Zuma: Het D-dag uiteindelik aangebreek?

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (links) en pres. Jacob Zuma (regs) (21 Mei 2014) Foto: GCIS

Politieke ontleders en kenners reken die kanse is goed dat Suid-Afrikaners uiteindelik ná Maandagmiddag sal weet hoe die toekoms vir pres. Jacob Zuma sal lyk.

Talle senior leiers van die ANC, waarvan adjunkpres. Cyril Ramaphosa die eerste was, het deur die loop van Maandagoggend by Irene, Centurion opgedaag waar die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) om 14:00 ʼn noodvergadering hou om Zuma se toekoms te bespreek.

“Ja, ek dink dit is D-dag vir Zuma. Die NUK se vergadering gaan baie lank duur, maar vandag is die dag waarop die NUK óf Zuma se bedanking sal aanvaar óf Zuma amptelik sal laat weet dat hulle hul vertroue in hom as president verloor het,” sê Theo Venter, ʼn politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom.

Prof. Amanda Gouws, politieke ontleder van Stellenbosch Universiteit, het ook vroeër aan Maroela Media gesê sy dink Zuma se einde sal teen die middel van die week duidelik te wees, terwyl dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF+ en parlementslid, sê dit is nou net dae voor hy ʼn amptelike aankondiging oor Zuma se toekoms verwag.

Venter meen die laaste paar weke se onderhandelinge, vergaderings en geheime gesprekke was ʼn poging om Zuma te kry om die amp vrywillig neer te lê. “Ramaphosa wou Zuma as’t ware nog altyd met waardigheid by die voordeur laat uitloop. Dit is ʼn strategiese besluit, want oor agt jaar van nou af kan dieselfde ding met hom gebeur.

“Dit word nou praktyk binne die ANC dat wanneer die party ʼn nuwe president verkies, daar nog 15 maande oor is voordat die nuwe president as staatshoof kan oorneem. Dit is net te lank vir die nuutverkose president en uitgaande president om langs mekaar te staan en in alle waarskynlikheid sal Ramaphosa ook in die toekoms sy pos vroeër moet verlaat.

“Volgens my bronne was die onderhandelinge met Zuma baie moeilik en verder belemmer deur die onredelike eise wat hy vir sy uittrede gestel het,” voeg Venter by.

Talle eise

Die Sondagkoerante het oor die naweek breedvoerig oor Zuma se eise vir sy uittrede bespiegel.

Volgens Venter is dit moontlik dat dit nie net Zuma se persoonlike eise is wat sake rondom sy uittrede uitgerek het nie, maar dat onderhandelings om ʼn verteenwoordiger vanuit die ANC in KwaZulu-Natal in die senior leierskap van die party te kry ook moontlik tot die lang samesprekings bygedra het.

“Die ANC in KwaZulu-Natal het vir die eerste keer nie verteenwoordiging in die topses van die regerende party nie. As’t ware is daar nou niemand in die topses wat Zoeloe kan praat nie. Nou gaan hulle nog die enigste Zoeloe-seun verloor – dié provinsie se kiesafdeling voel baie te na gekom.”

Venter sê die volgende vraag is wie die adjunkpresident word as Ramaphosa waarnemende president en later staatshoof word.

Hy glo dit kan Naledi Pandor of dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wees in ʼn poging om die KwaZulu-Natalse kiesafdeling gelukkig te hou in ʼn sogenaamde eenheidsbenadering. “Dlamini-Zuma is dalk ʼn effense vals noot maar haar posisie as adjunk sal ʼn plekhouer wees tot die algemene verkiesing volgende jaar.”

Hy het bygevoeg hy dink nie Lindiwe Sisulu, ʼn Xhosa, sal nou ingestem word nie, omdat die eenheidsbenadering tans eenvoudig net te belangrik is.

Oor Zuma se eise dat die staat sy regskostes moet betaal, het Venter gesê die presidensiële handboek daaroor is duidelik. Die staat sal verantwoordelik bly vir die regskostes in hofsake wat gemaak word teen Zuma in sy tyd as president. Die sake wat persoonlik teen hom gelê word, soos die 18 aanklagte (12 van bedrog, vier van korrupsie, een van geldwassery en een van afpersing) wat spruit uit ‘n KPMG-ondersoek, sal egter vir Zuma se eie sak wees. Die ondersoek het bevind 783 betalings van meer as R4 miljoen is vir  en names Zuma deur Schabir Shaik en sy Nkobi-groep tussen 1995 en 2006 uitbetaal.

