‘Zuma is ʼn politieke psigopaat’

zuma-onderhoud-2018-02-14-02

‘n Skermskoot uit die SAUK se onderhoud met pres. Jacob Zuma.

ʼn President wat nie meer tred hou met die werklikheid en hoe sake in die laaste paar jaar verander het nie. Dit is hoe politieke ontleders pres. Jacob Zuma se onderhoud Woensdagmiddag met die SAUK beskryf het.

In die onderhoud het Zuma gesê geeneen van die ANC se leiers kon nog in hierdie stadium vir hom verduidelik hoekom hulle hom nou die trekpas wil gee of wat hy verkeerd gedoen het nie. Hy het ook tydens die onderhoud gesê hy het reeds met die ANC ooreengekom op ʼn plan vir sy uittrede en dat hy in Junie sou bedank het. Sake het egter skielik twee weke gelede verander en al wat die ANC-leiers vir hom gesê het, is dat hulle tans onder groot druk is om hom te pos.

“Ek het na die onderhoud geluister en probeer sin maak uit dit wat hy sê,” het Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, gesê. “Vir my het ʼn paar dinge duidelik geword. Zuma is ʼn politieke psigopaat. Hy het geen gewete en geen skuldgevoel nie. Hy klink ook soos ʼn politieke narsis – almal rondom is verkeerd en hy toon ʼn totale gebrek aan introspeksie.

“Zuma het hom telkens verontskuldig en sy eie posisie uitgewys. Hy is begaan oor die onmiddellike besonderhede, maar as iemand vertroue in jou verloor is dit die einde van die pad van daardie verhouding,”

Venter het bygevoeg Zuma sal nou die twyfelagtige status hê om die eerste staatshoof van die land sedert 1910 te word wat twee keer deur die parlement die trekpas gegee is, eerstens as adjunkpresident in 2005 en nou in 2018 as president van die land.

Prof. Amanda Gouws, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê sy het nie die hele onderhoud gevolg nie, maar sy het ook nie enige ander reaksie van Zuma verwag nie.

“Hierdie is net slim truuks van ʼn man wat nog nie reg is om sy amp te verlaat nie en hy gaan ook nooit reg wees nie. Hy kan ongelukkig nie terselfdertyd sê hy verstaan nie die NUK se besluite nie en dan ook vir amnestie vra nie – ek dink dit is baie onderduims,” het Gouws bygevoeg.

“Vir my lyk dit Zuma is heeltemal uit pas met hoe die land, die nasie en Suid-Afrika oor die afgelope paar jaar verander het,” het Stephen Grootes, ʼn politieke kenner van Talk Radio 702 en Daily Maverick getwiet pas ná Zuma se onderhoud.

Prof. Lesiba Teffo, ʼn politieke ontleder aan Unisa, het egter gemaan dat ʼn mens tog regverdig tenoor Zuma moet wees. “Ek weet nie van enigiemand wat al afgedank is sonder dat hulle minstens wil weet waarvoor hulle die trekpas gegee is nie.

“Zuma het nou die kans gehad om sy siening van die hele saak te stel. Hy voel hy word verwyder sonder dat hy enige misdaad gepleeg het en dit kan in sekere oorde, veral uit KwaZulu-Natal simpatie vir hom wek.”

Teffo het ook aangevoer dit lyk vir hom dat die ANC se top-bestuur die hele situasie met Zuma baie slordig hanteer het.

“Die ANC het homself in die voet geskiet. Die hele situasie is vir my ʼn kommunikasie- en skakelwerkfout want nou laat Zuma dit lyk of hy gedruk en gedreig is om sy amp te verlaat. Hy gaan hierdie kaart nog lank speel.”

Hy glo Zuma behoort nou amptelik, soos dit nou al sy styl is, in die middernagtelike ure van Woensdag ʼn aankondig te maak dat hy bedank. “Anders sal hy dit Donderdag, etlike ure voordat die mosie van wantroue in hom ingestel word, doen.

