Zuma en Zondo: Hoekom Maandagoggend so belangrik is

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Oudpres. Jacob Zuma moet Maandagoggend om tienuur voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn, en groot onsekerheid heers oor of hy die hofuitspraak wat hom verplig om dit te doen, gaan gehoorsaam.

Ontsettend omvattende pogings deur ‘n verskeidenheid politieke leiersfigure (ook van buite die ANC), godsdiensleiers en ander gemeenskapsleiers het teen laat gisternag voortgeduur om hom te oortuig om die konstitusionele hof te gehoorsaam en op te hou met sy openlike ondermyning van die regstaat en die Grondwet.

Teen gisteraand laat was alle uitlatings uit sy kamp dat hy nie sou opdaag vir sy verskyning nie. Zuma het trouens die afgelope naweek by ‘n politieke begrafnis-saamtrek in Pietermaritzburg bevestig dat dit sy voorneme is, en liedere uit die bevrydingstryd, byvoorbeeld die welbekende “Senzeni na?” aangehef om sy ondersteuners te probeer oprui om te glo dat hy geteiken word om politieke en rassistiese redes; nie om korrupsieredes nie.

As voorbeeld: Die woorde van “Senzani na?” vry vertaal in Afrikaans, lui: “Wat het ons gemaak? Wat het ons gemaak? Ons word vervolg (in die betekenis van die Engelse woord persecuted eerder as prosecuted) net omdat ons swart is.”

Watter mate van sukses so ‘n rasbenadering gaan hê, sal die tyd leer. Een rolspeler wat dit duidelik maak dat hulle nie daardeur ontspoor gaan word nie, is die Zondo-kommissie.

Die kommissie se woordvoerder, eerw. Mbuyiselo Stemela (‘n hoogs gerespekteerde figuur in die formele Suid-Afrikaanse kerkegemeenskap, die akademiese gemeenskap en die struggle-establishment) het hierdie naweek bevestig dat die kommissie se voorsitter, adjunk-hoofregter Raymond Zondo, onmiddellike stappe sal aankondig indien Zuma nie om tienuur vanoggend verskyn nie.

Die kommissie het reeds ‘n paar weke gelede aangedui dat dit ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming en/of ‘n versoek om vervolging aan die nasionale vervolgingsgesag kan insluit.

Intussen staan Zuma volgens antwoorde op Maroela Media se navrae (soos gestel aan ‘n wye verskeidenheid tersaaklike rolspelers die afgelope paar weke) tans formeel alleen, met net die Umkhonto we Sizwe-veteranevereniging (MKMVA) wat hom amptelik steun.

Volgens Maroela Media se inligting was die hoofdoel van die EFF se veelbesproke tee-afspraak aan Zuma by Nkandla verlede naweek om aan die oudpresident te benadruk dat die respektering van die regstaat en dus die konstitusionele hof noodsaaklik is, want sou dit ten gronde gaan, strand gans die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie.

Hieroor het die EFF in die aanloop tot die teedrinkery ‘n onomstootlik duidelike skriftelike mediaverklaring uitgereik, wat om een of ander rede nie wyd gerapporteer word nie.

Die EFF het by Nkandla ‘n bloutjie geloop – Zuma wou ten spyte van hul beste pogings nie instem om die konstitusionele hof te gehoorsaam en voor die kommissie te getuig nie.

Terugvoer is voorts dat wydlopende gesprekke oor moontlike raakpunte in Zuma en die EFF se (wyd uiteenlopende) kritiek op die Zondo-kommissie en ‘n moontlike gedeelde poging teen die kommissie in die toekoms, maar geen ooreenkoms kon bereik word nie.

Dit was hoe sake teen Sondagaand gestaan het, maar dit is altyd belangrik om te onthou dat die EFF-leier, Julius Malema, in ‘n groot mate politieke kwiksilwer is en soms sy partylede verras, met ongemaklike gevolge vir hulle.

Binne die ANC se hoogste magskringe het die Zuma-groepering se posisie die afgelope paar dae op die oog af heelwat verswak.

Vroeër in die week het die party se adjunk sekretaris-generaal, Jessie Duarte, ‘n skerp bewoorde aanval op die Zondo-kommissie gepubliseer in die aanlyn nuusplatform Daily Maverick.

Maar teen die naweek het sy heeltemal omgespring en haar steun aan die kommissie toegesê. Waar dit geen spesifieke aanduiding van konsekwente denke of eerlike standpuntverskuiwing by Duarte kan verteenwoordig nie, is dit sekerlik eerder ‘n sterk aanduiding van ‘n mantel gespan na die politieke bewind, en van die Ramaphosa-groep se huidige oorhand in die magspel binne die ANC.

So ‘n siening word ondersteun deur die toespraak wat pres. Cyril Ramaphosa hierdie naweek by die afloop van ‘n geslote vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gehou het en waarvan Maroela Media ‘n afskrif bekom het.

In die teenwoordigheid van Zuma het Ramaphosa verklaar dat die ANC ten volle ondersteunend is aan die Zondo-kommissie en ten volle met die kommissie sal saamwerk.

Dit beteken dat daar die volle verwagting kan wees dat die ANC Zuma sal veroordeel as hy nie om tienuur opdaag nie.

Bronne binne die ANC het die naweek aan Maroela Media bevestig dat die ANC se top ses-amptenare getaak is om so lank as wat dit nodig is met Zuma te onderhandel om teen tienuur by die Zondo-kommissie aan te meld.

