Zuma ‘het opdrag gegee’ dat regeringspreekbuis moet waai

Brent Adrian Simons, voormalige hoofdirekteur in die kantoor van die minister in die presidensie. (Foto: ANA)

Die Zondo-kommissie van ondersoek het Maandag gehoor wyle Collins Chabane het in 2011 ʼn oproep van destydse pres. Jacob Zuma ontvang wat hom opdrag gegee het om Themba Maseko as regeringswoordvoerder af te dank en Mzwanele “Jimmy” Manyi in sy plek aan te stel.

Brent Adrian Simons, voormalige hoofdirekteur in die kantoor van die minister in die presidensie, was vanoggend in die getuiebank om te getuig oor die omstandighede rakende Maseko se afdanking. Dit kom nadat Zuma vroeër aan die kommissie ontken het dat hy Chabane, destyds die minister in die presidensie, opdrag gegee het om Maseko af te dank in opdrag van die voortvlugtende Gupta-familie.

“Die minister [Chabane] het vir my gesê hy het ʼn oproep van oudpres. Zuma ontvang waarin hy hom beveel het dat Maseko vervang moet word. Manyi se naam is gegee om Maseko se posisie in te neem. Mense sê nou die minister is oorlede en dus nie hier om homself te verteenwoordig nie, maar daar is ook personeellede met wie minister Chabane gepraat het,” het Simons gesê.

Chabane is in 2015 in ʼn motorongeluk dood.

Simons het bygevoeg Chabane was ooglopend ontsteld toe hy hom vertel het van Zuma se oproep, en het gesê hy is nie geneë met die opvolger wat Zuma gekies het nie. Volgens Simons was Chabane bekommerd oor die omstredenheid rakende Manyi se konflik van belange ten opsigte van sy dubbele rol as direkteur-generaal van arbeid en president van die Black Management Forum.

Getuienisleier Susan Wentzel het Simons gevra: “Is jy bewus daarvan dat die voormalige president sê hy het nooit so iets gedoen nie? Wat was jou aanvanklike reaksie op sy getuienis?”

Simons het geantwoord: “My reaksie op die voormalige president se getuienis was een van teleurstelling, want minister Chabane was baie duidelik ten opsigte van hoe die kwessies wat hulle bespreek het, hanteer is. Toe hy [Zuma] dit ontken en gesê het Maseko gooi net name rond, was dit heeltemal teenstrydig met die minister se karakter,” het hy gesê.

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. Foto: (Pool Photo via AP)

“Die minister was nie gemaklik met Manyi [in die posisie] nie en het gesê ʼn persoon kan nie deel van die nuus word wanneer hulle ook namens die regering of ʼn departement praat nie. Mense het ʼn mate van respek vir minister Chabane gehad … [Zuma se getuienis] was nie korrek nie, voorsitter, en dit is die rede hoekom sommige van ons hier voor die kommissie is.”

Simons het verder getuig nadat Manyi se vyfjaarkontrak as regeringspreekbuis verval het, het Chabane aangedui hy wil nie die kontrak hernu nie. Chabane se beswaar teen Manyi is versterk nadat hy ʼn brief van die Mediadiversiteit-en-Ontwikkelingsagentskap (MDDA) ontvang het waarin die agentskap gekla het dat Manyi steeds in sy raad dien, hoewel hy nie meer hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS) was nie.

“Die minister het my versoek om regsadvies oor die saak in te win. Nadat ek die regsmening ontvang het dat hy uit sy pos verwyder moet word aangesien die pos aan die GCIS behoort, het ek ʼn brief namens die minister [Chabane] saamgestel, die regsadvies aangeheg en dit aan die president se kantoor gestuur. Ons het nooit terugvoer van die presidensie ontvang terwyl ek by Chabane se kantoor was nie.”

Zuma het ontken dat hy aanleiding gegee het tot Maseko se afdanking en sy gevolglike oorplasing na die staatsdiensdepartement in 2011. Zuma het aan die Zondo-kommissie gesê Chabane, wat verantwoordelik was vir die direkteur-generaals, kon sy naam gebruik het om van Maseko ontslae te raak.

Maseko het aan die kommissie gesê hy is afgedank nadat hy geweier het om ʼn aansienlike gedeelte van die GCIS se R600 miljoen-advertensiebegroting aan die Gupta-familie toe te ken.

Simons se getuienis is beperk tot Maseko se afdanking aangesien ander mense onder verdenking nie voldoende kennis gegee is nie. Dié mense sluit in Zuma, sy familielede en ʼn kabinetsminister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Jimmy “come lately” was skynbaar een van JZ se blue eyed manne. Is dit nie hy wat later die New Age by die Zuptas “gekoop” het nie?!!

Christa ·

Hoekom is die korrupte nie Al toegesluit met Sy oranje Pak aan nie. Soos dit Nou lyk word verder geld gemors met kommisie want Niemand word vervolg nie

blouapie ·

Kommissie vir dit, kommissie vir dat. EN GEEN VERVOLGING – net in sa

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.