‘Zuma duidelik nie onkapabel’

Oudpres. Jacob Zuma het onlangs strafregtelike klagte teen staatsaanklaer adv. Billy Downer in Pietermaritzburg ingedien. (Foto: Michele Spatari / AFP)

Die DA se regsverteenwoordiger het Dinsdag voor die Pretoriase hooggeregshof aangevoer dat oudpres. Jacob Zuma duidelik nie “fisiek onkapabel” was vóór of ná sy vrylating op mediese parool nie.

Die DA, AfriForum en die Helen Suzman-stigting argumenteer elk om die wetlikheid van die besluit om Zuma op mediese parool vry te laat, te hersien. Die hofverrigtinge is Dinsdag virtueel aangehoor.

Adv. Ismail Jamie SC, het aangevoer Zuma se mediese paroolvrylating het nie aan die vereistes ingevolge die Wet op Korrektiewe Dienste voldoen nie. Hierdie vereistes behels dat ʼn oortreder aan ʼn terminale siekte of toestand ly, of dat sodanige oortreder weens ʼn siekte of besering fisiek ongeskik gelaat is, soveel so dat dié se daaglikse aktiwiteite of selfversorging gevolglik ernstig beperk is.

Hierdie vereistes baan ook die weg vir die verlening van mediese parool.

“Mediese parool kan nie toegestaan word aan ’n gevangene wat bloot siek is of aan ’n toestand ly wat spesiale mediese versorging benodig nie. In só ’n geval moet die departement die gevangene van die toepaslike versorging voorsien – in die tronk of by ’n hospitaal.”

Jamie voer verder aan dat die mediese paroolraad, wat uit mediese kundiges bestaan, juis aanbeveel het dat Zuma nié op mediese parool vrygelaat moet word nie, aangesien hy nie aan dié vereistes van voldoen het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Arthur Fraser, voormalige nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, die besluit op 5 September geneem het – ondanks die aanbeveling van die mediese paroolraad. Dit was kort nadat Zuma sy tronkstraf begin uitdien het.

Jamie sê die mediese paroolraad het bevind dat Zuma aan verskeie onderliggende siektetoestande ly, maar dat hy eindelik stabiel is en nie mediese parool nodig het nie.

Die DA ontken ook nie dat Zuma, veral gegewe sy ouderdom, siektetoestande onder lede het nie.

Geen mediese bewyse is egter tot dusver gelewer wat bevestig dat Zuma inderdaad aan ʼn terminale siekte of toestand ly nie. Dit word ook nie deur Zuma of Fraser beweer nie.

“Die blote feit dat jy siek is, beteken nie dat jy kan vryspring nie.”

Hy het ook uitgewys dat Zuma reeds ʼn mediese evaluering ondergaan het toe hy vir sy tronkstraf aangemeld het en sy gesondheid kon nie só skielik verswak het nie, aangesien dit – volgens beskikbare doktersverslae – sedert 2018 al stelselmatig agteruitgaan.

Jamie het verder aangevoer dit is ooglopend duidelik dat Zuma nie voor óf na sy mediese paroolvrylating “fisiek onkapabel” was of is nie.

Jamie het onder meer verwys na die reusesaamtrek in Nkandla, KwaZulu-Natal, wat gehou is kort voor Zuma vir sy tronkstraf moes aanmeld.

“Hier het hy die skare sonder ʼn masker toegespreek.” Die geleentheid is destyds ook regstreeks uitgesaai.

Ná sy mediese paroolvrylating, sê Jamie, is Zuma ook by ʼn dobbelhuis gewaar waar hy ʼn vergadering bygewoon het, asook buite ʼn polisiestasie in Pietermaritzburg waar hy strafregtelike klagte teen adv. Billy Downer ingedien het.

Die hofverrigtinge duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Een van die bekendste skurke in die land en hy sal nie tronk toe gaan nie want hy is mos ANC !!

Androclus

Daai jakkals moet trug gaan tronk toe,dis waar hy hoort.

Dup

Sy peoples sal hom ten alle koste beskerm……en weer begin om KZN te plunder.Hy makeer absoluut niks nie maar die gewone landsburger se reëls is nie op hom van toepassing nie.

Jakkie

Nou gaan hy aansoek doen om parool, so terug gaan tronk is nie moontlik nie.

Misky

Hy moet terug tronk toe en klaar!!!! En dan is hy beskikbaar om elke dag voor die Zondo kommissie te kan verskyn en daai saak ook tot ‘n einde toe kom. Ons baklei so om die ou in die tronk te kry en die is nog net die regsverydeling saak. Wat nog van die eintlike straf wat hy verdien en die land ast’ware skuld?