Zuma hoor Vrydag lot oor vervolging

Oudpres. Jacob Zuma tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: MotshwarI Mofokeng/ANA)

Oudpres. Jacob Zuma sal na verwagting Vrydag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg hoor of sy aansoek dat sy vervolging op onder meer aanklagte van bedrog permanent gestaak word, suksesvol was.

Zuma is al sowat ʼn dekade gelede die eerste keer saam met die wapenvervaardiger Thales van bedrog, korrupsie en rampokkery aangekla. Die aanklagte hou verband met die omstrede wapentransaksie van die 1990’s. Thales het deur dié transaksie ʼn kontrak gekry om gevegstelsels vir die Suid-Afrikaanse vloot te voorsien.

Die staat beweer Zuma het omkoopgeld by Thales ontvang deur sy vriend en voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik, om die maatskappy uit die voortgesette ondersoek na die wapentransaksie te hou, asook om die maatskappy gunstig te oorweeg vir enige toekomstige kontrakte.

Die oudpresident het destyds aangevoer die staat het hom probeer vervolg om hom daarvan te weerhou om ANC-president en gevolglik staatspresident te word. Zuma het in Mei 2009 wél president geword. Voormalige pres. Thabo Mbeki en verskeie ander rolspelers in staatsinstansies was volgens Zuma betrokke by dié beweerde komplot.

Vroeër vanjaar het Zuma se regspan probeer om ʼn brief voor die hof te bring om te bewys dat politieke inmenging ʼn rol gespeel het in die korrupsieaanklagte teen hom, maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die brief destyds as irrelevant afgemaak.

Zuma veg om oorlewing op verskeie fronte. Hy het reeds vantevore voor die Zondo-kommissie, wat bewerings van staatskaping ondersoek, verskyn en gaan na verwagting aanstaande week wéér daar vrae beantwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Genieve ·

Kyk n mens wil nie altyd negatief wees nie maar gaan hy ooit iets oorkom

Willie ·

Ook maar nie impi genoeg om pa te staan vir sy dade nie!

colleen ·

Hy sal ‘n weg vind om alles nog langer uit te rek. Hy sal mooi lyk in oranje, maar sal seker nooit die tronkpakkie dra nie. So is Shabir Shaik ook “siek” en het skaars gesit toe is hy ‘n vry man en lewe die lewe.

Tonie ·

Hy gaan skotvry weg kom …dis soos dit is in die land

SjN ·

Hersien Shaik se terminale wonderwerk, laat hy saam met Zuma tronk toe gaan, hulle het baie om te deel.

Gert van Wierdapark ·

Dit laat my dink aan Jeremy Taylor se destydse liedjie (nuwe naam) “Die Ge-Zum van die Bye in die vrot turksvye!!! Ter – loops, n fluister vink het vertel die eks pres. wil n aftree-oord by Nkandla begin! Skynbaar toon n Shaik-outjie belangstelling in die terminale versorgings-eenheid! He-he-he!

Scalla ·

Hy moet vinnig speel, terminaal beteken lewensduur minder as 12 maande, gaan n swak belegging wees.

Vryheid ·

Die anc het al by alle geleenthede bewys dat hulle hul brothers beskerm, Zuma sal nooit vervolg word nie!

Behoudend ·

Die VSA het sy maatjies op ‘n swartlys geplaas wat glad nie goed op Zuma en sy SA vriende reflekteer nie. Die hoop beskaam nie.

jakes ·

Daar sal dadels kom van Zuma se kamtige vervolging. Hy het menige kere gedreig dat hy alles op die lappe sou bring indien hy vervolg word. Indien hy wel alles vertel waarmee die ANC regering besig was en steeds is, sal dit chaos veroorsaak. Daar is net nie eerbare mense in die party nie. Vrot van bo na onder.

Sam Brookes ·

Laat die wiele begin rol! Hierdie boef kan gerus die res van sy lewe agter tralies deurbring. En saam met sy maatjie Shabir Steak – wat weens ‘n terminale siekte vrygestel is. Die enigste tyd wat hierdie snoek terminal siek is, is as hy in die terminus van die Durbanse lughawe naar is.

Klippie ·

Wat het van die “durbanite” geword? Hoe lank bly mens terminaal??

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.