Zuma het parlement mislei oor Nkandla, sê Maimane

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Sondag gesê pres. Jacob Zuma het die parlement en die mense van Suid-Afrika klaarblyklik mislei om aanspreeklikheid te ontduik oor opgraderings by sy huis in Nkandla, KwaZulu-Natal.

“Die berig in die Sunday Times bevestig wat Suid-Afrikaners al lankal vermoed, dat Jacob Zuma persoonlik voordeel getrek het uit opgraderings wat by sy R247 miljoen-woning gedoen is,” het Maimane gesê. “Dit is teenstrydig met dit wat Zuma vroeër in die parlement gesê het, toe hy aangevoer het dat hy en sy familie nie wesenlik voordeel getrek het uit die opgraderings nie.”

Zuma het vroeër aan die parlement gesê: “My huis in Nkandla is deur die Zuma-familie betaal. Al die geboue en elke vertrek wat in daardie huis gebruik word, is deur onsself gebou as ʼn familie, en nie deur die regering nie. Ek het nog nooit die regering gevra om ʼn huis vir my te bou nie, en die regering het dit nie gedoen nie.”

Zuma het ook gesê: “Die veiligheidsmaatreëls sluit nie die huise in wat julle tel nie. Dit is nie in my woning of my huis nie.”

Maimane het gesê die inligting wat die Sunday Times vrygestel het, wat nie aan die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, beskikbaar gemaak is tydens haar ondersoek oor opgraderings by Nkandla nie, wys dat belastingbetalers se geld spandeer is op Zuma se privaat woning in Nkandla, waaronder items soos lugversorging, aluminiumvensters, geplaveide paadjies en ses deurmatjies ter waarde van R1 500 elk.

“Dit is onaanvaarbaar dat Zuma toegelaat kan word om die parlement te vertrap deur vir dié instansie te lieg en herhaaldelik aanspreeklikheid wil vryspring,” het hy bygevoeg.

“Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, het ʼn plig om die integriteit van die parlement voor te hou en te beskerm. Ek het [Sondag] ʼn skrywe aan die speaker gerig dat sy Zuma skriftelik sal versoek om sy vorige mondelingse en skriftelike korrespondensie aan die huis sal verduidelik. Die speaker moet in die parlement en voor die president opstaan en eis dat sy verduideliking onmiddellik verskaf moet word,” het Maimane gesê. “Zuma het klaarblyklik die parlement en die mense van Suid-Afrika mislei.”

Die DA voer lankal aan dat Zuma ten volle bewus was van opgraderings by sy huis en dat hy volle kennis gedra het van die eskalerende koste. “Alles waaraan Zuma raak word ʼn korrupte aktiwiteit, of dit nou opgraderings by sy huis is, en of dit die aanstelling van kabinetministers is. Alles ten koste van die mense van Suid-Afrika.”

Maimane het gesê dit is inligting wat tot die lang lys van bewyse gevoeg kan word wat was op ʼn man wat nie geskik is om as ʼn president te dien nie. “Ek versoek die ANC weereens om hom te herroep. Suid-Afrika kan nie gelei word deur ʼn man wat openlik die wet en die Grondwet minag om homself te verryk nie.”

Die Sunday Times het berig nuwe besonderhede het aan die lig gekom hoe staatsgeld gebruik is om bybehore en boumateriaal aan te koop vir drie huise by Zuma se woning in Nkandla – ondanks sy ontkenning dat staatsgeld gebruik is.

ʼn Dossier wat deur Rachard Samuel, die voormalige adjunk-direkteur-generaal van die departement van openbare werke, opgestel is, bevat fakture wat wys dat die staat betaal het vir die grasdakke, meranti- en aluminiumdeure en –vensterrame, teëls, verf, pleisterwerk, lugversorging en onverklaarbare “ekstras”.

Samuel se dossier het onthul dat beamptes wat by die projek betrokke was, herhaaldelik hul politieke hoofde gewaarsku het dat Zuma ʼn gedeelte van die kostes sal moet dek.

