Zuma gaan nie stil-stil lê nie

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Ondanks toenemende druk om as staatspresident te bedank en gerugte dat die ANC hom gaan herroep, het pres. Jacob Zuma Maandag sy maandlange dagboek bekend gemaak, ʼn teken dat hy van voornemens is om met sy uitvoerende pligte voort te gaan, eerder as om handdoek in te gooi.

Daar was gerugte oor die naweek dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee ses lede aangestel het om die president se uittrede te bestuur. Die presidensie het boonop aangekondig dat Zuma nie Maandag die voormalige sokkerster George Weah se inhuldiging as president van Liberië in Monrovia kan bywoon nie. Nomvula Mokonyane, die minister van water en sanitasie, het Suid-Afrika by die geleentheid verteenwoordig.

Die ANC, nou onder leiding van adjunkpres. Cyril Ramaphosa, het die mag om die president te herroep.

Die NUK vergader Maandag, en dit het verwagtinge verhoog dat Zuma herroep sal word.

Ramaphosa, wat verlede maand as die leier van die ANC verkies is, het Sondag na Davos vertrek.

Die presidensie het Maandag egter Zuma se dagboek van “openbare geleenthede” vir die volgende drie weke bekend gemaak. Zuma sal onder andere op 28 en 29 Januarie die 30ste gewone vergadering van die Afrika-Unie in Ethiopië bywoon en hy sal as voorsitter optree by die kabinet lekgotla tussen 31 Januarie en 2 Februarie by die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria.

Sommige media berig Zuma se dae is getel en hy sal dalk volgende maand nie meer die president wees nie, maar die presidensie het aangedui Zuma sal op 8 Februarie die staatsrede in die parlement lewer.

Zuma se dagboek dui ook aan dat hy op 13 en 14 Februarie in die parlement sal wees vir die debat oor die staatsrede voor hy die volgende dag sy reaksie sal gee.

Zuma is tydens Ramaphosa se 8 Januarie-toespraak in Oos-Londen uitgejou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Callie ·

Is almal nie net liggelowig nie. Het Zuma nie die beleid van die ANC en die planne van 8 jaar terug ten volle uitgevoer nie. Het hy die ANC nie nou waar hulle volgens beplanning moes wees nie. Hoekom anders word hy nie verwyder nie. Hy moes dalk dinge tot op n punt bring en as almal begin skop en skreeu kom die kamtige redder in wat almal kalmeer maar die skade is gedoen. Nou aanvaar almal al Rhamaposa se uitsprake oor onteiening want almal is te gelukkig oor hy Zuma gaan uitskop. Kom ek sit geld op. Zuma gaan nie vir een klagte teen hom pa staan nie. Cyril sal sorg. En hoe lekker slaap die wittes nie verder nie.

Woordspeling/-spelling ·

‘n Optimus het altyd hoop en sit nie sommer ‘op-die-mis’-hoop.

snoefie ·

die paddaman & kie is te bang vir zuma om hom die trekpas te gee

Willie ·

Ek kry die selfde gevoel Callie… hier ruik mens n groot rot… Strategies is die ANC baie slim…

Wors Rol ·

Diegene wat glo Zuma gaan ooit skuldig bevind word aan enige klagte het duidelik nog nooit van Afrika of sy geskiedenis kennis geneem nie. Hy gaan net mooi niks oorkom nie. Hoe gouer ons dit aanvaar hoe beter.

christa ·

CR wil he dat almal die groot bedrieer met handskoene hanteer, is hulle nie maar voels van enerse vere nie? Die land het nog nie genoeg skade gelei nie. Zuma kan nou onder toesig aangaan met sy bedrywighede. Dis hoog tyd dat n ander regering die lysels oorneem, maar ons ou nasie kan net nie saamstaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.