Zuma kry pak oor afskaffing van SAOG-menseregtehof

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag beslis voormalige president Jacob Zuma het onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik opgetree toe hy deelgeneem het aan die afskaffing van die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Die SAOG-tribunaal het sigself vinnig as ’n gerespekteerde menseregtehof vir die hele Suider-Afrikaanse streek gevestig. Dié tribunaal het in November 2008 ten gunste van wyle Mike Campbell en 77 ander kommersiële boere beslis dat Zimbabwe se grondhervormingsproses onregmatig en rassisties was.

In 2011 het die leiersberaad van die streek egter op aandrang van Robert Mugabe, destydse Zimbabwiese leier, besluit om die tribunaal se verrigtinge op te skort nadat dit bevind het dat die Zimbabwiese regering aan minagting van die hof skuldig was. Mugabe is destyds deur oudpresident Jacob Zuma en al die ander SAOG-leiers daarin gesteun.

Die hofaansoek teen die Suid-Afrikaanse regering se medepligtigheid in die afskaffing van ’n menseregtehof is aanvanklik laat in 2015 deur die Suid-Afrikaanse Prokureursorde gebring. Ben Freeth, wyle Mike Campbell se skoonseun, asook Luke Tembani, ’n swart kommersiële boer, en drie ander boere het sedertdien met die ondersteuning van die burgerregte-organisasie AfriForum suksesvol aansoek gedoen om tot die saak toe te tree.

Argumente in die saak is op 5 Februarie vanjaar aangehoor voor die uitspraak Donderdag gelewer is.

“Dit is duidelik dat die president [Zuma] se handtekening, nie soos deur die respondente aangevoer, die respek van ʼn instansie kon verseker nie. Inteendeel, dit het die noodsaaklike SAOG-instansie, die tribunaal, drasties ondermyn. Dit het afbreuk gedoen aan die SAOG se eie statuur en institusionele aanspreeklikheid en het die SAOG-verdrag self oortree,” het regterpresident Dunstan Mlambo uit ʼn eenparige beslissing van ʼn volbank hooggeregshofregters voorgelees.

Mlambo het gesê as dit die bedoeling van die Zuma-regering was om Pretoria van die SAOG-verdrag en protokol te onttrek, moes toestemming eers by die parlement verkry geword het. “Versuim om dit te doen, in die huidige konteks, is onwettig en irrasioneel,” het Mlambo gesê.

“As gevolg daarvan, moet die applikant [die Suid-Afrikaanse Prokureursorde] se argument rondom die rasionaliteit van die president se optrede gehandhaaf word. Daar is geen rede om nie die bevel toe te staan soos deur die prokureursorde versoek nie.

“Daar word verklaar dat die eerste respondent [Zuma] se deelname om die SAOG-tribunaal op te skort en sy gevolglike ondertekening van die 2014-protokol van die SAOG-tribunaal, onwettig, irrasioneel en dus ongrondwetlik was.”

Die hof het verder ʼn kostebevel aan die aansoekers, sowel as die partye wat as vriende van die hof tot die saak toegetree het, toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

SHAME ON YOU ZUMA… nie asof jy enige gewete van watter aard ook al het om ooit verandwoordelikheid te aanvaar vir jou vergrype nie!!!!!!

Anoniem ·

…kostebevel is toegestaan…

Wie betaal nou vir wie?
– Ramaphosa (omdat hy nou prez is)?
– Zuma (want hy het die oortreding begaan)?
– Indien Zuma, betaal hy self want hy word nou nie meer outomaties deur Jan Publiek se belasting befonds nie?

Johan ·

Die belastingbetaler. Het jy dan enigiets anders verwag? Solank die belastingbetaler betaal sal ons howe besig bly

Koos ·

Goed, gaan die tribunaal nou herleef? Nee.

Dit het dus geen gevolge behalwe dat die prokureurs geld hieruit maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.