Zuma getuig ‘binnekort’ voor Zondo-kommissie

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: (Pool Photo via AP)

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sal “binnekort” hul ondersoek en openbare verhore voortsit en wil so gou as moontlik van oudpres.  Jacob Zuma hoor.  Só het adjunkhoofregter Raymond Zondo Woensdag tydens ʼn aanlyn nuuskonferensie gesê.

Dié kommissie se werk is verhinder deur die instel van algehele afsondering aan die einde van Maart.  Zondo sê egter afsonderingsregulasies wat vir vlak 3 afgekondig is, maak dit nou moontlik vir die kommissie om sy werk voort te sit en voorspel dat openbare verhore teen die einde van Junie of begin Julie weer sal kan hervat.  “Ondersoekbeamptes en die regspan keer reeds op 15 Junie terug kantoor toe,” sê hy.

Volgens Zondo sal Zuma boonop kort daarna geroep word om voor die kommissie te getuig.  “Ons wil graag hê dat hy getuienis voor die kommissie moet lewer,” sê Zondo.

Die hof het die kommissie uitstel tot die einde van Maart volgende jaar gegee om sy werk te voltooi en Zondo sê sy span is vasberade om hul ondersoek binne die gegewe tyd af te handel.

“Ons fokus daarop om werk klaar te maak wat ons in 2019 en 2020 begin het.  Dit sluit in getuienis oor sake wat betrekking het op staatsbeheerde entiteite en sake wat deur die Openbare Beskermer (OB) aangeraak is in haar verslag.”  Dié sake verwys grotendeels na kwessies waarby die Gupta-familie betrek word en wat die voormalige OB adv. Thuli Madonsela aanbeveel het deur ʼn kommissie van ondersoek hanteer word.

Zondo sê hoewel hy bewus is van verskeie partye se versoeke om ʼn tussentydse verslag uit te bring, dink hy nie dit sal moontlik wees nie.  “Daar is ʼn aantal persone wat by verskeie sake betrek word en dit sal dus moeilik wees om ʼn verslag oor een saak uit te bring waarin hulle impliseer word, voordat ander sake afgehandel is.”  Hy sê hy en sy span sal ook eerder hul tyd wil gebruik om die ondersoek af te handel as om ʼn tussentydse verslag op te stel.

Hy sê hy en sy span kon wel daarin slaag om tydens afsondering ander werk wat verband hou met die ondersoek, af te handel, al kon verhore nie plaasvind nie.  Dié werk, sê hy, sou in elk geval een of ander tyd gedoen moes word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Ag asb hou op om ons belasting geld so te mors ons werk daar voor. Ons kry dit nie verniet soos julle ANC nie. Hoekom het die belasting betaler ook nie n se nie dit is ons geld. Julle klomp komuniste weet ou zuma gaan niks oor kom nie julle beskerm mekaar. JULLE MORS ONS GELD

Cherokee ·

Ek is verbaas, total verstom dat ek die eerste/enigste is wat jou pleitdooi dat Zuma gespaar met word, met ‘n duimaf begroet. Hou op om namens ‘ons’ te praat, want jy kan slegs namens jouself (en jou duimoppers) praat. Zuma moet antwoord.

Magda ·

en jy glo dat Zuma die waarheid gaan praat – stem met Pieter saam – Geld mors (ONS BELASTING BETALER SE GELD) Kry die bewyse soos enige ander saak gedoen word en dan vervolg julle die skuldige – maar NOU met die Zondo kommissie praat almal met MIN bewyse en dit gaan net aan en aan en aan – en ONS betaal daarvoor. So ja Zuma moet antwoord maar doen dit reg vd begin af met bewyse sodat hy nie kan LIEG EN BEDRIEG as daar vrae gevra word nie.

RB ·

Cherokee, ek hoor jou, hy het self gesê hy wil sy dag in die hof hê. Maar dink jy vir een oomblik daar gaan enige vorm van waarheid uit sy mond kom?
Hy mag moontlik van sy maters impliseer teen wie hy nou ‘n aksie het. Hyself is so onskuldig soos die houtjie van die galg. O, en natuurlik is daar ook baie wat hy nie meer kan onthou.

Jerry ·

Hoekom getuig JZ , sy getuienis beteken niks net soos die Zondo kommisie niks beteken nie en daar sal niks van kom nie …..en O ja dit sal nog uitgestel word vir niks!

Andre ·

In enige ordentlike land sou die staatskapers in twee maande bymekasr gekry gewees het en gevonnis gewees het.Geen rede vir kommisie om jare te sukkel en niks geloofwaardig te doen nie.Die Zondo komissie mors net geld en tyd.Hulle gaan tussen nul en zero reggkry.Die kommisie kan maar ontbind en huistoe gaan.

RB ·

Andrè, hierdie kommisie is ‘n voorbeeld van die ANC se manier van werkskepping! Stel jou voor hoeveel mense sonder werk gaan wees as daar ‘n einde aan die kommisie se werksaamhede moet kom!!
Ons mag reken dis mors van geld, hulle reken dis innoverende proses van uitbreiding van staatsdiens, werkskepping en aanwending van fondse waarvan bron onuitputlik is.

Hoe absurd en sinneloos!

Magda ·

Hoe lank gaan die kamtige “zondo kommissie” nog aangaan. Mors net ONS belasting betalers se geld, want tot dusver is niemand ooit aangekla of wat het geword van die 2 jaar wat “DIT” nou al aan die gang is. MORS NET BELASTING BETALERS SE GELD. en wie gaan in elk geval glo wat ou zumpie se – LIEG is al wat hy goed kan doen. So stop om ons geld te mors. Alles kon vinnig al afgehandel gewees het as julle 1 saak op n slag gedoen het, maar nou wil julle al die departemente se sake gelyk doen, waar het julle gesien dat meer as 1 saak gelyk aangehoor kan word – net in die LOKASIE VAN N LAND waar so iets gebeur.

Pierreli ·

Die getuienis gaan niks beteken nie, als wat uit sy mond kom is leuns en bedrog. Hoekom is hy nog op vrye voet? Hier is geen gereg vir die misdadegers in die land nie.
Chaos en Korrupsie is die leuse hier.

Wondermaarnet ·

Liewe aarde, dit gaan nooit gebeur nie. Is die mense wat dink JZ gaan getuig so naïef? Hy gaan weer ‘n siekte of skeet ontwikkel wat verhoed dat hy in die hof kan verskyn en so gaan dit aan en aan tot in lengte van dae.

Scalla ·

Shaik is n mediese wonderwerk op twee bene wat teminale siekte diagnose verkeerd bewys het deur op natuurlike wyse dit te oorwin deur daagliks gholf te speel in die vars lug, sal graag die dokter/s wat hom gediagnoseer en aanbeveel het se kommentaar wil hoor?

wessel ·

hierdie is soos ‘n boekklub…die storie word ontleed en almal hum en ha en die voorsitter maak patronale geluide en almal gaan huistoe, niks verder gebeur en die belastingbetaler “skenk” fie verversings en wyn……yawn

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.