Zuma gaan nié voor Zondo verskyn

Adjunkhoofregter Raymond Zondo en oudpres. Jacob Zuma.

Oudpres. Jacob Zuma gaan nie voor die Zondo-kommissie van ondersoek verskyn nie, het sy prokureur Vrydag gesê – ten spyte van ʼn hofaansoek om hom te dwing om dit te doen.

Die 78-jarige Zuma speel sedert 2018 kat en muis met die kommissie wat op die been gebring is om die plundery van staatskoffers tydens sy nege jaar lange bewind te ondersoek.

Die oudleier het nog net een keer voor die kommissie getuig, in Julie 2019, maar het na ʼn paar dae onttrek en aangevoer hy word soos ʼn beskuldigde eerder as ʼn getuie behandel.

Hy het in November weer vlugtig voor die kommissie verskyn om te eis dat die voorsitter, adjunkhoofregter Raymond Zondo, hom aan die saak onttrek.

Die kommissie het daarna ʼn nuwe dagvaarding uitgereik en ʼn dringende aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien om hom te dwing om daaraan te voldoen.

Eric Mabuza, Zuma se prokureur, het Vrydag egter bevestig die oudpresident gaan nie volgende week verskyn nie.

In ʼn WhatsApp-boodskap het Mabuza verduidelik dat sy kliënt wag op die Konstitusionele Hof om te reageer op die kommissie se aansoek.

Hy wag ook vir die besluit oor ʼn aansoek oor Zondo se weiering om te onttrek.

“Ons het die kommissie ingelig dat [oud]pres. Zuma nie Maandag gaan verskyn nie,” het Mabuza bevestig.

Zondo het nog nie gereageer nie.

Verrigtinge moes Vrydag onderbreek word nadat Zondo ingelig is dat een van sy nabye amptenare positief vir Covid-19 getoets het en hy in selfisolasie moes gaan.

Zuma, wat in 2009 president geword het, is in 2018 gedwing om te bedank weens die korrupsieskandale wat veral met die Guptas verband gehou het. Die familie het lonende kontrakte by staatsondernemings gekry en kon glo selfs kabinetsministers kies.

Pres. Cyril Ramaphosa het hom opgevolg en onderneem om die “vlaag” korrupsie te stuit.

Die sogenaamde staatskapingskommissie is daarna begin om getuienis aan te hoor van ministers, oudministers, staatsamptenare en sakelui oor die beweerde bedrog tydens Zuma se termyn.

Tot dusver het minstens 30 getuies hom al direk en indirek in hul getuienis betrek.

Die jongste dagvaarding bepaal dat Zuma van 18 tot 22 Januarie en weer van 15 tot 19 Februarie moet getuig.

Zuma word ook daarvan beskuldig dat hy glo omkoopgeld in die omstrede 1999-wapentransaksie ontvang het. Hy was destyds die adjunkpresident.

Die verhoor word na talle vertragings na verwagting volgende maand hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

JohanR ·

Soe sal Zuma nou uiteindelik arresteer word. Ons kyk met groot oe want ek en Jan allerman sou al lankal in die tronk gewees het vir minagting. Gee nie om of die ou ‘n useless human being en ‘n useless president van SA was nie, the law is the law en hy moet nou arresteer woord.

Boerkind ·

CR was die heel tyd teenwoordig en bewus van wat in JZ se bedeling aan gegaan het… So CR, as jy integriteit het, weet jy wat om te doen…

Karin ·

Ag asseblief dit is net n piesang land. Hul verhewe bo die wet

4ntj13 ·

Seepglad-grillerig!
Maar, ek hoop Zondo kan ook effens verbeter deur, veral tydens Covid, ʼn addisionele voorsitter en ondersoekspan saam te stel. Al is dit net om dinge 2x vinniger te laat gebeur. Dis vir my sinloos om te sloer totdat ons almal van Zuptas vergeet het.

JM ·

Zuma mag dalk op aarde wegkom om die gereg te probeer ontduik, hy sal nie voor God wegkom nie. Daar gaan hy nie ‘n kans hê nie.

Gerhardus ·

Wat het geword van sy arrogante houding van “ek sal my onskuld in die hof bewys”? Hy het noú ‘n geleentheid voor die Zondo kommissie, maar hy wéét hy is skuldig en sal nie sy “onskuld” kan bewys nie.

jzjz05 ·

Almal is arrogant en glo hulle het die alles onder beheer tot hulle met die werklik in aanraaking kom, dan kom die rondspringery ,onkemings, beskuldiging {Andiyazi, aydim,ndandingekho.}is al sinoniem met antwoorde as dinge begin warem raak

Stefan ·

Kan ons nou maar almal hofbevele verontagsaam?
En ook soos malema dreig, opstook en met vuurwapens in die lug skiet.
Hierdie ‘groot’ ouens is mos ons voorbeelde.

Knormoer ·

As die Zondo kommissie nie tande het nie, mors hulle net die belastingbetaler se geld.

Mariana ·

Van uitstel kom afstel. Hoekom word hy weer en weer toegelaat om almal vir die gek te hou? Tyd om daadwerklik op te tree teen hom

Willem ·

Anc beskerm zuma hy sal niks oorkom nie,net soos dai skelm magashule.Cele en kopdoek word net so beskerm.Zondo kommissie is n joke,was net n vermorsing van geld.As zuma toegesluit word sal ek effens glo in kommissie!!!!!

SomeOne ·

zuma is ‘n baie goeie voorbeeld vir ons, hy skep ‘n baie goeie prisedent, presedent, (hoe jy dit ookal wil skryf), aan ons (ons kan almal ook vir tyd speel in ons hofsake)

Yvonne ·

MAW….hy gaan nooit ooit verantwoordelik gehou word vir sy gemors nie…net soos die res

Willem ·

Niks sal met zuma,malema,magashule en hul trawante gebeur nie!!!!!Al redding wat ooit vir SA sal kom,as die virus hulle van kant maak!Good riddens!!!!

Lee ·

Hy sal nooit vervolg word nie….. Hou op om belastingbetalers se geld te mors en sluit die Zondo kommissie se bedrywighede af. Almal weet tog dat Zuma en sy kaders die land gekaap het. Die Guptas sit gemaklik in die VAE en het niks verder in SA te verloor nie. Ek, en ek glo ander, is nou al hatlik sat vir al wat ‘n Zuma is. Laat hulle voortploeter. Niemand leef vir altyd nie.

Genis ·

Boerkind dis hoekom CR vir JZ laat wegkom daarmee… dink jy vir een oomblik CR het homslef nie ook verryk nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.