Zuma en ANC vrywillig gekaap, sê DA-leier

Betoging 5 Oktober 2017 (Foto: DA, Twitter)

Pres. Jacob Zuma en sy ANC is “vrywillig gekaap” deur die omstrede Gupta-familie en hul sakebelange, het Mmusi Maimane, leier van die DA, Donderdag gesê.

Maimane het honderde betogers in die reën na die Gupta-familie se huis in Saxonwold, Johannesburg, gelei. Hy het gesê dit is die perseel waar Zuma en sy regering gekaap is en waar hulle die land aan die hoogste bieër verkoop het.

Die Gupta-familie het ʼn interdik bekom om die DA te verhoed om nader as 900 meter van hul huis te betoog, nadat hulle van die optog te hore gekom het. DA-ondersteuners moes dus by die dieretuinmeer bymekaarkom, ʼn paar honderd meter van die huis af.

Maimane het gesê die perseel in Noordwes, waar ʼn multimiljoen rand se monument Woensdag onthul is, is nie die werklike perseel waar Zuma “gevang” is nie. Dié perseel is waar Zuma in 1963 deur die apartheidspolisie in hegtenis geneem is, net buite Groot Marico in Noordwes.

“Enigiemand wat die afgelope jaar ʼn koerant gelees, of radio geluister, of na die aandnuus op televisie gekyk het, weet dat daar ʼn nuwe perseel, hier in Saxonwold is, waar Zuma gevang is. Elke besluit word deur een kriterium gelei: om Jacob Zuma, sy vriende en die Guptas ryk te maak,” het Maimane gesê.

“Dit is agter die hoë mure, die geëlektrifiseerde heinings en streng privaat sekuriteit van die Guptas se huis, waar belangrike besluite wat ons hele land raak, geneem word. Dis waar ministers aangestel en afgedank word, waar regeringskontrakte onderteken word, waar nasionale begrotings uitgewerk word en beleid bepaal word.”

Maimane het gesê die Gupta-huis is nie net die plek waar Zuma gekaap is nie, maar ook verskeie ander kabinetministers, soos minister van finansies Malusi Gigaba, minister van staatsdiens en administrasie Faith Muthambi, minister van minerale hulpbronne Mosebenzi Zwane, minister van samewerkende regering Des van Rooyen en verskeie ander hoëprofielpersone by staatsbeheerde entiteite.

Maimane het versoek dat ʼn Kommissie van Ondersoek oor die staatskaping so gou as moontlik aangestel moet word om ondersoek in te stel oor e-posse wat uitgelek het wat glo as bewyse dien dat die Guptas onbehoorlik invloed uitgeoefen het op die regering.

“Nie een enkele persoon is tot dusver vir hul oortredings vervolg nie. Ons kan nie toelaat dat dit onder die mat ingevee word nie. Dit is nou tyd om die verrotting in die regering en die privaat sektor aan die lig te bring,” het Maimane bygevoeg.

“Ek het die speaker van die parlement versoek om voor 31 Oktober 2017 ʼn ad hoc-komitee aan te stel om staatskaping te ondersoek. Die speaker het kennisgewing ontvang. As sy versuim om op te tree, dan sal ons nie huiwer om die hof te nader om seker te maak dat dié saak opgelos word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SP ·

Al wat die DA die laaste ruk doen is net om te raas en blaas,kry niks uitgerig nie,duidelik n gebrek aan leierskap.

MM ·

Tenminste raas en blaas hulle en alles kom op die manier uit, en ons Publiek kan hoor wat die onwettige immigrante guptas en seker die mees korrupte “presie” alles al gedoen het, een of ander tyd sal ons van hulle almal ontslae raak – onthou net soos wat ons gelig is van die kussings kan hulle ook gelig word van die kussing en ook gepos word (onwettige immigrante guptas) uit SA uit waar hulle nie hoort of welkom is nie Dankie DA dat julle tenminste iets PROBEER DOEN.

Irene ·

Hoekom hof toe gaan kan mense nie dien wat gaan vergeet in sa nie en self optree nie skandelik van sa dankie ek is nie so groot gemaak nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.