“Daar sal ʼn duidelike onderskeid tussen die twee wees en die staat sal nie vir die korrupsie-aanklagte se hofsaak kan betaal nie, anders sal die ANC ellende op hulle hande hê en die verkeerde presedent skep.”

Die veiligheid van sy vroue en gesin was glo nóg ʼn eis van Zuma. “Soos ek verstaan wou Zuma sy presidensiële voordele omtrent net so behou het. Die presidensiële handboek maak voorsiening vir hom en twee afhanklikes, maar ek dink in hierdie geval sal daar ʼn uitsondering gemaak word.”

Oor gerugte dat Zuma vir homself ʼn situasie wou beding waar hy ʼn staatsgetuie word in die staatskapingondersoek, sê Venter hy dink nie dit kan gebeur nie.

“In so ʼn situasie gaan ʼn misdadiger na die polisie en sê ek is skuldig, maar ek wil afslag hê as ek vir julle inligting oor my medemisdadigers verskaf. Zuma het tot dusver ontken dat hy iets verkeerd gedoen het en boonop sal hy as staatsgetuie die helfte van sy pêlle onder die bus moet gooi – dis nie iets wat hy sal doen nie.

“Ek sien wel ʼn situasie waar Zuma in die staatskapingondersoek getuienis sal lewer en skuldig bevind word, maar dan sy volle samewerking sal verskaf om ander skuldiges aan die pen te laat ry.

“Die nuwe president [wat in alle waarskynlikheid Ramaphosa sal wees] sal hom dan ʼn kwytskelding gee vir sy samewerking, maar daarvoor moet hy deur die hele proses gaan en die president moet die indruk kry dat hy eerlik was.”

Venter glo dit was die punt wat die onderhandelings oor Zuma se uittrede die meeste gekniehalter het. “Zuma wil nie deur die proses gaan nie wat dan sal hy name moet noem.”

Intussen sê Venter Suid-Afrikaners moet nie vergeet dat Zuma steeds ʼn groot ondersteuningsbasis het nie. “Dink maar aan mense soos Ace Magashule, Jessie Duarte, Mosebenzi Zwane en David Mahlobo, die intelligensiediens en Lindiwe Zulu – hulle is lojaal aan hom en ek glo hulle het saam met Zuma weerstand teen sy uittrede gebied. Ek dink hulle was dalk ook verantwoordelik vir van die eise oor sy uittrede.”

Uittrede of herroeping – wat is die kanse?

Daar bestaan wel ʼn kans dat Zuma kan weier om te bedank, al besluit die NUK van die ANC om hom ná Maandagmiddag se vergadering te herroep.

Venter meen egter dit is ʼn baie onwaarskynlike scenario, bloot omdat dit kontrole van die situasie uit die ANC se hande sal neem. “Die ANC sal dan weinig ander keuse hê as om na die parlement te gaan waar ʼn staat van beskuldiging teen Zuma ingestel sal word.

“Die regerende party sal van die opposisiepartye se hulp moet gebruik maak om die president te verwyder. Zuma sal dan soos Simson van ouds die pilare om homself intrek; die politieke koste vir die ANC is te hoog en die opposisie sal te veel by só ʼn scenario baat vir hulle om dit toe te laat. Dit is teoreties en tegnies moontlik, maar polities is dit hoogs onwaarskynlik want dan verlaat Zuma sy amp regtig deur die agterdeur.”

Venter sê hy glo dat ons selfs so vroeg as middernag vanaand kan hoor Zuma het met waardigheid sy bedanking ingedien en Ramaphosa is nou die waarnemende president van die land.

“Die voordele hiervan is dat daar nie ʼn onmiddellike kabinetskommeling nodig is nie. Die waarnemende president laat sake vir 30 dae soos normaal verloop met die staatsrede wat Donderdag en Vrydag sal plaasvind, terwyl die begrotingsrede soos beplan gelewer word. En iewers tussen dit alles word Ramaphosa se presidentskap geformaliseer.”

