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hennie ·

Ek is geensins verbaas nie. Hy sal enige iets doen om vertragings taktiek toe te pas.

Pieter van Niekerk ·

Diegene wat nie die skrif teen die muur kan lees nie is blind.

snoefie ·

wie gaan dit betaal. regdeur sy ampstermyn, was dit een uitgerekte hofsaak na n ander. waarvan hy geen koste uit eie sak betaal het nie.

Cherokee ·

As Ramaphosa hom nie nou die trekpas gee nie, hou Zuma hulle defnislis skaakmat met ander inligting wat hy kan bekend maak of iets van die aard.

Theresa B ·

Ek stem saam met julle. Kon dit nie beter gestel het nie. Amazing is die arrogansie!!

Grassie ·

Zuma keer nog steeds vir sy eie bas. Hy het die afgelope agt jaar nog nooit probeer bewys dat hy onskuldig is nie. Hy het Nxasana se stilswye met 17 miljoen rand (belastinggeld) gekoop en daarna vir Abrahams daar geplaas (onwettig volgens die hooggeregshof) om net te swyg. Daarna het hy talle hofsake en appelle (met belastinggeld) gevoer om te verhoed dat hy in die hof beland. Hy weet as hy ooit in die beskuldigdebank beland is sy doppie geklink. Hierdie appél waarmee hy nou besig is se doel is bloot om die beslissing dat Ramaphosa ‘n openbare vervolger aanstel vir ‘n tyd lank op die ys te plaas. Hy koop tyd.

Anoniem ·

Dis mos maklik. Fire Zuma, dan is daar net een president oor.

Genieve ·

2Kapteine op n skip het nog nooit gwerk nie ek kan nie dink hoe die regering sukkel om Zuma uit se pos te verwyder nie daar is so n groot wolk oor sy kop maar hy kom weg met alles.

humor ·

Dis reg, die skrif is aan die muur. Gee kans die leuen hardloop stadiger as die waarheid. Hy is besig om vas te draai en is opsigtelik benoud.

Veritas ·

Die oukêrel is te slim vir almal wat al 8 jaar lank poog om hom in ‘n tronk te kry. Net soos Robert Mugabe, gaan hy met ‘n diamanthanddruk en vrywaring teen vervolging, aftree. Hy het ‘n houvas op elkeen wat in die posisie is om hom uit te skop. Cyril inkluis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.