Dit sluit Ace Magashule in, die party se sekretaris-generaal wat ‘n verbete ondersteuner van Zuma en teenstander van die Zondo-kommissie is – ʼn verdere aanduiding van die druk vanuit die Ramaphosa-ondersteunende huidige magshebbers in die ANC op Zuma-volgelinge.

Teen Sondagaand was Zuma nog onversetlik, maar alle oë sal teen tienuur op die Zondo-kommissie gerig wees om te sien of die oudpresident opdaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Stefan ·

Hy gaan nie kom nie en daar gaan ook niks met hom gebeur nie.
Leef te lekker in sy deur die belasting betaler betaalde nkandla paleis.
Afrika op sy beste!

Wondermaarnet ·

Presies en het niemand hom geleer hoe om ‘n masker te dra nie. Die neus is dan oop????

Alet ·

Kry ook belastingbetaler gesubsidieerde pensieon. Lekker grote. Sou ook daarmee kon aftree.

Wondermaarnet ·

Hy is mos verhewe bo alle wette en sal seker siek wees vandag.

Wielspore ·

As ‘n persoon eers die punt in sy lewe bereik het om dom en astrand te wees is daar geen salf aan te smeer. In hierdie geval verdien Zuma om voor Zondo te verskyn en die gevolge van die beslissing te dra.

koos ·

To vote for the ANC, was a black thing. Nowadays it is a stupid thing.

Eiervrug ·

Yes. Voting for the ANC is like a chicken voting for KFC

Werner ·

Wel ons sal seker sien wanneer die oorlog gaan uitbreek.Die MKs het mos weer die naweek belowe.

Mariana ·

Mens kan nie die ANC vertrou nie, nie vir Zuma nie en beslis ook nie vir Julius en sy trawante nie. As Zuma bv toegesluit sou word, waaraan ek twyfel, sal daar een of ander herrie losbreek. Maar helaas sal hy nog steeds vry rondloop om sy gif te spoeg.

Jakes ·

Zuma is so korrup soos kan kom maar nie net hy nie. Die hele spul hoort agter tralies insluitend die huidige president en meeste van sy ministers.

Phillip ·

Dis mos nie die wit mense wat hom aanklae nie hoe kan daar dan rasisties se aantiugengs teen ons wees Zondoe is mos nieblank so dan sien hy as sy eie mense as rassuste of hoe

Piet ·

En om te dink die “magtige” Jacob Zuma is toe niks anders as ‘n LAFAARD nie.

Gelukkig, dink ek, het Adjunk Hoof Regter Zondo wel die vasbesloteneid en integriteit om Zuma aan te vat.

Go for it, Judge.

sopbeen ·

Moet my asb nie verkeerd verstaan nie, maar ek vind Zuma baie vermaakerig. Mens kan net lag vir hom.

Willem ·

Zuma is bo wet verhewe nes dai ace bedryf.Kom ons kyk maar 10 uur of zuma oodaag.

Boer ·

Ons sal maar sien of hy gaan op daag by die Zondo-kommissie. As hy nie opdaag nie dan is dit n GROOT TOETS vir ons reg stelsel. Al wat ek vir Zuma kan se Orange is the new Black, dit sal darm lekker wees om hom in n orania oorpak te sien.

Kerneels ·

Sy prokureur het vanoggend formeel laat weet hy gaan nie opdaag by die Zondo kommissie nie. 200 “oorlogsveterane” ontplooi by Nkandla om die ou siel te beskerm.

Danie ·

Ek lees in n ander berig dat die militere veteran so 200 lede is wat hom beskerm. Dit is niks anders as n rebelle mag wat in opstand kom teen die huidige regering onder leiding van Zuma en daar moet wetlik opgetree word deur hierdie kamstige president wat ons het want hy praat en niemand word vervolg nie. Regte bang jan.

Thom ·

Hy sal vervolg word ___ die tyd is ryp . Rampie het die oorhand gekry in die ANC __ baie belangrike gebeurtenis .

J ·

‘Stalingrad strategie’ is ‘n growwe oordrywing van Zuma se strategie.

Zuma se strategie kan hoogstens vergelyk word met dié van ‘n brulpadda wat homself opblaas om baie groter en gevaarliker te vertoon as wat hy werklik is.

Of ‘n kalkoen wat sy vere oppof ten einde die ander kalkoene te beindruk met sy grootte!

Zuma is net ‘n verwaande windbol, pierewaaier wat ly aan grootheidswaan! … en ‘n onbeheerbare wellus na MAG!

Al sy bravade sal verdwyn (saam met sy ‘trawante’) sodra n goed opgeleide polisieman hom arresteer en agter in ‘n polisie vangwa ‘inhelp’!

Skaal af met die ‘hiperbool’ van ‘n Stalingrad vergelyking waar egte generaals ‘n ware oorlog geveg het.

Zuma se ‘vertoning’ is ‘n storm in ‘n teekoppie wat gelewer word vir die breindood media wat dit geweldig opblaas.

Kwasi soldaat, wat ‘n kwasi oorlog voer teen ‘n nie-bestaande vyand terwyl hy REGTE, SWAARVERDIENDE BELASTINGGELD STEEL.

Meester van misleiding en propaganda!

Bars asb nou sy ballon!

Jacobus ·

Daar moet ten alle koste verhoed word dat Regter Zondo bedank voor saak tot ‘n einde kom. ‘n Goeie begin is om Niehaus en trawante te arresteer vir dwarsboming van die gereg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.