Zuma-hofsaak: ‘NVG se magte misbruik’

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die manipulasie van vervolgingsprosesse teen pres. Jacob Zuma was daarop gemik om hom aan bande te lê in die wedloop vir die ANC-presidentskap by die Polokwane-konferensie in 2007, het die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag gehoor.

“Dit sal ʼn reuse-fout, ʼn reuse-misbruik van die NVG (nasionale vervolgingsgesag) se mag wees. Die feit dat dit in die saak nie gewerk het nie, maak nie saak nie. As gevolg van die strategie sou mnr. Zuma nie president gewees het nie, hy sou verloor het by Polokwane. Mnr. [Mokotedi] Mpshe (destydse waarnemende hoof van die NVG) se besluit (om die aanklagte te laat vaar) was oor die omvang van wat jy probeer vermag het,” het adv. Kemp J Kemp, namens Zuma, gesê.

“As die DA sê omdat dinge nie so gebeur het nie, is dit nie belangrik nie, dan verdien ons om dit te hoor. Mense moet weet dat niks regtig gebeur as iemand in die NVG so iets doen nie.”

ʼn Volbank van drie regters, gelei deur adjunk-regterpresident Aubrey Ledwaba, hoor die voorleggings aan oor die omstandighede en gevolge van Mpshe se omstrede besluit in 2009 om 783 aanklagte van bedrog, korrupsie en rampokkery teen Zuma te laat vaar.

Kemp het aangevoer dat die transkripsies van die oproepe wat in die geheim opgeneem is, insluitend oproepe tussen voormalige NVG-hoof Bulelani Ngcuka en destydse Skerpioene-hoof Leonard McCarthy, daarop dui dat die vervolging van Zuma gebruik is “om sekere politieke uitslae te verseker”.

“Wat ek aan hierdie hof sê en wat ons voorhou is dat in hierdie geval die rede daarvoor (inmenging in die vervolging) was om ʼn ander persoon te kry as president van die ANC. Dit is waaroor dit alles gegaan het,” het Kemp gesê.

“Dit was soos om iemand in hegtenis te neem al het ons geweet hy gaan ʼn nier skenk vir mnr. Zuma. Ons weet die persoon is krities as ons die persoon nou in hegtenis neem in stede van ʼn week later. Indien dit gebeur dat ʼn ander nier gevind word nadat ʼn mens dit gedoen het, verander dit nie aan die omvang van die misbruik nie.

“Die misbruik is waarvoor die NVG se magte gebruik is. Dit is gebruik om te bepaal wie president van die land sou wees. Dit is gebruik vir ander doeleindes. Dit is hoe mnr. Mpshe en ander topbestuurslede (van die NVG) dit gesien het.”

Kemp het gesê die gebruik van vervolgingsprosesse om die daaropvolgende president te bepaal, was ʼn reuse “belediging vir geregtigheid”, wat Mpshe nie kan ignoreer nie.

“Die verkiesing van ʼn president is van kardinale belang in hoe ons die land regeer. Wat ʼn mens hier sien is die NVG met sy groot mag om aan te kla en te vervolg, die magte wat nou blatant gebruik word om te probeer om die uitkoms van ʼn presidensiële verkiesingsproses te beïnvloed.”

Kemp het gesê die NVG se magte word gebruik “om ʼn baie belangrike gebeurtenis op die mense van die land af te dwing”.

Die DA het die hof genader om die NVG se besluit om die aanklagte teen Zuma te laat vaar, ter syde te stel. Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John Scott ·

“Die verkiesing van `n president is van kardinale belang in hoe ons die land regeer” so sê mnr Zuma se regsverteenwoordiger. Ek dink hiermee tesame is dit dan ook van kardinale belang van wat die geskiktheid van die posbeklëer dan ook moet wees om die land met waardigheid (dus vry van ongerymdhede) te regeer. Dat laasgenoemde die oorwegende faktor behoort te wees, sal my laat dink dat die hof die versuim van die NVG behoort ondergeskik te stel en die aanklagte teen mnr Zuma te laat voortbestaan.

GES ·

Daar is soveel bedrog gepleeg dat dit moeilik is om die waarheid te ontbloot. Dit is miskien die aangewese ding om die hofsaak te laat voortgaan.

Johannes Meintjes ·

Magsmisbruik en wedersydse manipulasie word deesdae feitlik op alle vlake en terreine van ons samelewing in SA aangetref. Selfs instansies soos Ombuds word gemanipuleer, veral ook waar geld betrokke is. Dit boesem geen vertroue by die burgery van SA in nie, – en lei in teendeel en na waarneming tot korrupsie en misbruike ook onder die man en vrou in die straat. Morele verval, vanaf leierskap tot op grondvlak het ‘n aanvaarde norm in SA geword.

Nico K ·

Kom ons aanvaar dat daar misbruik was deur Mbeki ondersteuners om te probeer keer dat Zuma president moes word. Dit het niks met die klagtes teen Zuma te doen nie. Die vraag wat beantwoord moet word is of die klagtes geregverdig was. Indien wel moet die saak teen Zuma voortgaan.

Oupa D ·

Adv. Kemp se betoog is ‘n poging om die aanklagte van bedrog, geldwassery en rampokkery waarvan Mnr Zuma aangekla word, gelyk te stel aan politieke speletjies wat moontlik deur vorige Pres. Mbeki en sy kohorte gespeel was. Die twee sake het hoegenaamd niks met mekaar te doen nie. In werklikheid is dit uiters onrusbarend om te dink dat Mnr Zuma dalk net aan een van die 738 klagtes skuldig kan wees. Dan word ons land gelei deur iemand wat of ‘n bedrieër, of ‘n rampokker, of ‘n geldwasser is. Die saak moet asseblief enduit gaan en in ‘n hoër hof getoets word. Ons verdien die waarheid hieroor, advokaat Kemp!

Jan maak n Plan ·

Laat ons almal mekaar mooi verstaan. Daar sal met Zuma absoluut niks gebeur nie. Die dag as hy tronk toe gestuur word vir al sy misdade – wel dan eet en wragtig my hoed op verseker.

Anoniem ·

Jan laat ek jou verseker jou hoed is veilig soos wat ons in n piesang republiek woon.

GES ·

Kom ons wees liewer positief. Klein lekplekkies het groot damwalle al laat meegee. Die sogenaamde ‘magtige’ mense het die geneigtheid om al hoe meer waaghalsiger te word en op ‘n stadium oorspeel hulle, hulle hand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.