Zuma gaan aanhou baklei

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. Foto: Leon Lestrade/ANA

Oudpres. Jacob Zuma het Vrydagoggend weer in die hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

Die staat het tydens die hofverrigtinge aangedui dat hy gereed is om met die verhoor te begin. Staatsaanklaer adv. Billy Downer het gesê die uitstaande kwessies rakende Zuma se regsverteenwoordiging en hul betaling is uitgesorteer.

Adv. Mike Hellens SC, namens Zuma, het bevestig hulle gaan voort met ʼn aansoek dat vervolging teen Zuma permanent tersyde gestel word. Hy het ook gevra vir meer tyd om hom omtrent die saak te vergewis.

Zuma en sy prokureur van die afgelope jare, Michael Hulley, se paadjies het vroeër hierdie maand geskei en sy vorige senior regsverteenwoordiger, Kemp J Kemp, het afgetree.

Regter Mjabuliseni Madondo het die verdediging tot 16 November geleentheid gegee om dokumente in te dien rakende die aansoek dat vervolging gestaak word en die saak tot 30 November uitgestel.

ʼn Regsverteenwoordiger vir Thales South Africa, die maatskappy wat saam met Zuma op die aanklagte tereg staan, het aangedui dat hulle ook ʼn aansoek vir staking van vervolging sal bring nadat hul vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om die saak terug te trek onsuksesvol was.

Thales South Africa is ʼn filiaal van die Franse wapenvervaardiger Thales en word in die beskuldigdebank deur Christine Guerrier verteenwoordig. Daar is egter tydens Zuma en Guerrier se vorige verskyning verlede maand gelas dat Guerrier nie vandag in die hof hoef te verskyn nie.

Ondersteuners van Zuma buite die hof. Foto: Leon Lestrade/ANA

Talle van Zuma se ondersteuners het al van Donderdagaand buite die hof bymekaargekom en het Zuma luidkeels verwelkom toe hy Vrydag by die hof uitgestap het.

Zuma staan tereg op een aanklag van swendelary, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 aanklagte van bedrog. Die voormalige president word daarvan beskuldig dat hy altesaam R4 072 499,85 onregmatig bekom het uit 783 betalings wat Schabir Shaik gedoen het, ʼn sakeman wat as sy finansiële raadgewer opgetree het ten tyde van die beweerde transaksies.

Die geld was vermoedelik omkoopgeld van die Franse wapenvervaardiger Thales met betrekking tot die omstrede wapentransaksie van 1999.

Ten tyde van die betalings was Zuma aanvanklik die LUR van ekonomiese ontwikkeling in KwaZulu-Natal en daarna, in 1999, die adjunkpresident van Suid-Afrika.

Zuma hou vol hy is onskuldig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Johnnie ·

So sal hulle dit uitstel en uitstel en uitstel tot hy onder die kluite is want die binnekant van n tronk sal hy nooit sien nie.

Wolf ·

Ek stem saam, “No sustitute for experience)
en in hierdie geval hjet ou Zumpie baie geleer.

Dries du Toit ·

Hulle weet baie goed van uitstel solank dit hulle pas. Ek onthou n paar jaar trug was daar kamstig n sluipmoord poging op Zuma. Die verdagte was bibne die bestek van n week aangekeer,verhoir en gevonnis.Dit laat mens dink wie beheer die Regters,of hoe,Mogoeng hoof poging regter

Anoniem ·

Ag nee, hierdie nuus gee my sooibrand!

Is daar nie ‘n manier hoe Zuma en sy kat-en-muis speletejies met die howe vasgevat kan word nie??

Rynhardt ·

Daar word vir tyd gespeel met Zuma se saak ,maar ook om terselfdertyd te verhoed dat Zuma enige skandale van Anc mee openbaar maak.Anc help Zuma agter die skerns!

Siek en sat ·

Baklei maar Zuma. Ander mense word vervolg so jy gaan ook moet pa staan vir jou skandes. Sorry.

Irene ·

Wonder hoe lank gaan dit weer aanhou
Geld en tyd wat gemors word

LK ·

As jy Zuma ondersteun, en jy sit sonder water, ligte, werk, krimpeer van armoede, het ek absoluut niks simpatie nie, jy verdien dit dan.

De Villiers ·

Kan iemand nie bietjie opvolg oor Shabir Shaik se gesondheid nie nadat hy nou al vir meer as 9 jaar op mediese parool is en gholf moet speel om gesond te bly. Hy was destyds so ‘siek’ dat daar aangevoer is dat hy sy laaste paar maande by sy huis kan wees en in rus en vrede kan heengaan. Dis tyd dat hy nou aan die pen moet ry vir sy bedrog en omkopery.

Salamander ·

Dif, hy het een of ander invloedryke persoon aan die kort en krullerige haartjies beet. Hy en Zoomer sal altyd beskerm word.

ACJ ·

Hoe kry hulle dit reg om ‘n krimineel te beskerm en hy is tog skuldig en dit weet hy self.

Henk ·

Gesien in die lig van die feit dat zuma sy magsposisie misbruik het en sodoende ingemeng het met sy eie vervolging het ek een vraag – om welke rede word hy nie ook aangekla vir regsverydeling nie. Hy het tog ingemeng en self die vertraging in sy eie vervolging onregmatig bewerkstellig!!??

Wolf ·

Ek stem saam, “No sustitute for experience)
en in hierdie geval hjet ou Zumpie baie geleer.

Edd ·

Die beste uitweg is om die saak solank as moontluk uit te rek totdat hy sy geld op gebruik het en as bankrot verklaar word. Dan sal almal sien hoe sy volgelinge oornag verdwyn

marco polo ·

Hy gebruik nie sy eie geld nie, hy gebruik jou belastinggeld.

RM ·

As die arm massas kon besef hoeveel miljoene hy sinneloos mors dra hulle elke baksteen van Nkandla weg en stem nooit weer ANC nie. Sy voorneme was nooit om mense op te lig nie, net om te lieg en bedrieg met ‘n slinkse glimlag.
Beginsels = 0
Integriteit = 0
Opregtheid = 0

RM ·

Hierdie man wat so slinks glimlag terwyl hy lieg het die land letterlik en figuurlik in die duisternis gedompel. Wonder hoe lank nog voor hy saai wat hy maai?

Stephanus ·

Hy sal aanhou baklei want ons betaal sy regskostes!!! Om van te kots!!!

Siek en sat ·

Net soos Malema se saak. Dit sal uitgestel word tot einde volgende jaar en dan is die dossiere weg en dan het hulle talle verskonings en so sal dit aangaan tot in ewigheid.

Ronel ·

Snaaks hoe hy wat die wit man wil skiet (die sogenaamde struggle song) wit mans as advokate aanstel…

Belaglik ·

Hy baklei nie, hy sit net. Ons betaal dus baklei ons vir sy onthalwe. Sirkus…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.