“Ek hoop en wens net dat ons hierdie impasse op ʼn redelike manier kan oplos sonder dat dit later by die ANC, en selfs die land, spook. Tog dink ek Zuma voel hy het nou minstens ʼn kans gehad om sy sê te sê – hy het verduidelik en gewaarsku.”

Op ligter noot: Tannie Evita Bezuidenhout, die satirikus Pieter Dirk-Uys se bekende alter ego, wat ʼn sosiale vlinder en self-afgevaardigde politieke aktivis is, het kort ná wat moontlik Zuma se laaste onderhoud as die land se staatshoof was, die volgende getwiet: “Hierdie Mshowerlozi se wolk het ʼn silwer randjie – vir die eerste keer sedert 1994 is die parlement verenig as ʼn ware beheerliggaam. Amandla/Vrystaat!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ellisras ·

Dit is jammer Gerrie Nel het New Zealand toe uitgewyk. Hy kon gehelp het. Ongelukkig het nie veel gebeur in sy tyd nie.

Johann ·

Prof Tefo nogal ne? Soort soek soort “prof”, en Zuma is plain n PSIGIPAAT… nevermind politiek as verskoning! Gewetenloos, lafhartige psigopaat! LIEG so sy stem kan nie byhou tydens die onderhoud nie, kug en keelskoonmaak oor en oor. Fisies tekens van die manifestasie van boos en leunaar! Daars n spesiale plek in die hel vir Jacob Zuma en sy mede boosdoeners… PROF!

neels ·

Ja daar is niemand so doof en blind soos hy wat nie wil sien nie of nie wil hoor nie. Dit is mos die nie amptelike slogan van die ANC ” ek weet nie, niemand het my gese nie , ek het dit nie gesien of gehoor nie, dit was nie ek nie , ek is verkeerd aangehaal en ek was nie daar nie.” Die referein het die land nou al tot vervelens toe gehoor die laaste 21 jaar.

Ou Krimpvarkietjietjietjietjie van Wonderland ·

Waaroor gaan ons liewe Suid-Afrikaners tog praat en ons mee besig hou in die ná-Zuma era terwyl ons vergeet dat daar so iets is as ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid en ongebreidelde bevolkingsgroei? Waarmee gaan die stortkop embleem nou mee vervang word? ‘n Buffelhoring?

Ellisras ·

Ek DINK net Gerrie Nel het getrek. Hy is so skaars soos Shaun the Sheep.

Tessa ·

Met alle respek Theo …..hoekom het dit julle presies 10 jaar geneem om tot daai slotsom te kom? Met die ANC Kongres in 2007 het die die Regses al geweet hier kom groot moeilikheid……

Hanna ·

Die aaklige werklikheid is dat Zuma, nes Robert Mugabe, steeds die held van miljoene Afrikane is… Cry my beloved country!

Moeggewag ·

Zuma; wat het ek verkeerd gedoen.? Waarom wil julle my afdank. Waarom het julle my beskerm die talle kere wat ‘n mosie van wantroue teen my ingestel is.? Hierdie is ammunisie vir baie politieke gevegte vir die opposisie in die jare wat volg. Hulle moet hierdie geleentheid nooit laat verbygaan nie.
Die ANC het sy morele kompas onder Mbeki verloor. Zuma het die ANC ( en die hele land daarna) in die woestyn binnegelei. SA is op alle gebiede verwoes. En dit sit nie in die huidige ANC leierskap se broek om die land te RED nie.

Akram ·

Die rede hoekom die redes vir die besluit nie gegeekan word is dalk,a, indien hulle hom vertel dat dit oor korrupsie is, dan kan daar dalk nog ander saam met hom val.

Theresa ·

Tussen die 700+ misdade was daar seker nog van die hoës betrokke.
Vreesaanjaend om te dink die land se leiers kom met sulke goed weg. In diepte ondersoeke is nodig om die totale vrot appel te verwyder.

Johannes ·

As hy nie kon sien wat hy verkeerd gedoen het nie is hy blind en doof. Hy moes nooit president geword het nie

Mariana ·

Afriforum met Gerrie Nel in beheer staan gereed om hom te vervolg volgens die nuutste nuusberig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.