“Dit is duidelik dat pres. Zuma die ANC gyselaar hou met die dreigement van skeuring indien die party van hom ontslae sou raak.”
Só sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus in reaksie op die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se uitlatings oor die mosie van wantroue teen president Jacob Zuma. Groenewald meen die ANC het ʼn duur les geleer ná 2007 toe hy geskeur het en die Congress of the People (Cope) gevorm is.
Volgens hom besef die ANC dat indien hy nou weer sou skeur, daar ʼn goeie kans is om in die 2019-verkiesing die mag te verloor.
“Dit is duidelik dat Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, alles in sy vermoë doen om die beeld na buite te skep dat daar konsensus en eenheid in die gesagstrukture van die ANC is, en daarom fokus hy daarop om te sê die Nasionale Demokratiese Revolusie is steeds op koers en dat die ANC ywerig werk aan ʼn padkaart om sukses te verseker in die 2019-verkiesing,” het Groenewald bygevoeg.
“Dit beteken dat Zuma ten minste tot en met die verkiesingskongres in Desember 2017 die president van die ANC sal bly, en selfs moontlik tot in 2019 as president van Suid-Afrika.”
Groenewald voeg by Zuma is ʼn meester daarvan om blaam te verskuif en dit blyk uit die konferensie dat Mantashe gesê het die aanslag het sy wortels in rassisme, etniese nasionaliteit en buitelandse kapitalisme. Wat die NUK betref, is al die bewerings teen Zuma bloot “negatiewe gerugte”.
“Daar sal gewag en gesien moet word of van die ministers wat wel ernstig hul besware geopper het teen Zuma, gaan bedank uit die kabinet, en of Zuma sy kabinet gaan skommel,” het Groenewald afgesluit.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
22 Kommentare
Sal dom besluit van enige gegriefde minister wees om te bedank. Zuma wag daarvoor, want dan plaas hy nog ‘n skoothondjie in daardie posisie.
Die gemors hou die hele land as gyselaar en verryk homself die gemors en sy trawante
Wigte en teenwigte, hehehehe.
Hy mag nou wel miskien nie skool gegaan het nie, maar nr1 ken van poltiek. Hy laat hom nie maklik vang nie.
So in 2019 gaan hy ook nie afstaan nie. Sal n bloedbad afgee