Zuma: Dis land uit of tronk toe

Oudpres. Jacob Zuma. (Argieffoto: ANA)

Oudpres. Jacob Zuma het twee opsies: Vlug landuit of meld aan vir die 15 maande tronkstraf wat die Konstitusionele Hof hom Dinsdag opgelê het vir sy minagting van ʼn bevel om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te verskyn.

Dít volgens prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, wat sê hoewel Zuma altyd ʼn plan B het, hy waarskynlik nou sy “blufspel uitgespeel” het.

In ʼn meerderheidsuitspraak het die regters van die Konstitusionele Hof, die land se hoogste hof, bevind die oudpresident moet hom binne vyf dae by die Nkandla- of Johannesburg-Sentraal-polisie aanmeld om sy vonnis te begin uitdien.

Waarnemende hoofregter Sisi Khampepe het gesê die hof het geen ander keuse gehad as om Zuma ʼn straf van gevangenisskap op te lê nie en dat niemand bo die reg verhewe is nie.

Indien Zuma hom nie binne die voorgeskrewe tydperk aanmeld nie, het die hof beveel dat die polisie hom binne drie dae moet aankeer sodat hy sy vonnis kan begin uitdien.

Zuma se dogter het kort ná die uitspraak getwiet dat hulle hul pa na die tronk sal vergesel. Die oudpresident het al herhaaldelik gesê hy gaan eerder tronk toe as om aan die hofbevel te voldoen.

Duvenhage sê Zuma se enigste opsie om die tronk vry te spring is waarskynlik om landuit te gaan, “wat ek nie dink hy gaan doen nie”.

“Dit lyk vir my of daar moeilike tye vir mnr. Zuma voorlê. As hy landuit wou vlug, moes hy dit waarskynlik al gedoen het. Ek kan dit nie uitsluit nie, maar dit lyk vir my of die meer waarskynlike opsie is dat hy tronk toe gaan.

“Zuma het altyd ʼn haas in die hoed en hy en Ace [Magashule] het altyd ʼn plan B. Hy het hom nou egter vasgeloop in die Stalingrad-strategie wat hy die afgelope paar jaar gevolg het,” sê Duvenhage.

“Ek dink die skrif is aan die muur vir Zuma.”

Duvenhage sê ook hy verwag geen groot opstand in Zuma se guns oor die uitspraak nie.

“Die besluit [van die hof] was ʼn goeie een. Dit is ʼn besluit ten gunste van die oppergesag van die reg en van die grondwetlik-demokratiese beginsels. Dalk selfs belangriker as dit is die wil van die huidige regering om daadwerklik op te tree en te handel teen korrupsie.”

Carl Niehaus, woordvoerder van Umkontho we Sizwe (MK) en een van Zuma se mees lojale en uitgesproke ondersteuners, het die tronkstraf wat Zuma opgelê is, as onaanvaarbaar bestempel.

Roland Henwood, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê daar is ook niks vreemd aan die minderheidsuitspraak wat deur sommige van die regters gelewer is nie.

“Dit is normale praktyk en ons sien dit in baie uitsprake in die Konstitusionele Hof.”

Henwood sê die minderheidsuitspraak is boonop nie teenstrydig met dié van die meerderheid regters nie: Dit steun ook die bevinding dat Zuma skuldig is aan ʼn ernstige oortreding en dat hy buite perke gereageer het in sy aanvalle op die hof.

Waar die uitsprake verskil het, was oor die gepaste straf wat opgelê moet word.

Henwood sê daar is geen kwessie dat Zuma te na gekom of geviktimiseer is, soos hy deurlopend aangevoer het nie. “Hy volg ʼn politieke strategie.”

Henwood sê dit is duidelik in die oudpresident se soortgelyke benadering in die hooggeregshof, in die saak teen hom wat verband hou met die omstrede wapentransaksie, wat op ʼn “politieke verweer en nie ʼn regsverweer” gegrond is nie.

“ʼn Goeie politieke toespraak gaan jou nie in die hof help nie.”

Uitspraak kan politieke krisis skep

Henwood sê voorts die onversetlikheid van die land se hoogste hof wat betref die regsproses en die handhawing van die Grondwet moet verwelkom word. Dit was ook ʼn sterk aanduiding dat niemand bo die reg verhewe is nie, selfs nie ʼn voormalige president nie.

