Oudpres. Jacob Zuma se prokureur het hom onttrek aan die staat se saak teen Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales.
Dít kort voor die verhoor eindelik volgende maand sou begin.
Die prokureur Eric Mabuza het Woensdag ’n kennisgewing van onttrekking by die KwaZulu-Natalse hooggeregshof ingedien waarin Mabuza Prokureurs as Zuma se prokureurs van rekord in die staat se korrupsiesaak teen Zuma en Thales onttrek.
Maroela Media het vroeër berig die verhoor is geskeduleer om van 17 Mei tot 20 Junie plaas te vind nadat dit verlede jaar vier keer uitgestel is.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het ontvangs van die kennisgewing bevestig en gesê die staat is steeds gereed om volgende maand met die verhoor voort te gaan.
Die oudpresident en wapenvervaardiger staan tereg op 16 aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery. Die saak hou verband met die wapenskandaal toe wapentuig tydens Zuma se ampstermyn van Thales aangekoop is. Die ondersoek na die multimiljoenrand-wapentransaksie het al in die vroeë 2000’s begin. Zuma is die eerste keer in Junie 2005 aangekla, ná die skuldigbevinding van sy voormalige finansiële raadgewer Schabir Shaik. Shaik is skuldig bevind aan twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.
Zuma het destyds na bewering meer as R4 miljoen in omkoopgeld in die sak gesteek.
Zuma en Thales ontken skuld.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
25 Kommentare
Hoe lank gaan die land toelaat dat hierdie man wegkom? Hierdie is n beplande optrede om weereens die hofprosedure te ontduik. Al wat “nuwe” regspan gaan se is dat hulle nie genoeg tyd gehad het om voor te berei nie. Hoekom vat die regter nie Mabuza vas nie? Hy en sy vrou besit die korrupte Ithuba lotto. So geld nie n probleem nie. Dis so beplan!
Dis alles strategie, die saak gaan nou eenvoudig net weer uitgestel word, want nuwe prokureur(s) gaan aangestel word.
Van af wie word die geltjie regtig af gevat?
Die land is siek en sat van Zuma se gemors. Hy sal ook skuld ontken tot hy die dag sy kop neerlê.
Ai dit word al hoe interresanter