Zuma het Muthambi beskerm, hoor staatskapingkommissie

Phumla Williams, waarnemende uitvoerende hoof van die regering se kommunikasiediens GCIS (Foto: Getrude Makhafola/ANA)

Phumla Williams meen oudpres. Jacob Zuma het voormalige kommunikasieminister Faith Muthambi beskerm terwyl sy “chaos gesaai” het by die GCIS.

Williams, waarnemende uitvoerende hoof van die regering se kommunikasiediens GCIS, het Maandag haar getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping afgehandel en getuig oor Muthambi se “skrikbewind” ná sy in 2014 as minister van kommunikasie aangestel is. Haar versoek dat Zuma moet ingryp, is nooit beantwoord nie.

“Ek dink [Zuma] het hierdie vrou [Muthambi] beskerm. Ek weet nie hoekom nie, behalwe om te sê dat hulle sekere sleutelfunksies by my weggevat het wanneer dit hulle gepas het. Hulle het geplunder en geweet ek sou dit nie toelaat nie. Ek hoop [Zuma] sal dit kan verduidelik,” het sy aan verslaggewers gesê ná haar getuienis.

Williams het getuig oor Muthambi se “geboeliery” wat vir haar spanning en angs veroorsaak het.

Kate Hofmeyer, wat die getuienis lei, het aangekondig die kommissie se ondersoekbeamptes stel ondersoek in oor Mzwanele “Jimmy” Manyi se teksboodskap aan Williams terwyl sy Vrydag getuig het. In die teksboodskap het Manyi geskryf: ”Hi Phumla. Please indicate that the CFO and breakfasts happened AFTER my era.” Williams het die kommissie ingelig oor die teksboodskap.

“Ons het ʼn beëdigde verklaring [Sondag] van mnr Manyi ontvang,” het Hofmeyer gesê. “Die ondersoek duur voort en ek verstaan ʼn verslag word voorberei.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het egter Manyi se teksboodskap beskou as ʼn poging om Williams se getuienis te beïnvloed. Manyi het op Twitter gesê hy het die teksboodskap gestuur om dit “duidelik te maak” dat ontbytgesprekke deur die Gupta-beheerde koerant, The New Age en die staatsbeheerde SAUK, eers plaasgevind het ná hy weg is by die GCIS.

Williams het getuig toe Manyi in Januarie 2011 die leisels as hoof van GCIS by Themba Maseko oorgeneem het, het hy vinnig ʼn reeks veranderinge ingestel, insluitend dat die media-aankopeafdeling direk aan hom sou rapporteer. “Toe mnr Manyi begin het, het die tenderprosesse verander. Hy het seker gemaak dat die eenheid direk aan hom rapporteer. Dit was voorheen die verantwoordelikheid van die hoofdirekteur. Manyi het ook gereël dat die interne ouditafdeling direk aan hom moet rapporteer,” het Williams Vrydag aan die kommissie gesê.

Manyi, ʼn getroue vriend van Zuma, het beheer oorgeneem van die Gupta-media The New Age-koerant en ANN7-televisienuuskanaal. Albei maatskappye het intussen hul deure gesluit.

Die kommissie se verhore hervat Woensdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.