Zuma gee sy weergawe

Zuma tydens Woensdag se onderhoud. Foto: Skermskoot/SAUK

Pres. Jacob Zuma het Woensdagmiddag tydens ʼn regstreekse onderhoud met die openbare uitsaaier volgehou dat daar nog geen redes aan hom verskaf is waarom hy moet bedank nie.

Op ʼn vraag van die onderhoudvoerder of Zuma sal bedank, het hy geantwoord: “Nee.” Volgens Zuma het hy kort voor die onderhoud uitgevind daar word ʼn mosie van wantroue vir Donderdag beplan indien hy nie vandag bedank nie. “Niemand het dit vir my kom sê nie. Wat is die haas? Ek het ʼn probleem met die manier waarop dit [die uittrede] geïmplementeer word.”

Volgens Zuma sal hy vandag nog ʼn verklaring uitreik oor die kwessie. “Ek het net nog ʼn jaar om te gaan. Die ANC se leierskap kan groter probleme hiermee veroorsaak as wat ons dink. Ek hoop hulle sal weet hoe om die organisasie te hanteer. Vir die eerste keer voel ek die ANC se leierskap is onregverdig aangesien hulle my nie help om te verstaan wat so kritiek is nie en ek het ʼn probleem daarmee. Dit is nie soos die ANC te werk gaan nie.”

Zuma het gesê hy is tydens die vergadering met die ANC se top-ses leiers verlede Sondag versoek om te bedank. “Ek het gevra hoekom ek oorreed moet word om te bedank. Wat het ek verkeerd gedoen? Natuurlik kon hulle nie sê wat ek verkeerd gedoen het nie.”

Volgens Zuma het hy aan hulle gesê dat indien hy iets verkeerds gedoen het, daar prosesse binne die ANC is om dit te hanteer. “Ek het gevra wat ek verkeerd gedoen het, maar niemand kon iets sê nie.”

Zuma het daarop gewys dat daar nie ʼn reël is dat die president van die ANC die president van die land moet wees nie. Hy het ook gesê daar is volgens hom nie twee magsentrums as gevolg van die feit dat die ANC-president en die president van die land nie dieselfde persoon is nie.

Zuma het tydens die onderhoud ook verwys na oudpres. Thabo Mbeki wat deur die ANC herroep is en toe bedank het. Volgens hom is die besluit om Mbeki uit sy pos te onthef ook tydens ʼn vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) geneem en was hy een van dié wat daarteen gekant was.

Volgens Zuma was daar ʼn robuuste gesprek tussen hom en die top-ses van die ANC. “Ek dink nie hulle het gehou van hoe ek met hulle gepraat het nie.” Tydens die vergadering is daar gesê die NUK moet ʼn besluit neem. Volgens Zuma was dit vir hom vreemd dat die kwessie nie eerder na die nasionale werkkomitee terugverwys is nie.

Zuma het gesê hy het die Maandag daarna foto’s gesien van die betogings voor Luthuli-huis waar ondersteuners vir en teen Zuma slaags geraak het. “Dit het my geskok. Ek het besluit ons moet ʼn ander benadering volg aangesien die leierskap reeds ʼn geruime tyd sê ons kort eenheid in die ANC.”

Volgens Zuma het hy hierna gehoor ʼn spesiale vergadering van die NUK gaan plaasvind en het Cyril Ramphosa, president van die ANC, gesê hy wil met hom vergader. Die twee was die betrokke Dinsdag saam by die kabinetkomiteevergaderings in Kaapstad waar Zuma omstreeks 12:30 ʼn kennisgewing ontvang het dat die voortsittende beamptes hom wil spreek oor die staatsrede.

Zuma het gesê hy het toe reeds besluit die staatsrede moet uitgestel word en dat hy die voortsittende beamptes daaroor ingelig het en dat hy toe met Ramaphosa vergader het. Volgens Zuma het hy voorgestel dat hy ná Junie sal bedank sodat hy Ramaphosa kan voorstel tydens die Brics-beraad en die vergadering van die Afrika-Unie. Volgens Zuma sou dit hulle die geleentheid bied om vir die mense te wys daar is samewerking tussen hom en Ramaphosa.

Zuma voer aan dat Ramaphosa en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sy idee verwelkom het. Dit is toe dat die voorstel gemaak is om die NUK se vergadering uit te stel. Ramaphosa het Zuma toe glo die volgende dag weer ontmoet en toe is daar besluit om ʼn verklaring uit te reik weens die onsekerheid.

Volgens Zuma het Ramaphosa en Magashule later weer met hom vergader en hom meegedeel dat die top-ses nie sy voorstel aanvaar nie. “Ek het vir hulle gesê ek het ʼn probleem daarmee. Daar was ʼn groot debat en uiteindelik het ek gesê die NUK moet die kwessie bespreek.”

Ramaphosa en Magashule is Maandagaand weer na Zuma se huis om hom mee te deel dat die NUK besig is om te vergader en dat dit lyk of daar nie steun vir sy voorstel is nie. Hulle het gevra of hy sal bedank. Volgens Zuma het hy weer daarop aangedring om te hoor wat hy verkeerd gedoen het.

