Zuma-hofsaak: ‘NVG se besluit was rasioneel’

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Die presidensie het die besluit van die nasionale direkteur van openbare vervolging, op die vooraand van die hofsaak oor die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se besluit om korrupsieaanklagte teen pres. Jacob Zuma te laat vaar, as “rasioneel” beskryf.

Die hooggeregshof in Pretoria sal Dinsdag die DA se aansoek begin aanhoor om die NVG se besluit om 738 aanklagte van bedrog, korrupsie en rampokkery teen Zuma te laat vaar, ter syde te stel. Die NVG het die besluit in April 2009 geneem.

“Die hofaansoek is al meedoënloos nagejaag oor ’n tydperk van sowat sewe jaar en streef daarna om die besluit van die direkteur van openbare vervolging ter syde te stel. Die president was nog altyd van mening dat die hofverrigtinge ’n misbruik van die proses is deur ’n politieke party om ’n politieke agenda te bevorder,” het die presidensie Maandagaand in ʼn verklaring gesê.

“Pres. Zuma sal deur middel van sy voorleggings aan die hooggeregshof volhou dat die besluit van die nasionale direkteur van openbare vervolging rasioneel afgelei is, soos blyk uit die bewyse wat aangevoer is, en dus enige ondersoek kan weerstaan.”

Die aanklagte het gespruit uit die wapentransaksie in 1999 en die besluit deur die destydse waarnemende hoof van die NVG, Mokotedi Mpshe, om die aanklagte te laat vaar. Zuma is kort hierna tot president verkies. Die DA het die hof genader om toegang tot die sogenaamde spioenasiebande te kry. Die opnames is sedert September 2014 in die DA se besit.

Die sogenaamde spioenasiebande is bandopnames van afgeluisterde gesprekke. Volgens Mpshe wys die bandopnames daarop dat die tydsberekening van die aanklagte teen Zuma deur ondersteuners van oudpres. Thabo Mbeki gemanipuleer is.

Lees alle vorige berigte hieroor op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

NEL ·

Hoe verstaan ‘n mens die goed. Zuma was nog nie eens die president nie toe is hy al verhewe bo die gereg. 738 aanklagte teen hom van 1999 af en hy stap rond of niks met hom kan gebeur nie. Sal die spasie in 2099 dop hou en kan jou verseker daar sal niks van kom nie.

Griki ·

738 aanklagte en sal almal ‘n ondersoek weerstaan? Wat is die moontlikheid?

Oupa ·

Zuma kry dit vir baie lank al reg om die regsproses te frustreer, maar iets laat my dink sy tyd is besig om uit te loop: sy lakeie gaan nie vir altyd daar wees om hom te beskerm nie. Net jammer dat hy tot dusver die belastingbetalers se geld gebruik het daarvoor. Dít gaan ook uiteindelik opraak. Of die hofuitsprake na enige kant toe, enige positiewe invloed op die land gaan hê, is te betwyfel: die skade is klaar gedoen.

Voorlaaier ·

En ek klap i ou en word vir 9 maande tronk toe gestuur!!!!!
Ai! Die lewe is sooooo onregverdig!!!

HEVW ·

Ons wag maar. Daar bestaan baie selde so iets as lewenslank onaantasbaar, Dit is byna so iets as natuurwet. Kry dit selfs in die natuur dat selfs die sterkstes op n stadium uitgewerp word. Selfs die see maak hom van tyd tot tyd skoon. Sy kader- bastion wat hy vir homself opgebou het kan nog lelik boemerang. Ja selfs Julius Ceasar en PW. het dit pynlik ervaar.

Frans ·

Zuma was die begunstigde persoon wat gunsies en gawes en ander voordele ontvang het waarop hy nie geregtig was nie

MartinM ·

Daar is twee maniere om van Zuma ontslae te raak.
1) Mosie van wantroue moet in die Parlement teen hom aanvaar word. Dit gaan nie gebeur nie, want, as dit sou aanvaar word , word die hele ANC parlement ontbind. Behalwe as dit dmv. ‘n geheime stemming kan gebeur. Daar is alreeds van sy ministers wat teen hom gedraai het.
2) As hy sou aanvaar om sy pos te verlaat met kwydskelding van enige vervolging. Dit is waar mnr. Shabir Shaik se probleme ook weer gaan begin.
Hierdie gepaaiery met Gordhan is net watertrappery. As hulle aan die minister van finansies raak het hy en ons land baie groot probleme. Die buiteland sal daarvoor sorg.

pop ·

Ek verstaan nie dat die hele parlement van ANC een man beskerm nie. Wat se dit van hom. Dat hy soveel mag het, of dat die hele spul wat agter hom staan nie veel grys stof het nie.

Willie ·

Ek dink nie daardie is grys stof nie, Eerder so kapoenkleur stof…

Nico K ·

Ek verstaan nog steeds nie op grond waarvan die aanklagte in 2009 uitgegooi is nie. Omdat die spioenasie bande bewys het dat die tydsbereking ‘n sameswering van Mbeki ondersteuners was? Nou wat daarvan? Maak dit hom onskuldig?

Henk ·

Kemp J Kemp, as jy breindood is, moenie dink ons is almal breindood nie. Jou argumente grens aan waansinnig. Eerstens, hierdie gaan NIE oor die presidentskap nie, dit gaan oor ‘n krimineel wat in ‘n strafreghof hoort. MOENIE vergeet dat ‘n Hooggeregshof reeds bevind het hy is korrup nie. Die feit dat die saak nou eers voor die hof kom is danksy Zuma en sy regspan, wat na sy eise in 2008 om sy dag in die hof te kry, miljarde van ONS geld spandeer om uit die hof uit te bly. ‘n Regspan waarvan jy deel is. Hoe kan jy erken dat daar genoegsame getuienis en getuies is om zuma aan te kla en erken dat selfs die NVG dit erken het en terselfdertyd aanvoer dat dit zuma se reg is om ‘n regverdige verhoor te kry. Weereens MOENIE vergeet dat Zuma, jy en die res van sy regspan die rede en die ENIGSTE rede is waarom Zuma nog nie in ‘n sel sit nie. Ek meen, nog nie in ‘n beskuldigde bank gestaan het oor die saak nie. WANT JULLE HOU HOM DAAR UIT! En saam met Zuma moet die idioot wat die saak teen hom teruggetrek het, vir eie gewin en NIE in belang van geregtigheid nie, aangekla word vir regsverydeling. Want daardie besluit was NIE op regsgronde gemaak nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.