Zuma gaan ‘binnekort’ sê oor universiteitsgelde

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Jacob Zuma het gesê ʼn aankondiging oor die bevindings van die Heher-kommissie oor die lewensvatbaarheid van gratis hoër onderwys en opleiding in Suid-Afrika is op hande.

Zuma het Donderdag tydens sy jaarlikse toespraak in die Nasionale Raad van Provinsies in die parlement gesê hy word deur ʼn inter-ministeriële komitee bygestaan om die verslag te verwerk en sal “binnekort” ʼn aankondiging daaroor maak.

Zuma het ná gewelddadige betogings by talle universiteite in die land die kommissie, onder leiding van regter Arthur Heher, op 14 Januarie 2016 aangestel. Heher is bygestaan deur adv. Gregory Ally en Leah Thembisile Khumalo.

Die kommissie sou na verwagting sy werk binne 18 maande afhandel. Die verslag was egter ná 18 maande steeds nie gereed nie en Zuma het die kommissie se termyn tot 30 Junie 2017 verleng. Zuma het uiteindelik die finale verslag op 30 Augustus vanjaar ontvang.

Studente het verlede maand na die parlement opgeruk nadat ʼn weergawe van die beweerde verslag uitgelek het en in Sondagkoerante verskyn het. Volgens dié verslag is daar bevind dat gratis hoër onderwys nie haalbaar is nie aangesien die land dit nie kan bekostig nie.

Volgens mediaberigte vroeër vandeesweek poog Zuma om ʼn plan vir gratis hoër onderwys van sy toekomstige skoonseun, Morris Masutha, in werking te stel.

Die plan kan glo daartoe lei dat die begrotings van verskeie staatsdepartemente aansienlik gesny word om die R40 miljard wat nodig is vir gratis hoër onderwys vir 2018, beskikbaar te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakalas ·

Elke keer wanner hierdie paloeka beloftes maak moet ons uit haal en wys, want lyk my hulle gaan belasting ook moet verhoog om dit te behaal. Ek verpes hierdie nosie van ons wat moet betaal, maar ons het geen sê in enige iets nie.

Eish ·

R40 miljard is 2.73% van die totale 2016/17 uitgawebegroting. Dit is dus die persentasie wat teoreties by begrotingsitems weggeneem kan word in die soeke na die R40 miljard.
R139 miljard is begroot om geleen te word om die begrotingstekort aan te vul.
Maar dit was met die indien van die begroting deur kundiges.
Indien hul die staatdiens salarisrekening, wat hopeloos te veel werknemers het, met slegs 7% sny, kan hul teoreties ook gratis tersiêre onderwys verskaf.
Korrupsie, kan vir n paar jaar se gratis opleiding betaal.

marianne ·

DIS SKREEU SNAAKS!!! HA HA HA HA, ALMAL WIL UNIVERSITEID TOE, ALMAL WIL GAAN “LEER”, ALMAL SKREE ON HULP, MAAR INTUSSEN BREEK EN BRAND HULE DIE PLEKKE AF, DAAR IS NIE WERKS GELEENTHEDE NIE, DAAR IS NIE ‘N TOEKOMS VIE “GELEERDE” MENSE NIE.
WAT IS DIE UNIVERSITEIDS SLAAG SYFER AS MATRIEK 30% IS? ALMAL WIL SKIERLIK LEER, WAAROM???
DAAR IS DIE UITSONDERING, WERKLIKE STUDENTE, MDNSE VAN ALLE RASSE, KULTURE, EN UIT ALLE GEMEENSKAPPE, WAT WERKLIK HUL PLEK IN DIE UNIVERSITEID VERDIEN – MAAR DIE RES???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.