Venter reken wel die land kan ʼn omvangryke kabinetskommeling voor die einde van Februarie verwag. Hy dink ook nie Suid-Afrika sal ʼn ander waarnemende president as Ramaphosa sien nie. “Zuma het destyds net te veel albatrosse om sy nek gehad wat eers uitgesorteer moes word, waaronder die verkragtingsaak teen hom. Daarom is daar destyds besluit dat Kgalema Motlanthe eers as president sou waarneem.

“Ramaphosa se ondersteuners verkies dat hy so gou as moontlik die amp moet oorneem, die sakewêreld vra dit en die gewone ou in die straat verwag dit – enige iets anders sal ʼn groot verrassing wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

marous ·

As daar ‘n eerbare president was kon daar nie geplunder word nie. Die honderde duisende wat onder sy wakende oog hulself ten koste van die land verryk het se verotting gaan nie verdwyn as die man loop nie , en hy lag daaroor.

zoom zoom ·

Help my asb. Is dit moontlik vir zuma om CR nog te fire terwyl hy nog die nr1 van SA is???. Wonder net.

Koos1 ·

Ja. Dit is moontlik maar baie onwaarskynlik. Doen hy dit, skop hy na die ANC en dit sal hulle nie duld nie.

Ander Annie ·

CR is die President van die ANC en my verstandhouding is dat oom Jacob hom nie kan “fire” nie. As Adjunk-President van Suid Afrika kan oom Jacon CR “fire”. Oom Jacob moet asseblief tog nou groet en hy moet sommer sy eks tannie Zuma saam met hom neem. Ek dink ons Suid-Afrikaners het nou genoeg gezuma.

Boet Fasie ·

He, He, He niemand mors met Zuma , die ANC kan by Zuma leer

fanie ·

Jy moet gou maak zuma jou maaters verlang baie nou in die tronk hulle gaan jou met n rooi mat verwelkom in die tronk

jakkalse ·

D- Dag het gekom en gegaan…………………………………
End van die prent.
Soos ek al voorheen gse het – Sien is glo.
Daai klomp korruptes klou vir ‘n vale.
Desolve die parlement en begin van voor af. Maklikste.

Piet Pompies ·

Gaan tronk toe, gaan reguit tronk toe, moet nie by die begin verby skuif en R200 invorder – Monopoly spel.
So kom Zuma se Monopoly spel tot ‘n einde!

indigogirl ·

bla bla bla….. dit sou laas week gebeur het…… dit sou laasjaar gebeur het…….. Sê net wanneer dit gebeur en hou op spekuleer! Die storie raak nou vervelig!

abc ·

Die politici is nie opgewasse vir hierdie tipe ding nie – hulle is heeltemal buite hulle diepte. Dit is tog duidelik.
D- Day is al lankal verby – en die politici dink dit is nog daar.
Desolve die parlement.

jaco ·

wag net totdat Cyril president is:
radikale ekonomiese hevorming met afvat van wit besighede met te min BEE en te min regstellende aksie
afvat sonder vergoeding van wit boere se plase
Moenie dink ek suig dit uit my duim uit nie. Dis gebaseer op onlangse uitsprake van Cyril
Dis sekerlik die langste rewolisie ooit in die geskiedenis. dit loop al vanaf 1990, toe die ANCE gewettig is en dis nog nie klaar nie.
Dis vreemd dat hulle NIKS van hulle kommunistiese mentors uit die struggle jare geleer het nie. in daardie lande was die rewolusies vinnig en agterna was daardie lande, veral Oos-Duitsland, Hongarye, Pole, Tsjeggo-Slowakye en die Sowjet-Unie almal SONDER:
Nkandla- en Eskom-styl korrupsie
Nkandla-styl huise vir die staatshoof (Roemenië is die enigste uitsondering)
swak en vuil staatshospitale
lae standaard onderwys
werkloosheid
plakkerskampe
stakings
Dit was nou nie maanskyn en rose in daardie lande nie. Meer as 1 politieke party was verbode, asook vryheid van spraak en vryheid van godsdiens, maar lewensomstandighede was BAIE beter as in SA onder die ANC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.