Zuma klou; koukus moet nou besluit

anc-leierskap-pres-jacob-zuma-01

Jacob Zuma. Foto: Jonisayi Maromo / ANA.

ANC-parlementslede het in groot getalle by die parlement begin opdaag vir hul koukusvergadering, waartydens hulle waarskynlik opdrag gaan ontvang om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak, of hul poste en inkomste as LP’s te verloor.

In ‘n ongewone skuif wat dui op kragdadigheid van die Ramaphosa-kamp, het Maroela Media vertroulik verneem dat die party se tesourier-generaal, Paul Mashatile, die koukus se instruksies gaan verskaf.

Mashatile is waarskynlik die sterkste Ramaphosa-vennoot in die ANC se topses-leiers. Dit sal die eerste keer wees dat koukus-instruksies deur die tesourier-generaal gegee word. Gewoonlik kom sulke streng instruksies van die sekretaris-generaal, maar die huidige sekretaris-generaal is Ace Magashule, ‘n Zuma-vennoot wat gister ‘n uiters swak indruk op ‘n mediakonferensie gemaak het toe hy Zuma ‘n paar keer verdedig, en ook nie die moontlikheid uitgesluit het dat die ANC kan skeur nie.

Malusi Gigaba, minister van finansies, se stelling aan CNN ‘n paar uur gelede dat Zuma tot 10:00 vanoggend gehad het om te bedank, waarna die ANC parlementêre prosesse sal gebruik om hom in die pad te steek, toon dat sterk instruksies aan die koukus gegee sal word, en dat die uurglas vir Zuma ongenaakbaar uitloop.

Boonop is drie van sy Gupta-vriende vanoggend in ‘n klopjag by hul huis in Saxonwold in hegtenis geneem, so die net trek al stywer – en vinnig. Dis eintlik genadeloos.

Zuma sou 10:00 begin om die land oor sy toekoms toe te spreek, maar die presidensie het op die nippertjie aangekondig hy gaan dit nie doen nie. Byt hy vas, gaan die poppe behoorlik dans, want hy het nog ‘n paar skadelike troefkaarte wat hy teen die ANC kan speel – en hy speel vuil. Boonop het hy in hierdie stadium nog beheer oor die veiligheidsmagte, en hy het in die verlede nie gehuiwer om hulle op die mees laakbare manier teen sy opponente in te span nie.

Na wat Maroela Media vertroulik uit ANC-kringe verneem, dreig Zuma die afgelope maande openlik om die ANC te skeur as die party hom nie ter wille is nie – deur byvoorbeeld nie gehoor te gee aan sy versoek dat hy ‘n verdere drie tot ses maande wil hê om sy taak af te handel nie.

Basies is sy dreigement duidelik – hy sal nie alleen ondergaan nie; hy sal baie ander saam met hom laat sneuwel, en hy weet, om ‘n ou politieke uitdrukking te gebruik – waar die lyke begrawe lê; hy ken die geraamtes in almal se kaste.

Binne die Ramaphosa-gesinde deel van die ANC is daar verskeie vrese indien Zuma vasbyt in sy posisie.

Die eerste is dat hy die Russiese kernkragooreenkoms, wat ‘n biljoen (“trillion”) rand kan kos en die land bankrot kan maak, wil probeer deurvoer. Daar is sterk aanduidings dat Zuma groot beloftes aan ‘n paar baie moeilike Russe gemaak het oor daardie ooreenkoms. Zuma sal nooit weer gerus slaap nie want daardie ouens vergeet nie, en Ramaphosa het erken die land het nie nou geld of nodigheid daarvoor nie.

Die tweede is dat hy ‘n terugvegpoging wil begin in die drie provinsies waar sy steun byna volkome is – KwaZulu-Natal, Noordwes en die Vrystaat. Dit kan groot probleme vir die ANC as party veroorsaak in die aanloop tot die 2019-verkiesing, en kan die party se nasionale meerderheid in die gedrang bring.

Die derde moontlikheid wat genoem word is dat Zuma weet daar is so ondenkbaar baie en erge inligting wat openbaar sal word as hy dit nie meer kan versteek nie, dat elke dag vir hom een meer dag van vryheid beteken. Indien wel, wys dit hoe benard sy posisie is.

Mens hoop net nie hy gebruik enige ekstra tyd in die presidensie om sy kornuite in die veiligheidsmagte en die presidensie te kry om inkriminerende inligting en dokumentasie te vernietig, soos die NP-regering in die aanloop tot 1994 in die Yskor-hoogoonde gedoen het nie.

Maar dit is nou waar Gigaba se stellings aan CNN belangrik raak. As hy reg is, sal die ANC vandag uiteensit wat sy taktiek is om deur parlementêre stappe van Zuma ontslae te raak. Hulle sit met een penarie – die vlugvoetige EFF het hulle voorgespring met ‘n mosie van wantroue, so die ANC kan moontlik met die verleentheid sit dat hulle ‘n opposisiemosie sal moet steun as hulle van hul eie partylid as president ontslae wil raak.

