Zuma het ‘sakke vol geld’ na VAE geneem, sê EFF

President Jacob Zuma by die amptelike gesprekke met eerste minister Sheikh Mohammed bin Al Rashid Maktoum van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) (Foto: @presidencyZA, Twitter)

President Jacob Zuma by die amptelike gesprekke met eerste minister Sheikh Mohammed bin Al Rashid Maktoum van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) (Foto: @presidencyZA, Twitter)

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het Donderdag aangevoer pres. Jacob Zuma het “sakke vol geld gevat om te gaan versteek” tydens sy onlangse besoek aan die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

“Zuma se reis na die VAE was nie amptelik nie, dit was persoonlik,” het Malema aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Hy het geld gevat om dit in die VAE te gaan versteek, net soos die Gupta-familie R6 miljard na Dubai geneem en die vereistes van die Reserwebank verontagsaam het.”

Volgens Malema was dit vir die president “maklik om te doen”, want hy is ʼn president en word dus nie deur veiligheidsbeamptes deursoek nie.

Malema het dié uitlatings gemaak na die uitspraak in die konstitusionele hof teen Zuma in die Nkandla-saak. Volgens die uitspraak het Zuma die Grondwet oortree toe hy versuim het om ag te slaan op die Openbare Beskermer se bevinding dat hy ʼn bedrag, soos bepaal deur die tesourie, aan die staat moet terugbetaal vir opknappingswerk by sy huis in Nkandla.

President Jacob Zuma by die amptelike gesprekke met eerste minister Sheikh Mohammed bin Al Rashid Maktoum van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) (Foto: @presidencyZA, Twitter)

President Jacob Zuma by die amptelike gesprekke met eerste minister Sheikh Mohammed bin Al Rashid Maktoum van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) (Foto: @presidencyZA, Twitter)

Malema het gesê Zuma beweer die reis na die VAE was om toerisme te bevorder, “maar die minister van toerisme was nie deel van die reis nie”. “Waar was die minister van toerisme as dit oor sy portefeulje gehandel het? Daardie reis was persoonlik en het niks te doen gehad met die land se belange nie.”

Malema het ook Melusi Gigaba, minister van binnelandse sake, daarvan beskuldig dat hy “baie duur pakke klere” dra, wat hy glo nie met ʼn minister se salaris sou kon bekostig nie. “Gigaba is baie korrup, hy is ook onder beheer van die Gupta-familie. Hy dra baie duur pakke klere. Sy vrou het die duurste handsakke. Ons versoek die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om ʼn leefstyl-oudit te doen op Gigaba; die res van die ANC-regering is in zombies verander deur die Guptas.”

Die omstrede Gupta-familie, wat Zuma erken het is sy vriende, besit die New Age-koerant en televisiekanaal ANN7. Die familie, wat in die middel staan van onlangse bewerings oor ʼn staatsvergryp, is ook sakevennote met Zuma se seun, Duduzane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

speedyconsalis ·

mal ema, asb voorsien dié bewyse bv fotos wat van homelby en versteekte kameras? Hoekom nou praat daar is so ding soos in die daad betrap. Nou is die kuier verby.

Veritas ·

Ek sal gladnie verbaas wees nie. Ou vader Jacob weet sy dae as president is getel en dan gaan die aasvoëls op hom toesak. Daar bestaan ‘n groot moontlikheid dat Shaik-klagtes dan weer na vore sal kom en dan is dit tjoekie-tyd vir hom. As ek hy was sou ek eerder ‘n land gekies het wat nie ‘n uitleweringsooreenkoms met S.A gehad het nie. Of het ons nie een met die VAE nie?

Johann Marx ·

Hy mag miskien nie so ver verkeerd wees nie. Die gupta vliegtuig wat op Waterkloof lugmag-basis geland het, het miskien bruilofsgaste aan boord gehad….maar hulle’t nie weer met daardie vliegtuig vertrek nie, het hulle? En wat was in die daai vliegtuig gelaai op ‘n lughawe met GEEN doeane beamptes nie? Die gerugte loop dik dat daar ‘n bietjie goud en ‘n bietjie geld opgelaai is?

alida ·

So min tyd as wat ek vir Malema het glo ek darem nie hy sal sulke uitlatings maak as dit nie waar is nie. Hy het verseker spioene in die binnekring wat hom van inligting voorsien. Al wat ek weet is dat indien dit waar is, sal Zuma moet tronk toe gaan.

Sarie ·

Sal my nie verbaas as Malema reg is nie. Hy ken van skelmstreke en het al self ‘n paar probeer . Sal seker moeilik wees vir bewyse, maar ek glo as hy dit het sal hy dit voortbring op sy eie onkonvensionele manier.

BoereBikerBaby ·

Dit mag dalk ‘n ware storie wees! Onthou julle so rukkie terug was daar ‘n berig op Maroela oor iemand wat miljoene rande in tasse gehad het?
Die persoon was aangekeer in KZN toe hy skierlik wou van vlug verander toe kom doeane agter iets in nie in plek.
Miskien was dit Zuma se wegsteek geld wat die ou wou steel….

neelsie ·

Gierigheid het al vele se ondergang beteken.
Met al die valsheid en bedrog kan dit waar wees–Malema staan ook agter die deur van bedrog!!

BoereBikerBaby ·

Hy mag dalk nie so verkeerd wees nie…..
Onthou jul so rukkie terug was iemand betrap met miljoene rande op King Shaka lughawe. Was 3 tasse met sowat 7miljoen in…
Doeane het gesien iets is nie pluis toe die ou eweskierlik wou van vlug verander – miskien nog Zuma se steelgeld self probeer steel LOL… Die vlug was veronderstel om Dubai toe te gaan.

Deesdae is enige iets moontlik!….

Martin ·

Ek dink nie Malema is dom genoeg om so storie te versin en dit in die openbaar te verkondig nie. Ek wil die een dophou.

Ben Prinsloo ·

Het baie gewonder wat het die gepeupel saam gaan maak en nie die ministers van belang nie. Nou weet ek. Malema is reg. Wie het Malema grootgemaak, hy Malema wat op n tyd self gesê het “we will kill for Zuma” Daar het ons dit nou. Nou kom die kind wat jy grootgemaak het met die waarheid uit want die kind ken die mentor se streke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.