Hy waarsku egter dat die uitspraak wel politieke spanning kan skep.

“Die volgende paar dae gaan vir die regering uiters moeilik wees en daarmee saam vir die ANC as regerende party: Hulle moet hul voormalige leier aan die polisie uitlewer.

“Indien Zuma nie self aanmeld nie, skep dit natuurlik selfs meer spanning, want dan moet hy gesoek en soos ʼn krimineel gearresteer word,” sê Henwood.

“Dit kan potensieel geweldige politieke spanning skep en kan in die volgende paar dae ʼn krisis veroorsaak.

“Dit is ʼn toets vir pres. Cyril Ramaphosa en die ANC.”

Duvenhage meen Ramaphosa is ná die uitspraak in ʼn sterker posisie. “Ek dink Ramaphosa het die skaal in sy guns geswaai, maar gegewe die ANC-kultuur verwag ek dat dit nie die einde van die geveg gaan wees nie.

“Die ding sal bly maal onder die oppervlak.

“Ek dink die land is stabiel en dink trouens dit kan tot ʼn mate ʼn bydrae lewer tot breër stabiliteit in die land. Die Zuma-faktor is tot ʼn groot mate geneutraliseer en Ramaphosa het sy posisie gekonsolideer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

SjN ·

Sy dogter moet net onthou dat volgens inperking nie meer as 50 mens hom mag vergesel nie, sy klomp vrouens gaan seker vuisslaan en Careltjie sal moet agter bly, shame.

Tanniepetoors ·

Dis nog nie sy begrafnis nie. Hy sal maar met haar of Careltjie moet tevrede wees. Tensy hulle ‘n taxi gebruik, dan so paar ekstra saam.

Androclus ·

Ou Carl die skrif is teen die muur al maak jy jou beste broekie nat.

Persheks Adri ·

Hulle moes hom direk na die selle toe gevat het!!! Of is hier weer dubbele standaarde vir die knaap? Carl jy moet nou bietjie stil bly ok

Tanniepetoors ·

Moet met Richard Callard saamstem dat vandag ‘n hartseer, maar trotse dag in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is. Ons staan ook aan die vooraand van ‘n tyd waar daar ernstig en met groot omsigtigheid, staatskaping en korrupsie ondersoeke en vervolgings gaan plaasvind. Ons moet almal waak daarteen dat babas nie saam met die badwater uitgooi word nie.

Oomniklaassevriend ·

Carltjie hoekom gaan jy nie sommer saam met Zuma tronk toe nie. Anders gaan die skeiding vir jou ondraaglik wees.

Bart-Man ·

Hoe gemaklik kan dit nou nie wees nie. Dat die tronk in jou agter plaas is. En jou agter plaas in Nkandla is en Nkandla se bevolking 3855 mense is. En dit vrek ver van die naaste stad is. En boonop aan die nuwe koning behoort.

Pierre ·

Hy sal baie vinnig op mediese redes ontslaan word, daar was reeds met die aanloop al gese hy is n ou siek man

Roebs ·

Vlug land uit, is dit nou ‘n nuwe opsie? seker na sy huis in Dubai…..

Sêmanet ·

Ek het ook nogal gewonder of mens ‘n keuse kry, landuit of tronk toe? Maar dis seker die groetery wat bietjie tyd vat, dis seker waar die 5 grasie dae vandaan kom.

Suzette ·

Ek dink die skepsel gaan landuit vlug – baie braaf gewees om te sê hy sal tronk toe gaan – hy glo seker hy sal VIP behandeling ontvang daar…. wat waarskynlik so gaan wees – so eintlik hoef hy nie te vlug nie. Carltjie sal elke dag vir hom kentucky bring….

Kobus ·

Dink dis die eerste keer wat ‘n gevangene ‘n keuse kry watter tronk hy/sy wil bewoon. Gaan hy spesiale behandeling kry?

Leon ·

James Grant, jy praat van Korrektiewe Toesig. As Zuma onder Korrektiewe Toesig uitgeplaas wil word, moet die saak terug verwys word na die hof en hulle besluit daaroor. Ek glo nie die hof sal in sy guns bedluit nie.

Hy kan na helfte van vonnis OORWEEG word vir parool.

