Zuma kap Zille oor ‘inligting lek’

Helen Zille Foto: Helen Zille, Facebook

Helen Zille Foto: Helen Zille, Facebook

Pres. Jacob Zuma het Woensdag Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, gekap dat sy sy vertroue misbruik het deur “al weer vertroulike inligting aan die publiek te lek”.

Die president het in ʼn verklaring gesê hy is teleurgesteld met Zille se optrede.

Volgens Zuma het hy onlangs ʼn raadplegende vergadering met al die premiers van die nege provinsies saamgeroep in aanloop tot sy staatsrede en die begrotingstoespraak deur die minister van finansies. “Die vertroulike inhoud van die raadpleging is deur me. Zille aan die publiek bekendgemaak sonder toestemming,” het die presidensie gesê.

“Me. Zille het voorheen ook vertroulike inligting rakende ʼn vergadering tussen pres. Zuma, die premiers en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (IEC) in aanloop tot die nasionale verkiesing in 2014 aan die publiek bekendgemaak.”

Zille het Dinsdag in haar provinsiale regeringsnuusbrief gesê die land se ekonomiese omstandighede het Zuma en sy kabinet gedwing om “ingrypende” begrotingsbesnoeiings in werking te stel.

In die nuusbrief getiteld “Ons begrotingskrisis dwing ʼn keuse tussen salarisse en dienste”, het Zille geskryf: “Verlede week het ek ʼn spesiale provinsiale kabinetsvergadering byeengeroep. Dit is iets wat ons net in buitengewone omstandighede doen, gewoonlik ʼn aanduiding van ʼn reuse-uitdaging of krisis.

“Ons het die vergadering bespreek wat ek die vorige week in Pretoria bygewoon het en deur pres. Jacob Zuma gelei is, waar premiers onomwonde en reguit ingelig is dat dringende en verrykende begrotingsbesnoeiings benodig word.”

Zille het verder geskryf dat die nasionale kabinet onderneem het dat geld wat vir nasionale en provinsiale gebruik gewaarmerk is, drasties besnoei sal word, waarvan die besonderhede in min. Pravin Gordhan se toespraak bekendgemaak sal word.

“Vir die Wes-Kaap sal dit honderde miljoene rande se begrotingsbesnoeiings oor die volgende drie jaar beteken om die boeke te laat klop,” het sy gesê. “As ons dit toepas soos die nasionale kabinet voorgestel het, sal dit ʼn reuse-invloed hê op ons vermoë om aan infrastruktuur en personeel te bestee. Ons sal noodgedwonge vakante poste moet vries en aansienlik moet afskaal op nuwe poste, waaronder vir onderwysers, om ons snelgroeiende bevolking te dien.”

Zuma sal die staatsrede volgende Donderdag in die parlement lewer, met Gordhan se begrotingstoespraak twee weke later.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Mick ·

Zuma moet haar liewer bedank dat sy namens hom alles klaar uitgeblaker het, want hy weet dat niemand na ‘n ou luister wat nie ses woorde agtermekaar vlot kan lees nie? Dan is sy begip van getalle “Met Lof Gedruip”. Ek gaan in elk geval net die eerste 10 minute van die Parlementsopening op Televisie kyk, in die hoop dat daar weer ‘n massiewe Sirkus element homself afspeel soos verlede jaar met die EFF. Daarna gaan ek slaap soos die res van die ANC kaders in die Parlement.

André ·

Mick jou kommentaar is skerp. Ek het nou lekker gelag…….jy het my dag gemaak met die raakvat kommentaar.

Michelle Roos ·

Alles oor Zuma is altyd vertroulik, dis omdat hy so baie het om wegtesteek.

marianna ·

Wat is so vertroulik aan hierdie nuus? Almal ken die situasie in hierdie land

ann ·

Verreikende begrotingsbesnoeiings.nie verrykende begrotingsbesnoeiings nie.

