Zuma gevra om Zwane te dissiplineer

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne.

Die DA het Saterdag ʼn beroep op pres. Jacob Zuma gedoen om die taakspan te ontbind wat die beëindiging van banke se verhoudings met die polities-verbinde Gupta-familie se maatskappy, Oakbay Investments, ondersoek en Mosebenzi Zwane, die minister van minerale hulpbronne, af te dank.

Die DA het die nuus verwelkom dat Zuma hom gedistansieer het van Zwane se stelling dat ʼn regterlike kommissie van ondersoek aangestel moet word om die kwessie tussen die banke en die Guptas te ondersoek.

David Maynier, woordvoerder van die DA, het gesê die president se verklaring oor die aangeleentheid is egter nie genoeg nie. “Dit laat die politiese deur oop vir bisarre aanbevelings, wat skynbaar deur die minister in sy persoonlike hoedanigheid gemaak is, om in die toekoms oorweeg te word,” het Maynier gesê.

Zwane het Vrydag in ’n verklaring op sy departement se webwerf voorgestel dat banke wat hul bande met die Gupta-familie verbreek het, moet ondersoek word. Die presidensie het kort hierna ʼn verklaring uitgereik om te sê Zwane se stelling is in sy persoonlike hoedanigheid gemaak en dat hy nie namens die interministeriële komitee, die presidensie of die regering praat nie.

Maynier het gesê die interministeriële taakspan wat die aangeleentheid ondersoek, moes nooit bestaan het nie en die Guptas moes nooit toegelaat word om “in effek die kabinet te kontrakteer om ʼn politiese aanslag op die banksektor, die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank uit te voer nie.”

“Wat ons nou nodig het, is dat pres. Zuma beslissend optree deur die taakspan te ontbind en Zwane as kabinetslid af te dank,” het Maynier gesê.

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het ook Saterdag gesê Zuma moet verdere stappe oorweeg na aanleiding van Zwane se uitlatings

“Minister Zwane het gesê die interministeriële taakspan waarby hy betrokke is, het by die president aanbeveel dat ʼn geregtelike kommissie van ondersoek op die been gebring word om die besluit van verskeie banke, om hul sakeverbintenisse met die Guptas te beëindig, te ondersoek. Dit is direk teenstrydig met openbare menings en versoeke aan die president om ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aan te stel om bewerings van ʼn staatskaping, asook bewerings teen die Guptas, te ondersoek,” het die SAKP gesê.

“Sy uitsprake is in wese verdere gebruik van ons kabinet om die private sakebelange van die Guptas te bevorder eerder as om ʼn geregtelike ondersoek na ʼn korporatiewe staatskaping in te stel. Dit wys ook hoe ʼn individuele kabinetminister sy posisie kan gebruik om private sakebelange te bevorder. Sulke oortredings moet tot ʼn einde kom. Die president moet verdere stappe hieroor oorweeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lance ·

Die DA moet asb hulle nie ophou met sulke sake wat almal weet nerens gaan nie ….julle mors kosbare tyd met zuma want ons weet hy is verhewe bo die reg …het hy al sy nkandla gelde betaal ….ummm NEE . So begin eerder in Jhb en Pta en bring die verandering wat julle belowe het want ek sien nog niks op grondvlak nie ….ag begin asb met die mees basiese en dis om die strate te vee asb.

Grap ·

Zuma kan homself nie dissiplineer nie hoe verwag die DA moet hy Zwane dissiplineer hy moet sy party se raad volg ,bedank gaan verdedig homself in die hof teen sy korrupsie aanklagtes gaan tronk toe in die volgorde ??

Katrien ·

Sal Zuma?nee.ons man van strooi kan nie eens selfdissipline toepas nie

Mielie ·

Droom aan DA. Die kaarte is op die tafel. Wat die ou gese het aan geimplimenteer word. Onthou dis nie net Zuma wat aan Guptas gekoppel word nie. Daar is baie mense wat baat met sy vriendskap, baie mense en te veel om te verloor. Wens ons het die FBI om ondersoek in te stel. Ons is soos Zim vasgevang vir ewig, daar is nie omdraai kans nie. Wetloosheid, misdaad en korrupsie sal nooit onder beheer wees nie. Lede van SAP is dan rowers……geen hoop meer nie.

Jan maak n plan ·

Die dag dat Zuma vir Zwane in die bek ruk stem ek wragtig ANC. Dit sal nooit gebeur nie. Die DA moet hulle basse in rat kry met hulle metros en dorpsrade wat hulle gekry het en n sukses met hulle behaal sodat die massas dit kan sien en sodoende met die volgende eleksie nog minder vir die ANC stem en sodoende die land kan oorvat.

Johanna Botha ·

Ek stem DA sal moet begin vingertrek en doen wat nodig is om die algehele verval en verrotting te probeer stuit. Die hele Centurion val uitmekaar !

My opinie ·

Die zuptas het iets absurds in sommige mense se ore gefluister en nou word daar gespring om dit uit te voer hoe belaglik dit ookal is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.