Zuma: ‘Daar was pogings om ontslae te raak van my’

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: Karen Sandison/African News Agency(ANA)

Oudpres. Jacob Zuma het Maandag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping getuig pogings om hom swart te smeer gaan steeds voort. Daar was ook pogings deur buitelandse en plaaslike intelligensie-agente om hom uit sy organisasie, die ANC, te verwyder.

Zuma het onder meer getuig dat hy al langer as drie dekades die slagoffer van “sluipmoordpogings” op sy karakter is.

“Daar is ʼn beweging om my van die toneel te probeer verwyder. Dit kom weens my werk in die ANC en ook as gevolg van wie ek is. Hierdie sameswering teen my is op alle wesenlike tye uitgevoer wanneer dinge gedoen of gesê is.”

Volgens Zuma is daar in 1990, toe hy in die land was, ʼn intelligensieverslag ontvang waarin beweer is dat drie intelligensie-organisasies (waarvan een plaaslik en gekoppel aan die apartheidsregering, en twee buitelandse intelligensie-agentskappe) beplan het om hom as ANC-intelligensiehoof te verwyder en uiteindelik ook uit die ANC.

“Nadat ek die verslag ontvang het, het ek ʼn gesprek met my kollega Joe Nhlanhla gehad. Ons het ons afgevra: ‘Waarom Zuma?’ Ons het na antwoorde gesoek en tot die gevolgtrekking gekom: die rede hiervoor was omdat ek baie intelligensie-inligting as intelligensiehoof gehad het. Daar was spioene wat die organisasie geïnfiltreer het, en die plan was om hierdie mense te laat toeneem sodat hulle die ANC kon lei.”

Volgens Zuma was die plan egter nie suksesvol nie aangesien hy in 2007 tot president van die ANC verkies is. Hy het gesê pogings deur die Nasionale Vervolgingsgesag en destydse Skerpioene om hom te vervolg was deel van die plan om van hom in die ANC ontslae te raak. Daar was glo ʼn plan om hom in Polokwane in hegtenis te neem sodat hy nie tot president van die ANC verkies kon word nie, het Zuma getuig.

Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer, se Nkandla-verslag het ook opgeduik. Volgens Zuma is daar uitvoerende magte aan haar gegee deurdat sy besluit het hoe die staatskapingskommissie saamgestel moet word.

“Daar is mense wat gelukkig sal wees as ek tronk toe gaan of verwyder word. Oor die Openbare Beskermer se ondersoek: geen president het al deur so iets gegaan nie.” Zuma het onder meer verwys na die titel van Madonsela se verslag, naamlik “Secure in Comfort”.

“Watse gerief? Die Openbare Beskermer, wat veronderstel was om ons almal te beskerm, het die narratief versterk dat Zuma korrup is. Sy het gesê daar is geen geld om die Nkandla-ondersoek te voltooi nie … maar diegene wat in beheer van die tesourie was, het geld gevind om vir haar te gee om alles vinnig te ondersoek voor sy weg is.”

Bulelani Ngquka, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, en Penwell Dauna, voormalige minister van justisie, se name het daarna opgeduik. Volgens Zuma het hulle saamgesweer om geld in te samel om van hom ontslae te raak.

Die twee het glo met Mzi Khuma en ʼn ongeïdentifiseerde lid van die Skerpioene byeengekom en probeer om geld van Khumalo te kry, volgens Zuma. Toe Khumalo gevra het hoeveel hulle nodig het, het hulle glo nooit teruggekom na hom toe nie.

Zuma het hierna die aandag op Ngoako Ramathlodi, voormalige minister van minerale hulpbronne, gevestig. Laasgenoemde het Zuma tydens sy getuienis voor die kommissie daarvan beskuldig dat hy die land aan die Guptas opgeveil het.

“Ek het hom dopgehou terwyl hy hier was. Hy het gesê Zuma het die land verkoop … Zuma het die land aan die Guptas opgeveil. Wat ʼn oordrewe stelling deur ʼn prokureur. Het ek Tafelberg opgeveil? Dit is ʼn leuen.”

Volgens Zuma het diegene wat hom uit die ANC moes verwyder, misluk. “Ek wil nie intelligensie bespreek nie, maar die aksies en gedrag lyk of daar mense oral besig was … en wie is hulle? Om ʼn aantal redes het ons besluit om dit nie als bekend te maak nie, maar ek is oor en oor uitgelok en die mees korrupte individu in die land genoem.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan ·

Dit is ‘n vreeslike treurmare oor beweerde komplotte teen Zums. Maar laat ons liewers by staatskaping en korrupsie uitkom… Die komplotte is hoorsê maat staatskaping is ‘n werklikheid.

Johann M van Heerden ·

Wat gaan die ‘kommissie’ bereik. ‘n Hof us al wat werk

Vader van die leuen ·

In my wêreld is ek altyd die slagoffer….en as ek uitgevang word soek ek iemand om te blameer. Dis hoe ek rol, van die kabinet tot in Nkandla. So voorspelbaar dis vervelig.

Emma ·

En so dink hy ons moet alles glo wat hy se, hy glo homself. Wat n sirkus.

Pieter ·

Want sy anc pelle beskerm hom net soos broer ace geen verskil tussen zimbabwe en anc nie en ons loop en slaap

Zumie zoom voort ·

Die ou is so tragies snaaks en sê hy was nie eers in die Boswell Sirkus nie. Regtig?

Vlom ·

Ja nee, die “gezuma” van die bye! Hy is ‘n kompulsiewe leuenaar. Hy maak my naar!

Sarel ·

Zuma moet dankbaar wees en nie kla nie, hier in die werklike samelewing word ons daagliks vermoor. As dit nie was dat hy lieg nie het ek gese, kry vir jou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.