Francois le Cochon ·

Ann – jy verstaan nie, verrykende besnoeings beteken besnoei en steek dan die geld wat jy spaar in jou sak !!!

Dee ·

Like!!!
Dankie vir die regstelling, Ann. As dit maar verrykend was!

Michael ·

Ek sien geen probleem daarmee nie die belasting betalers het die reg om te weet wat aangaan,wonder hoekom die ANC altyd agteraf moet wees

Dee ·

Afgesien van ‘n probleem, die belastigbetaler mòet weet. Dit is òns geld, òns eiendomme en òns land wat betrokke is en geheime daarmee sal konkel wees.

Trolle ·

Toemaar Zuma ek vertrou haar ook nie,maar so ook nie vir jou nie.Wat staan my te doen?

Theresa B ·

Iemand moet die skuld kry vir al die gemors in die land. Almal behalwe diè wat regtig skuldig is aan die verwoesting van ons mense en ons land………..Urgh!!!

christine ·

Hi hoe het hy dit reggekry om te weet dis sy. nooit gedink hy sal dit kan raai nie. So hy kan dink nou toe nou

EMK ·

Dis alles, alles, alles verkiesingsfoefies. Ons, as belastingbetalers, wat sy en die ander kaders se buitensporige salariss moet uitwurg uit ons geldjies, het alle reg om te weet wat aangaan. Kyk die ANC probeer nou enigiets om ander partye in ‘n slegte lig te stel, as dit nie so belaglik was nie was dit dalk snaaks.

Hein ·

My mening is dat die laat so geraak het omdat die bevolking dit toegelaat het. Die enigste manier om in ‘n mate briek aan te draai aan die korrupsie en wanbestuur om die regering/instansies hof toe te neem d.m.v burgeregtegroepe soos Afriforum, Outa. Die verantwoordelike minderheid is eenvoudig te min om ‘n duik by die stembusse te maak. Elke jaar is daar groot optimisme dat die verandtwoordelike opposisie beter gaan doen by die stembusse maar dan kom neem party soos die EFF se steun weer toe. My voorspelling is dat indien die ANC dit regkry om die groot wegbly stem te lok of die EFF die groot wegbly stem kry dat die soogenaamde verantwoordelike opposisie se steun gaan afneem. In Zim het die mense passief rondgesit en alles het vererger onder die regime. Hier in SA gebeur dieselfde net met ‘n stadiger pas…

wilma ·

Verstaan nie hoe kom sy nou in die prentjie is dit nie dalk van sy eie mense niem vra maar net

Jef ·

Ons belasting betalers wat alles betaal, as julle so kla daaroor hoekom betaal julle dan nog belasting.
Betaal simpelweg nie jou belasting nie en kyk dan wat gebeur.

Hein ·

Jef ek is met jou. Indien ons dit nie doen vol ons dieselfde paadjie as Zim. Iets foen is beter as niks doen.

Michelle Roos ·

Alles oor Zuma is altyd vertroulik, dis omdat hy so baie het om wegtesteek.

André ·

Hein en Jef. Ek is nou nie ‘n ekonoom nie, maar julle redeneer soos die politikuste hulself. Waar in jou lewe kan jy met ‘n gesonde verstand dink dat as almal hulle belasting verpligtinge stopsit, dit die land gaan regruk. Skrik wakker man en lewer sinvolle kommentaar.

M A ·

Behalwe dit, vertel my hoe mens jou werkgewer keer om belasting af te trek. En as jy nog moet inbetaal, word jy vervolg as jy dit nie doen nie. Dit sal nooit werk om nie belasting te betaal nie.

trienie oosthuysen ·

Sal ‘n goeie geduldige siel tog nie vir die stommerik verduidelik wat ‘transparency’ is nie? Mooi stadig en met prentjies want siestog , hy is maar stadig om te begryp (maar vinnig om te gryp) wie doen deesdae Mac Maharaj se werk as beeldpoetser?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.