‘Zuma-bondgenoot’ onttrek aan staatskapingondersoek

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Comfort Ngidi, wat volgens berigte ʼn bondgenoot van voormalige pres. Jacob Zuma is, het Dinsdag sy kandidaatskap vir die kommissie van ondersoek na staatskaping se regs- en ondersoekspanne onttrek.

Mail & Guardian het Vrydag berig Ngidi, ʼn praktiserende prokureur, het die veldtog gelei om voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela se Nkandla-verslag te diskrediteer. Ngidi was op die punt om aangestel te word om die bewyse te assesseer wat aan die kommissie, wat deur adjunkhoofregter Raymond Zondo gelei word, voorgelê is.

Volgens die koerant was Ngidi die voorsitter van ʼn organisasie genaamd The Concerned Lawyers and Educationists for Equality before the Law, wat probeer het om die bevindings van Madonsela se Nkandla-verslag te betwis. Die verdoemende verslag het gewys hoe Zuma voordeel getrek het uit die opgraderings van R246 miljoen by sy Nkandla-woning.

Die groep het probeer bewys dat daar “ooglopende foute, onakkuraathede en teenstrydighede” in die Nkandla-verslag was en het saam met Mzwanele Manyi, ʼn voormalige bondgenoot van die Guptas, gewerk tydens hul veldtog.

Madonsela het Sondag getwiet dat Ngidi se organisasie nie net probeer het om haar Nkandla-verslag te betwis nie, maar ook om haar van die advokaatrol te laat skrap. “Hierdie organisasie het talle meer aanvalle teen my kantoor van stapel gestuur bloot omdat ons ons werk deeglik gedoen het. Hulle wou my selfs van die rol vir advokate laat skrap net omdat ek my werk rakende Nkandla met etiese oorwegings en die bindende magte van die openbare beskermer gedoen het,” het sy gesê.

Mense kyk op ‘n skerm na die getuienis van voormalige ANC-LP Vytjie Mentor voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Karen Sandison/African News Agency

Mbuyiselo Stemela, woordvoerder vir die staatskapingkommissie, het Dinsdag gesê Ngidi het aangevoer sy onttrekking aan die staatskapingondersoek is weens tydbeperkings. “Die redes wat deur mnr. Ngidi verskaf is vir die terugtrekking van sy versoek sluit in dat die kommissie veronderstel was om binne ses maande sy werk af te handel toe hy die versoek gemaak het. Daar is egter nou gesê die kommissie sal 24 maande nodig hê en hy sal nie vir so lank beskikbaar wees nie,” het Stemela in ʼn verklaring gesê.

Die kommissie van ondersoek na staatskaping ondersoek bewerings dat die Gupta-familie en hul sakevennote vir Zuma, regeringsbeamptes en hoofde van staatsinstansies onbehoorlik beïnvloed het.

Die ondersoek spruit uit Madonsela se staatskapingverslag waarin talle regeringsbeamptes, kabinetministers en hoofde van staatsinstansies by die bewerings betrek word. Die verslag het getoon dat die Guptas R6 miljoen gemaak het uit twyfelagtige staatskontrakte en glo beplan het om dié inkomste tot R8 miljoen te verhoog.

Daar word ook beweer dat Mcebisi Jonas en Vytjie Mentor omkoopgeld aangebied is om ministerposte te aanvaar en dan vanuit dié posisies die Guptas se opdragte uit te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Thinus Oosthuizen ·

Adjunk-hoofregter Zondo moet hom ook rekuseer, want in CC 144/2013 het die Konstitusionelehof, n gratifikasie aan die staat gemaak en ingemeng met n regsproses wat gelei het tot hulle dagvaarding voor die OGT, wat hulle hooflandros, Dr. A.A. Lamprecht die SAPS opdrag gegee het, Kol. Matabula en die Valke van Nelspruit om te vernietig ,Kapt Bruwer!

Pieterd ·

Thinus, ek het jou bydrae meer as een keer gelees, maar kan nie sin daarvan maak nie. ‘n Klomp name. Inmenging. Vernietiging (van wat?) Wat presies sê jy?
Moet sulke ernstige oortredings nie by die kommissie aangemeld word nie?

ne ·

Ek dink julle bedrae lees foutief as miljoene, dink dit moet miljard wees….

marous ·

Groter klug as die wvk twak ! Val en val vining verotte land !

Neutraal ·

Grens hierdie gemors nie eerder aan hoogverraad nie?? Ek kan al meer verstaan waarom doodstraf afgeskaf is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.