Samuel was een van die beamptes wat as die sondebok aangewys is nadat die regering te veel spandeer het op Nkandla. Hy voer aan hy is uit sy pos gedwing op gefabriseerde aanklagte en beplan om die dossier te gebruik tydens sy regsaak vir ʼn uitbetaling.

Hy het verlede maand ʼn saak in die arbeidshof gewen, toe die hof beslis het dat arbitrasie tussen hom en die departement weer moet hervat, het die Sunday Times berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Vra maar net ·

Wat van die eed wat hy moes aflê het by sy inhuldiging?

Dawie ·

Wat is die gesegde nou weer . “Give a man rope” Ek weet net nie of hy homself sal hang nie want sy parlementere buddies beskerm hom al die pad.

Maria van Dieweeck ·

Soos Dingaan se kruisie op Retief se traktaat so meningloos was sy eed. God sal Zuma in oneer afstel. Bid vir n president wat omgee.

Joann ·

Eed? Watse eed? Hul weet nie van dit nie. Ken nie van eerlik wees en geloftes nie. Baie kerk bewus maar leef nie daar volgens nie.

Henri ·

Jy is reg, kerkbewus. dit is waar dit eindig, want die voorvader geees roep ook nog.
Die paar ouens wat nie met die voorvadergeeste akkord gaan nie is maar vêr en yl gesaai.
In elk geval die bewustes bewys telkemale dat hulle net bewus is, maar hul optrede spreek boekdele. Die Woord is mos baie duidelik, Gal 5. Aan jul vrug sal jul geken word.

Topster ·

Eed is nie deel van sy woorde skat nie en verantwoording nog minder en dit geld vir die meeste van ons lands burgers as jy verstaan wat ek bedoel

Henry ·

Toe die Parlement en die eed wat alle lede moes aflê, nog beteken het dat geen lid die ander lede met liegstories mag bedrieg nie, was oorle’ Premier John Vorster en Minister Connie Mulder baie diep in die knyp oor die Citizen en ander publikasies se befondsing met staatsgeld.

Meeste van hul ondersteuners – waarvan ek en my huis vir seker deel was – het die Rhoodie/Mulde/ Vorster/ Van den Bergh pogings om die ander kant aan die res van die wêreld bekend te stel, destyds hartlik ondersteun.

Die sogenaamde Inligtingskandaal is egter deur die politieke teenstanders van Vorster en kie., gebruik om die eerste bloedlose Coup d’ Etat in hierdie droewe land se geskiedenis van stapel te stuur. Die parlementêre reëls het destyds enige doelbewuste leuens deur ‘n lid/lede, as ‘n ernstige oortreding beskou.

Dit wil voorkom asof daardie reëlboek laaaankal reeds nie meer bestaan nie.

Henry ·

Die laaste sin van die voorlaaste paragraaf moet lees:

Die parlementêre reëls het destyds enige doelbewuste leuens deur ‘n lid/lede as ‘n ernstige oortreding beskou. Hierdie reël het aan Vorster en Mulder se teenstanders die gulde geleentheid gebied om hulle in ‘n hoek te dryf en om die “wanbesteding” van staatsfondse “bloot te lê”.

Moeggepraat ·

Vee bietjie voor jou eie stoep Maimane, die DA loop en mislei kiesers ook…

Frans ·

Hy sal vreet tot da niks me is om te vreet en dan aparthuid die skuld gee

Frans ·

Ons mag niks sleg se ni kom ons trai die ene ons moi presedent eet leka aan ons swaarverdiende mense se geld mwa

maroela ·

Skrikwekkend om te weet ons land en sy mense gaan gebuk onder hierdie klomp onbevoegde , korrupte , misdadigers , aan die bestuur van ons land , wat skaamteloos net voortgaan om elke dag nog meer bedrog te pleeg , ons land kan nie voortbestaan met leierlose mense in beheer nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.