Zuma bring voorwaardelike aansoek oor hersiening van Madonsela-verslag

Pres. Jacob Zuma (31 Mei 2017) Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Pres. Jacob Zuma het ʼn voorwaardelike teenaansoek gebring teen die DA se aansoek in die Pretoriase hooggeregshof vir ʼn bevel dat hy die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela se opdrag, om staatskaping te ondersoek, geïgnoreer het.

Zuma se aansoek is voorwaardelik omdat dit net van toepassing sal wees indien die hof, soos die DA beweer, oorweeg dat sy regsuitdaging van Madonsela se verslag nie die noodsaaklikheid van regstellende optrede verhoed nie.

Madonsela het opdrag gegee dat ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aangestel moet word om haar bevindings te ondersoek, maar Zuma staan dit teen op die gronde dat haar opdrag, dat die hoof van die ondersoek deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangestel moet word, inmeng met sy presidensiële mag om die regter aan te stel wat dié ondersoek moet lei.

Die DA voer aan die enigste manier dat die president regmatig nie haar opdrag kan nakom nie hangende die hersiening, is dat ʼn aansoek gebring moet word vir ʼn tussentydse hofbevel wat die implementering daarvan opskort.

Die party het ook die hof versoek om hom te beveel om haar verslag na te kom en dat ʼn ondersoek moet voortgaan.

“Pres. Jacob Zuma het vandag, 12 Junie 2017, ʼn voorwaardelike teenaansoek gebring in die saak van die DA teen die president van die Republiek van Suid-Afrika en nog ʼn party,” het Zuma se kantoor gesê.

Volgens Zuma se regsadvies, teenstrydig met die DA se aansoek, mag hy nie Madonsela se bevindings en regstellende aksie nakom nie, indien daar rede is om die akkuraatheid daarvan in twyfel te trek nie. Sy prokureurs het verder aangeraai dat, indien hy in hierdie stadium daaraan sou voldoen, sou die hersieningsaansoek akademies van aard wees.

Indien die hof egter bevind dat die hersieningsaansoek nie outomaties die implementering van Madonsela se verslag intussen opskort nie, versoek hy dat dit opgeskort word.

“Die president is aangeraai om ʼn voorwaardelike aansoek te bring, sodat die ware dispuut in die hersieningsaansoek die volle aandag van die hof geniet en dat verdere uitstel verhoed word.”

Die hersiening is geskeduleer vir die middel van September.

Die DA versoek intussen ander politieke partye om hulle te ondersteun dat ʼn ad hoc-komitee in die parlement aangestel moet word om alle bewerings van die Gupta-familie se invloed oor die president, minister en openbare ondernemings ondersoek moet word.

Madonsela se verslag is in November vrygestel. Sy het bevind daar is aanduidings dat die familie die president se besluite wou beïnvloed en dat hulle, deur noue bande met onder andere die voormalige hoof van Eskom, Brian Molefe, winsgewende kontrakte met die staat bekom het.

Zuma het geweier om op Madonsela se vrae te reageer toe sy ʼn onderhoud met hom wou voer tydens haar ondersoek.

E-posse van persone wat met die Gupta-familie verbind word, het die afgelope paar weke uitgelek en het verdere bewerings van omvattende staatskaping tussen die familie en regeringsmaatskappye aan die lig gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

al ·

Hy het dan ñ ruk terug vol bravade gesê staatskaping kan ondersoek word, nou hoe loop hy dan terug op sy woord? Dis juis noù wat hy sy naam in ere kan herstel.

Petro ·

As hy dan nou weet sy hande is so skoon hoekom dan nog verder geld mors of begin hy nou bang raak

johan ·

wag tot alles uit die land is en dan sal die kommissie werk. maar dan is hy met sy biljoene uit die land en ons mense sit 50 jaar om alles weer regtemaak . so daaris n lig in die tonnel wees net geduldig mense

Dries ·

Uit die land met biljoene en die Zuma straler wat seker deel van die pakket sal wees

humor ·

Die arme man kan nie sy presidentsiele verantwoordelikheid nakom nie. Nie alleen omdat hy onbevoeg daartoe is nie, maar die meeste van die tyd is hy besig met benoude spronge en onderhoude met sy prokureers.

snoefie ·

as hy onskuldig was, sou dit glad nie saak gemaak het wie die kommissie van ondersoek saamstel if wie n regter aanwys nie. in die geval spreek sy optrede harder as wat n heerlike ondersoekspan dit kon doen.

Anoniem ·

Thuli se verslag is akkuraat. Dalk nie volledig nie, maar wel akkuraat.

Leendert ·

Hichael Hulley, Zuma se prokureur en raadgewer, moet saam met Zuma van hoogverraad aangekla word. Hy is deels, grotendeels, verantwoordelik vir die eierdanse van Zuma rondom sy korrupsie en Madonsella se bevindinge in haar verslag.

Sy aandeel in die sage kry eenvoudig net te min aandag, hope te min. Komaan ondersoekende joernaliste, waar is julle?

Zirk ·

Ek beaam wat Leendert sê en wil byvoeg dat as Zuma glo sy gedrag is onkreukbaar skoon, sal hy vanaf dag een ALLE landswette asook die GRONDWET gehoorsaam en voorop stel as voorbeeld vir sy landgenote. Nou is daar 783 klagtes teen hom waarvan daar sekerlik kriminele klagtes sal by wees. Watse kaliber landsleier het ons dan.? Hy “duck and dive” vanaf die begin van sy wagbeurt.!

Magda ·

Wie gaan dit nou ondersoek – die NUWE OB?? zuma bedank net asb en stop om ons “Belasting” betaler se geld so te mors. Almal weet wat aangaan!!!!

SARIE VAN HEERDEN ·

Hoe is dit moontlik dat Zuma wegkom met HOEVEEL klagtes teen hom? Moet die gemeenskap nie maar uiteindelik geen ander keuse he as om die ou man uit te lewer aan die Buntu hof sodat sy eie mense met hom afreken nie? Hoeveel van sy tyd wat hy aan landssake moet wy spandeer hy elke dag met sy regsverteenwoordigers om sy bas te red?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.