Adam Adriaan ·

Moes ook vir Carel ook saam met Zumpie gestuur het. Carel sal ‘n goeie Batt Man wees vir Zumpie. Tronk uniform was, kouse was, pap aandra. Strykwerk doen. Hy is mos so nou verbonde aan sy afgod.

Jr ·

No one should take pleasure…. Please ek kry nou so lekker. Beste ding wat nog hierdie jaar gebeur het. Nkandlaaa heh heh heh

Elmarie ·

Ou Karel Ouhuis waar is jul maskers? Ek dog mense gaan nou tronkstraf/boete kry na Pres se laaste inperkingsbevele? Waar is die polisie alweer?

LANA is ELANè ·

En Pinochio Niehaus is ook altyd daar waar die ander bedrieërs hulle op ‘n gegewe oomblik bevind, behalwe as sy pelle tronk toe gaan, daar bly hy weg.
Dit is om van naar te raak, as ek die man sien, ongeag waarvoor hy nou weer in die media is, dink ek net altyd aan die feit dat die man selfs gelieg het oor iets soos die dood van sy eie moeder en kan ek niks verder lees nie.

Esme ·

Dit is my wens dat reg en geregtigheid sal geskied maar die verhouding tussen Ace, Jacob en Julius is ‘n gevaarlike een. Ek wil glo dat CR die hof uitspraak sal aanvaar en dat Jacob Zuma wel in die gevangenis sal opeindig.
Dit is totaal in ‘n ander liga, maar toe Winnie Mandela in Brandfort onder huisarres was, was sy gereeld gedurende die nag in Soweto om ‘eenheid binne die ANC’ te verseker. Ek hoop net nie dat JZ sy nagte in Nkandla gaan deurbring en meer vroue bymekaar gaan maak nie.

Corne123 ·

ag hy gaan nie n tronk sien. ie daar dan klaar gese hy gaan ndandla se trok toe hoe mooi reg by sy huis

Werner ·

Carl waar Bly jy
Jy Bly stil Anders Gaan jy die kaders join

Annelize ·

Ek sal dit glo as die tronkdeur agter sy skelm agterstewe toeslaan. Maar ons hou verniet asems op, hy gaan landuit vlug en soos mis voor die son verdwyn, hoor my lied, hoor vir hom…

Oom Hennie Pennie ·

Bly wat uiteindelik gebeur dat korrupsie vasgevat word. Dit kan net in Suid Afrika se guns tel.

JohanR ·

As hy ooit in gaan sal hy in 5 maande weer uit wees. Dink nie hy sal ‘n volle 15 maande sit nie.

Die Boerepompie ·

Ek glo nie hy sa 15 mande sit nie hy n.pla en hulle sal hom help ek dink hy moet sit tot hy die warhuid praad en al uit praad so dat ons nou vir eens weet waar on staan

boerie ·

Ek hoop die regters wat sy ander hofsake aanhoor neem notiesie van die uitspraak en trek nie banggat nie.

Jacobus ·

Krimineel skuldig bevind, maar voordele soos veiligheid, finansiele voordele en aansienlike pensioen en mediese voordele gaan seker maar net aan. Ek glo die wet maak gerieflikheidshalwe nie voorsiening vir die diskwalifikasie van staatsvoordele as n president krimineel aangekla word.

annie ·

Hoekom ‘n tragiese dag? Selfs in Lalaland was ‘n president al skuldig bevind aan wandade. Suid-Amerika, waarby ons deesdae eerder pas, se leiers boer in howe en rus uit in tronke. Voor Zuma president geword het was ons bewus van sy agtergrond en hy is vir nog ‘n termyn aangestel selfs nà die Nkandla-debakel… en om nou tot martelaarsvlak verhef te wil word… SA en Venezuela vergelyk goed.

Piet parys ·

Hy sal wel by die tronk van sy keuse en in styl opdaag toespraak lewer om te wys hy is n martelaar maar die is net n manier om tyd te koop vir die ernstige korrupsie sake teen hom en dan sal hy mos te oud wees vir verdere tronkstraf . Plan B in werking

Danie ·

Boekmerk my woorde:
Dis nie nodig om Dubai toe te vlug nie.
Hy gaan 3 maande (nie 5 nie) in absolute gemaklikheid in die siekeboeg deurbring.
Dan gaan hy uitgelaat word op parool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.