Zuma-medebeskuldigde se aansoek vandeesweek aangehoor

Argieffoto Foto: armyrecognition.com

Die Franse wapenmaatskappy Thales, die voormalige pres. Jacob Zuma se medebeskuldigde in ʼn korrupsie-saak, glo nie dat hy die regverdige verhoor gaan kry waarop hy geregtig is nie, het die maatskappy Sondag in ʼn verklaring gesê.

Die maatskappy se aansoek om sy vervolging permanent te staak sal van Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg aangehoor word nadat dit by ʼn vorige geleentheid uitgestel is.

Die maatskappy word in die gesig gestaar deur ʼn aanklag van rampokkery, twee aanklagte van korrupsie en een van geldwassery nadat Zuma na bewering omkoopgeld van die Franse wapenmaatskappy via sy voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik, ontvang het. Die saak hou verband met die land se omstrede wapentransaksie waardeur Thales ʼn multi-miljard rand kontrak toegeken is om wapens aan die Suid-Afrikaanse vloot te voorsien.

Zuma staan op sy beurt tereg op een aanklag van rampokkery, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 aanklagte van bedrog.

Die maatskappy het Sondag in die verklaring gesê sy aansoek om permanente vervolging te staak is op 30 November verlede jaar uitgestel tot eerskomende Maandag wanneer sy aansoek daarop gerig is om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om die vervolging teen die maatskappy te hersien, ter syde te stel asook om aansoek te doen dat die vervolging permanent gestaak word weens die staat se alewige vertraging van die hofverrigtinge.

Die verhoor vir die aansoek om sy vervolging permanent te staak sal na verwagting tot en met Donderdag aangehoor word.

Voormalige pres. Jacob Zuma en Christine Guerrier, ʼn verteenwoordiger van die Franse wapenvervaardiger Thales, in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Durban (6 April 2018). Skermskoot: SABC regstreekse uitsending

“Met die inagneming van die lang vertraging van hierdie saak, wat geensins Thales se skuld is nie, tesame met ʼn verskeidenheid faktore buite sy beheer, glo die maatskappy nie dat hy ʼn regverdige verhoor gaan kry soos dié waarop hy onder die Suid-Afrikaanse Grondwet en internasionale wet geregtig is nie,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig die maatskappy het tydens ʼn vorige geleentheid al gesê sy reg tot ʼn regverdige gehoor word geskend.

“Die uitstelle was uiters lank, die voorverhoor-onreëlmatighede is duidelik, die vooroordeel teenoor die maatskappy is blatant, daar is geen slagoffers of klaers nie, en die politieke inmenging in die vervolgingsproses is alles faktore wat deur die hof in ag geneem moet word,” het die maatskappy destyds aangevoer.

Thales hou vol dat hy die reg respekteer en sy volle samewerking tot dusver gegee het. Die maatskappy het ook verseker dat hy dit sal volhou.

Zuma het op soortgelyke gronde ook aansoek gedoen om sy vervolging permanent te staak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Boerboel ·

Nuwe scorpions dame vat vir Zuma vas. Hy will weghardloop

Johan ·

Thales sê daar was geen slagoffers nie. Hulle is verkeerd. Die Suid-Afrikaanse belastingbetalers was die slagoffers!

Cherokee ·

Dit klink asof Zuma gebruik gemaak het (lees plagiaat) van die Franse Maatskappy om ook te probeer ontduik.

Talie ·

N lieflike presedent word nou geskep vir al die ander boosdoeners se sake wat wag. Gaan hulle daarmee wegkom?

Johan ·

Thales hoef amper nie bekommerd wees nie. Die statistieke vertel ons dat jou kans om skuldig bevind te word in Suid-Afrika, is omtrent 5%….

? leser ·

waars denel, ek het verstaan hulle is groot wapen vervaardigers in suid afrika, of het hulle kennis ook saam met jan van riebeeck land verlaat, sies, ek skaam my vir julle, julle kan maar net nie julself help nie

Elna ·

Johan jy is 100% korrek. En daar sal seker weer dadels kom van die saak. Jacob Zuma is mos onaantasbaar. Hy kom weg met alles en ons belastingbetalers mag niks se en niks doen nie.

Gert van Wierdapark ·

Dink nie hul kan regverdig korrek spel na al die info wat op die tafel geplaas is nie

Cherokee ·

Waarom die troetelnaampie? Probeer om nie soos ‘n bewonderaar te klink.

Karlahari ·

Ai. Ek sal graag die saak in ‘n internasionale hof wil sien…..
Dan kan AL die vuil wasgoed uitgehaal word. Dink net hoe Thales dan stert tussen die bene sal wees en die belasting betaler sal nog steeds vir Zuma sorg. In sy oranje overall….

marous ·

Nie regverdige verhoor ? Land se korrupsie gedy onder diegene wat hul lippe aflek vir belasting geld . Dalk moet daar ‘n “guillotine” met ‘n mandjie voor die hof opgerig word …

Boerboel ·

Ek dink Gerrie Nel moet hier betrokke raak as daar niks gaan gebeur nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.