Die veelparty-hoofswepevergadering wat vanoggend om 08:00 sou plaasvind, is tot 14:00 uitgestel. Daardie vergadering behoort te besluit of ‘n mosie van wantroue gaan dien.

Hoe dit ook al sy, ons in Suid-Afrika is besig om geskiedenis voor ons te sien gebeur – geskiedenis wat nou teen verhoogde snelspoed afspeel, klaarblyklik tot positiewe gevolg vir die land.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Genieve ·

Interesant neh so speel die politiek en zuma faksie die bal as dit moet wenpaal toe gaan

Theresa B ·

Ag regtig. Julle reageer altyd soos wafferse hero’s. Kom nou net tot die punt.

SLUIPER ·

Zuma gaan nerens heen nie. Hy is hier om te bly tot sy tyd om is.

Johanna Botha ·

O herings gaan hy die pilare op ons almal wil omtrek ….

ONS WEET ·

Hy klou soos MUGABE, jy sal hom met die WEERMAG moet verwyder en die weermag is aan sy kant . so vergeet maar daarvan om vir NEET te verwyder .. hy gaan klou tot die einde toe . dit is TIPIES AFRIKA leier . al die Westerse leiers tree met waardigheid af, al het hulle net een klagte teen hulle, wat nog te sê oor die 700. As hulle op iets uitgevang word buig hulle maar die hoofde en gaan . maar O HEL .. in AFRIKA werk dit anders .. as hulle nie met geweld verwyder word of GEDREIG word om met geweld verwyder te word nie sit hulle so vas op daai troontjie asof hulle met super glue geplak is.

Huil nie saam nie ·

Is dit nie tyd vir die ANC om te skeur nie. Dalk help dit blinde stemmers om ‘n slag te kyk waarvoor hulle stem as daar bietjie meer verkeidenheid opsies is. Wonder iemand nog of Zuma eenvoudig gaan beheer oorgee en laat gaan? In julle drome! Die ware Zulu slaan deur hierso, gaan kyk gerus wat was Shaka en Dingaan destyds bereid om op te offer sodat hulle mag kan behou…. Watch this space.

SjN ·

Natuurlik het hy sy tande geslyp vir die kernkrag ooreenkoms waaruit junior n pot vol geld kry, so so dat Pravin in die nag gefire is en Giggelbaba die transaksie geteken het nog voor hy aangestel was, die show raak warm.

Fanie ·

Hoe kan n grondwet n skelem staatspresedent beskerem is die hele suid afrika te swak om hom uit te haal wie kom eerste die land of die presedent

Cherokee ·

Jan-Jan, mag die Voorsienigheid gee dat jou laaste paragraaf.. jou laaste sin, bewaarheid word; daar waar jy spekuleer met hoop op ‘n positiewe gevolg vir ons land.

Asjas ·

Die pop corn is lankal klaar, DIE verdien ‘n full spread … dip, chip, biltong en droe wors!!

Flip Pretorius ·

Die ander kant van die munt is natuurlik. Hoe langer Zuma sy eie party die ANC gyselaar hou, hoe minder genade gaan sy eie party hom bied as hy in die hof verantwoordelik moet neem vir al die aanklagte teen hom. Hy is onbewustelik besig om sy eie graf lelik diep te grawe, en ek glo daar is n hele klomp van die huidige ministers en MP’s wat in daai selfde gat gaan verdwyn, omdat hulle nie bereid was om Cyril en sy span te ondersteun nie. Dit is dalk n goeie ding dat die man so vasskop, die land kan dalk gereinig wees van politieke misdadigers as hy die dag op straat sit

Callie ·

Wees maar op jul hoede as Weermag lede en voertuie skielik in dorpe is. Daar word nou geen oop gat gelaat waardeur hy kan ontsnap nie. Wat doen enige een wat vasgekeer is. Hy baklei met alles. Met Russe wat jou gaan wil uithaal, jou eie kaders wat saam met jou tronk toe gaan, dis te erg. Hier kom n ding

Fanie ·

Zuma moet maar vir die Proteas openings kolwer word …. hulle sal hom NOOIT uitkry nie

Flip Pretorius ·

Shame arme man se nou hy weet van niks wat hy verkeerd gedoen het nie. Hoe kan hy loop as hy niks gedoen het nie. Is nou weer een van daai gevalle waar die skouers opgetrek word en gese word ek weet nie, was nie ek nie. Hel Zuma hoekom blameer jy nie sommer ook apartheid vir die gemors wat jy aangejaag het nie.

PJC ·

Ek dink die hoof rede waarom JZ so vasklou aan die mag is die kerkrag ooreenkoms met die Russe. Hulle is nie ouens met wie jy onnodig swaarde kruis nie. Hopelik kry hy dit nie reg om hierdie ooreenkoms deur te druk voor hy waai nie.

Theo Stehle ·

Wat ons land nou beleef is die kulminasie van ‘n proses wat in Mei 17 begin het met ‘n gebedsbyeenkoms by Bloemfontein waaraan oor een miljoen deelgeneem het. God het van toe af in die land ingegryp en Hy alleen kry die krediet vir wat ons nou beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.