Zuma-meelopers deur parlement gedagvaar

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Ses prominente Suid-Afrikaners wat ten nouste met staatskaping verbind word, gaan deur die parlement gedagvaar word om in die openbaar voor ‘n parlementêre komitee te getuig oor hul dade. As hulle nie opdaag nie, sal lasbriewe vir hul inhegtenisneming uitgereik word en kan hulle tronk toe gaan.

Die drie Gupta-broers (Atul, Ajay en Tony), Duduzane Zuma en Dudu Myeni sal binnekort die datum verneem waarop hulle voor die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gaan moet verskyn. Zuma is die seun van oudpres. Jacob Zuma. Myeni is ‘n hegte vriendin van die oudpresident en was voorheen voorsitter van die SAL-raad en die Umhlathuze-waterraad in Richardsbaai.

Die portefeuljekomitee het die drastiese stap om dagvaardings uit te reik, vanmiddag ná ʼn marathonvergadering van agt uur geneem. Die besluit is deur alle politieke partye ondersteun.

Die besluit het die kroon gespan op ‘n dag van intense en soms emosionele politieke hoogspanning geneem, met die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, wat getuienis afgelê en daaroor ondervra is.

Gigaba het in sterk bewoorde botsings met drie parlementslede, Natasha Mazzone van die DA en Marshall Dlamini en Floyd Shivambu van die EFF, betrokke geraak.

Dit was ‘n dag van jakkalsdraaie en ontwyking deur Gigaba, wat dikwels geantwoord het dat hy besonderhede nie kon onthou nie en dat kwessies buite sy tydvak as minister of buite sy verantwoordelikheidsveld geval het.

Hy het begin deur te sê hoe persoonlik seergemaak hy voel dat hy van betrokkenheid by staatskaping verdink word.

Wat betref die voormalige Eskom-hoofbeampte Brian Dames se vorige getuienis voor dieselfde komitee dat hy (Dames) ‘n vergadering oor steenkoolverskaffing bygewoon het waar een van die Gupta-broers en Gigaba se destydse spesiale raadgewer, Siyabonga Mahlangu, ook teenwoordig was, het Gigaba gesê hy was onbewus van die vergadering.

Gigaba het ook aangevoer hy was nie bewus daarvan dat Anoj Singh en Iqbal Sharma met die Guptas geassosieer was toe hy hulle in belangrike poste in staatsbeheerde maatskappye aangestel het nie.

Die minister het tot algemene verstomming aangevoer dat hy gekant was teen die Gupta-beheerde The New Age se geborgde ontbyte, maar was ontwykend toe hy gevra is hoekom hy dan by die geleenthede opgetree het. Hy het gesê hy het ‘n brief aan staatsbeheerde maatskappye geskryf om borgskappe aan die ontbyte te ontmoedig. Hy het dit egter nie verbied nie, omdat hy meen dit sou oordadige inmenging van ministerskant wees.

Hy het ook ontken dat hy ooit met enige Eskom-steenkoolkontrak ingemeng het. Gigaba het erken dat staatskaping die Suid-Afrikaanse ekonomie erg benadeel het en dat hy meer doelgerig daarteen moes opgetree het.

Mazzone het Gigaba behoorlik vasgetrap. Hy kon nie onthou of hy die geskenke wat hy oor die jare van die familie ontvang het, in die parlementêre bateregister verklaar het nie, het hy haar geantwoord.

Gigaba het ontken dat oudpres. Zuma hom ooit opdrag gegee het om mense op die rade van staatsbeheerde instellings aan te stel. Mazzone het Gigaba daarvan beskuldig dat hy sy plig versuim het en gevra dat hy begin verantwoordelikheid aanvaar vir sy dade.

Dlamini wou by Gigaba weet of ‘n minister verantwoordelikheid moet aanvaar as sy aanstellings die land besteel of die ministerie laat inplof. Gigaba het nee geantwoord, “want niemand kan by die maak van ‘n aanstelling voorsien hoe die aanstelling gaan vaar nie”.

Shivambu wou by Gigaba weet hoeveel keer hy die afgelope sewe jaar in Doebai was. Gigaba kon nie onthou nie. Hy het Gigaba gevra of dit waar is dat hy R500 000 vir ‘n vrou, met wie hy ‘n verhouding gehad het, landuit geneem het. Gigaba het gesê dit is onsin.

Shivambu wou ook weet hoeveel keer Gigaba by die Gupta-huis in Saxonwold was. Gigaba kon nie onthou nie. Shivambu het toe gevra of hy enige inkomste buite sy ministeriële salaris ontvang. Gigaba het dié vraag ontduik.

Die laaste skote tussen spesifiek die ANC en die EFF oor staatskaping is duidelik nog nie afgevuur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael ·

En wat van Zuma????? OOOO!!!amper vergeet ek hy het mos niks verkeerd gedoen nie

Willie ·

Zuma beweer tot dat dit die wittes is wat hom sy amp gekos het… Hier gaan niks van kom nie… kyk gister na Gigaba, hy maak somme voorstelle hoe dinge moet gebeur.. Jy word ondersoek Gigaba, did wat aan die gang is… Niemand soek jou sodanige voorstelle

JM ·

Tipies van ons ministers sodra jy hulle vasvra dan kan hulle nie onthou nie of ontken hulle betrokkenheid van die voor valle

Ano ·

Maar dit bring hulle nog nie voor ‘n regstelsel nie? Wanneer word hulle in die hof aangekla?

marous ·

Jy kry skelm ,skelmer , skelmste en dan regerings amptenare met vet beursies …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.