Zuma moet Abrahams se redes vir nie-skorsing bekend maak

Shaun Abrahams (links), Pravin Gordhan (middel) en pres. Jacob Zuma (regs)

Shaun Abrahams (links), Pravin Gordhan (middel) en pres. Jacob Zuma (regs)

Die Demokratiese Alliansie het Maandag ʼn beroep gedoen op pres. Jacob Zuma om Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, se redes waarom hy nie geskors moet word nie, bekend te maak.

Maandag was die laaste dag vir Abrahams om sy redes by die president in te dien.

Glynnis Breytenbach, woordvoerder van die DA, het gesê die proses moet deursigtig wees om soveel as moontlik lig te werp op die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om minister van finansies Pravin Gordhan en twee voormalige SAID-kollegas aan te kla van bedrog, net vir Abrahams om later die aanklagte terug te trek voor die hofdatum.

“Die publiek verdien om die feite te hoor oor die debakel rondom Gordhan se vervolging en gevolglike terugtrek van die aanklagte. Dit is van nasionale belang dat die president die res van die proses met absolute deursigtigheid moet hanteer, om homself bo verdenking te plaas,” het Breytenbach bygevoeg.

Zuma het twee weke gelede Abrahams en die ander NVG-direkteure, hoof van die vervolgingsgesag se prioriteitsmisdade-wetgewingseenheid Torie Pretorius en Noord-Gautengse direkteur van openbare vervolging Sibongile Mzinyathi, skriftelik versoek om redes te verskaf waarom hulle nie geskors moet word nie.

Dit het gevolg ná die burgerregteorganisasies, die Helen Suzman-stigting en Freedom Under Law, Zuma versoek het om die topbeamptes te skors nadat Abrahams ʼn ommekeer gemaak het oor die strafregtelike aanklagte teen Gordhan, en het versoek dat ʼn ondersoek gedoen moet word oor hul geskiktheid om hul amp te beklee.

Zuma het in die skrywe gesê die organisasies het besware geopper oor die manier waarop die drie advokate die vervolging van Gordhan en sy twee voormalige werkgewers by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Visvanathan “Ivan” Pillay en Oupa Magashula, hanteer het.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het verlede week die twee organisasies se dringende hofaansoek, om Zuma te dwing om Abrahams, Mzinyathi en Pretorius te skors, van die rol geskrap. Regterpresident Dunstan Mlambo het in sy uitspraak gesê daar is niks om aan te dui dat Zuma nie die twee organisasies se versoek, om Abrahams en sy twee kollegas voorlopig te skors, oorweeg nie, hangende ʼn ondersoek oor hul geskiktheid om in die amp te dien. Ná ʼn brief aan Zuma deur die aansoekers op 7 November, waar hulle hom versoek het om teen die drie mans op te tree, het die president reageer en gesê hy het meer tyd nodig. Mlambo het gesê die aansoekers het twee dae nadat hulle sy antwoord ontvang het, hof toe gejaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

bang maak ·

zuma wil nie sy afdanking vir president nie hy is skuldig blameer vir die mense onreg en die ministers van suider afrika is ook bedrog hoe kan die zuma en die mense weet die Abrahams het reg gedoen moet vervolggesag getoon word.moeg vir zuma se stories op in suid afrika se hande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.