Zuma het tydens die onderhoud gesê dit is nie waar om te sê dat hy die ANC verontagsaam of uitdaag nie. “Ek stem nie saam met die besluit wat geneem is nie. Dit is sonder gronde en ek moet oortuig word met feite. Dit word op ʼn manier gedoen wat my geviktimiseerd laat voel. Dit word op my afgedwing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

O jittetjie ·

As die leier van die land moet daar met meer intelligente verskonings voor ‘n dag gekom word, oops ek dink nie hy verstaan dit nie. Net soos Ajay wat kamma nie kan epos /sms of whattaspp stuur nie, so belaglik om dom te speel as dit jou pas, maar jy wil die land reel en Gupta ‘n klomp besighede

snoefie ·

hoe verwant kan hy wees om te “glo” hy het niks verkeerd gedoen nie? laat hom arresteer vir 18 + 765 kriminele klagte. dink hoe sjap gaan hy lyk agyee in n np 200 met n dak. vir wat wil hy eers Junie loop? waarvoor wag hy? help hom op sy voete!

De Villiers ·

Nou wat dink hy het hy nie verkeerd gedoen nie. In sy termyn het die Rand baie verswak weens swak leierskap, soos die kabinetskommelinge in die middernagtelike ure, verskeie finans ministers wat die trekpas gekry het sonder rede, misdaad wat gedy het, ‘n klomp korrupte amptenare wat hy onder sy beheer aangestel het, soos Ace Magashule en Hlaudi Motsoeneng, dan sy bande met die Guptas, die 780+ klagtes teen hom vir die wapenskandaal, en so kan ek voortgaan. Dan het hy nog die vermetelheid om te vra wat hy verkeerd gedoen het. Niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie.

Hans ·

Ag shame voel nou hoe voel die res van die SA se mense elke dag.

christa ·

nou wat nou, Gaan kry die Zim mense hulle weet hoe dit gedoen moet word.

christa ·

lees hy nie koerante of luister nuus nie. Is hy so dikvellig en dig? Kan iemand nie vir hom duidelik uitspel dat hy sleg, vrot, treurig en skelm is nie.

Genieve ·

Niemand het hom gese hy moet bedank nie en wat is die haas????

spioen ·

Hulle moet passop want hy is kapabel en teken ‘n omstrede wet vannag in die donker met sy korrupte maatjies. Dis mos hoe hy werk – in die donker.
Kyk mooi waar wie vanaand rondsluip….

Johann ·

ASB ASB ASB! Komaan Ramapoza! WYS wie en wat jou karakter is en SE vir ZUMA HYSELF is die fout! Maar soveel as wat ek wil naar word as ek dit se….Zuma is geregverdig in sy onkunde oor wat hy dan nou verkeerd gedoen het???? ALS deel van die ANC se LEGACY van ZUPTOPIA wat hulle vir 9 jaar blind en doof beskerm het!

Hans ·

Nou wat het hul dan so gepraat agter geslote deure, hy en ramaposa en kie. Wat maar lank om eintlik net mooi niks te sê nie. Seker net gekoek en tee en speletjies gespeel.

humor ·

As n eier vrot is dan beredeneer jy nie die saak nie. Jy gooi dit onmiddellik weg. Waarom moet die land met die man so sukkel?

PJR ·

Hoe lyk dit of ‘n coup al manier is wat duidelik verstaan gaan word?

Gatvol ·

Van watter planeet is jy afkomstig? Wil nog goed onder die mat vee voordat jy met langverlof in Pretorius Straat gaan sit.

LR ·

Die man het vanmiddag met sy gesprek duidelik laat blyk dat hy geslepe is maar beslis n idioot is. As hy nie weet wat hy verkeerd gedoen het nie dan kan hy mos maar bedank en sy dag in die hof hê.
Sy groot probleem is vemoedelik die russe, wonder of hy nie alreeds n voorskot op die kernkrag ooreenkoms ontvang het nie.
Die russe gaan hom aan sy groottone ophang, by wyse van spreke. Uit sy toespraak was dit tog n mate duidelik dat hy nog onafgehandelde sake met die Afrika Unie (lees rusland) het.

Deon ·

Hy is sy organisasie se verkose President gewees!!! Dit sê regtig baie van die ANC. Die meeste partye kla al vir jare oor Zuma terwyl SA al hoe meer teruggesak het en toe het hulle gedink hy is goed. As ek Ramaphosa is dank ek elke minister af en stel mense aan wat kennis het van elke Ministerpos of hulle nou pienk, wit of swart is!!

Peet ·

Zoempie, jy reken jy het niks verkeerd gedoen nie? Daar is 783 aanklagtes wat met jou verskil…

Alida ·

Hy probeer tyd wen om met die SANW te konkel mbt n staatsgreep. Dit is hoekom Brian Molefe skielik nou so n hoe rang het. Daardie medaljes en sterre is seker by Crazy Store gekoop.

Pop ·

Ek het nog nooit n woord wat uit sy mond gekom het as intillegent beskou nie, maar vandag sn het my stom gelaat. Totaal en al verstom. Dat een mens soveel bollie kan praat aaneen.

Pieter ·

He he he he … Zuma, jy laat my nou op die grond val van lag. Jy het teen die mosie gestem om Mbeki te herroep. Ja sure…. BWAHHHH HAAAA HAAAA

Stefaans ·

Maar kan niemand dan sien dat die arme man feitlik onskuldig is nie?

Anti-Zuma ·

Ai Prezi – miskien as ons vir jou ‘n ‘slide-show’ doen oor wat jy verkeerd gedoen het saamstel, sal jy ‘miskien’ begryp want met jou graad 3 wat jy op skool behaal het, het ons agtergekom jy verstaan nie. Ek hoop jy word vervolg op jou 783 korrupsie klagtes …. jy en jou Gupta boeties gaan sit … ek hoop hulle sluit jou so diep toe, dat jou kos met ‘n kettie ingeskiet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.