“Zuma is onskuldig oor Nkandla”

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

ANC-LPs het Dinsdag versoek dat pres. Jacob Zuma van enige oortreding in die omstrede Nkandla-sage vrygespreek sal word.

Die LPs het gesê daar is geen bewyse dat Zuma die luukshede by sy huis in KwaZulu-Natal versoek het of dat hy bewus was van die wanbesteding van publieke fondse toe die koste van die sogenaamde veiligheidsopgraderings tot R246 miljoen eskaleer het nie.

“Wat baie duidelik is, is dat die president nie enigiets versoek het nie en die president het nie enige geld ontvang nie,” het ANC-LP Mmamoloko Kubayi gesê.

Opposisiepartye het verlede week uit die ad hoc-komitee oor Nkandla onttrek nadat die regerende party nie die Openbare Beskermer se bevinding, dat Zuma ʼn gedeelte van die projek moet terugbetaal, wou afdwing nie.

Senior ANC-LP Mathole Motshekga het Dinsdagoggend dit benadruk dat hy meen die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se werk is onderworpe aan parlementêre oorsig en dat die opposisie doelbewus nie die grondwet in hierdie geval reg interpreteer nie. “Ons moet hierdie saak nou afhandel,” het hy gesê. “Die regstellende stappe wat die OB aanbeveel het, is nie verpligtend vir die parlement nie, want indien dit wel só was, het die OB regsbevoegdheid bó die parlement. Dit sou absurd wees.”

Die ad hocpkomitee het Dinsdag gesê hy is gereed om sy verslag te begin opstel sodat hy die verslag voor die sperdatum van 24 Oktober aan die Nasionale Vergadering kan oorhandig. Die komitee vergader weer volgende week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakoos ·

Maroela, dit sal waardeer word as julle beriggewer bietjie goed wil ingaan op die komitee se siening oor wat die regulatoriese agtergrond is vir sekuriteitsopgraderings by wonings van presidente en ministers.

Uit die komiteebesprekings soos ek dele daarvan op die parlementere kanaal gevolg het, wil dit voorkom of die dinge wentel rondom die vraag of die Wet op Sleutelpunte die opgraderings magtig en of dit in terme van ‘n Kabinetsmemorandum van 2003 oor die kwessie gedoen is. Madonsela het die Sleutelpuntewet gekies, die staat se Ondersoekkomitee beskou die kabinetsmemo as die basis.

Indien die uitsappende opposisiepartye die kwessie wil hof toe vat, sal hulle waarskynlik rondom hierdie enkele punt moet argumenteer oor die geldigheid of korrektheid van die huidige komitee se bevindings.

Chipster ·

Ja, ek het ook die storie gelees van al die koning se raadgewers wat hom te vertel dat hy pragtig lyk in sy naakte gewaad…presies dieselfde hier!

alet ·

Hy. Is seker die grootste skelm in die land ander word. Gevang en hy Zuma loop rond en lag die stortkop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.