Zuma moet geld vir regskoste terugbetaal

Oudpres. Jacob Zuma in die hof. (Argieffoto: Leon Lestrade/ANA)

Oudpres. Jacob Zuma moet opdok vir sy eie regskoste nadat die appèlhof Dinsdag beslis het die staat is nie aanspreeklik vir die koste wat hy in sy persoonlike hoedanigheid aangaan nie. Zuma se rekening vir regskoste beloop na raming glo meer as R16 miljoen.

Die hof sê Hulley Inc. ʼn prokureursfirma, het in 2006 en 2008 versoeke namens Zuma by die staatsprokureur ingedien vir regshulp – op die staat se onkoste – rakende die strafsake waarby hy betrokke is en om vier spesifieke advokate – twee senior en twee junior – aan te stel om sy sake te hanteer.

Elk van die versoeke is vergesel van ʼn onderneming dat dié geld terugbetaal sal word indien die hof bevind dat Zuma in sy eie hoedanigheid en in sy eie belang opgetree het.

Die hooggeregshof het in 2018 beslis die staat is nie aanspreeklik vir die koste nie en het Zuma beveel om die geld terug te betaal.

Zuma het hierteen geappelleer – ʼn aansoek wat die DA en die EFF teengestaan het – en aangevoer dat die hooggeregshof fouteer het in sy bevinding dat die DA en EFF hul aansoeke binne ʼn redelike tydperk ingedien het, asook dat die Wet op die Staatsprokureur nie die staatsprokureur toestemming gee om private regskoste te betaal nie, ook dié vir Zuma. Zuma het ook aangevoer die hooggeregshof het ʼn fout gemaak deur te beslis dit is regverdig om van hom te verwag om die geld terug te betaal.

Die appèlhof het bevind die DA en die EFF het eers van die betalings bewus geword nadat Zuma se opvolger, pres. Cyril Ramaphosa, vrae daaroor in die parlement beantwoord het en dat ʼn sluier van geheimhouding vantevore daaroor gehang het.

Die hof het bevind die DA en EFF se hersieningsaansoek is binne ʼn maand nadat dié antwoorde verskaf is van stapel gestuur en dat die presidensie dit boonop duidelik gemaak het dat die finansiering steeds voortgaan. Daar was dus geen vertraging ter sprake nie.

“Die appèlhof meen dit is verregaande om mnr. Zuma, wat aansienlik verryk is deur die betalings, ʼn blanko tjek te gee om private prokureurs te betaal. ʼn Web van wanbestuur het dít oënskynlik moontlik gemaak. Baie van die betalings het geen wetlike gronde gehad nie en afgesien van mnr. Zuma, het geen van die staat se ander respondente wat in die hersieningsaansoeke genoem word, die betalings verdedig nie,” lui ʼn verklaring van die appèlhof.

Die hof sê ook die uitwerking van die besluit op die staat se hulpbronne – om vir die regskoste op te dok – kan nie misgekyk word nie.

“Die appèlhof het bevind mnr. Zuma se aanspraak dat – selfs al is dit onregmatig – die betalings volgehou moet word omdat die DA en die EFF te lank gewag het om die kwessie te laat hersien, is asemrowend vermetel.”

Die hooggeregshof het bevind die staatsprokureur moet omvattend rekenskap gee van die geld wat betaal is en dat Zuma dit moet terugbetaal. Die appèlhof het met dié beslissing saamgestem en bevind die blote tersydestelling van die besluit om te betaal sonder om ʼn bevel oor rekenskap en terugbetaling van die geld uit te reik, gaan nie veel vermag nie.

Die appèlhof het ook bevind ʼn bevel dat Zuma die geld terugbetaal, is bes moontlik die enigste regverdige remedie.

Die appèlhof het bevind die regsdienste is nie namens die regering bekom nie, maar namens Zuma.

Die appèlhof het Zuma se aansoek gevolglik met koste van die hand gewys.

Die DA-leier John Steenhuisen het die beslissing verwelkom en sê dit bevestig dat die staatsprokureur net verplig word om op te tree as dit in die regering of lede van die publiek se beste belang is.

“Dít was mnr. Zuma se persoonlike regstryd en hy het geen reg gehad om dit met belastingbetalersgeld te finansier nie.”

Steenhuisen sê Zuma se termyn as president was rampspoedig vir die land, die ekonomie en die demokrasie.

“Ons steier steeds onder die uitwerking van staatskaping en die wegkalwing van openbare instellings wat daarmee gepaard gegaan het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Misky ·

Wys ons asb daai betalingsbewys nadat julle gaan beweer hy het dit betaal

SomeOne ·

hy het baie beeste, varke, hoenders, huise, ens., wat verkoop kan word om sy skuld te delg, sit hom uit sy “eie” huis

Dirk Mostert ·

Verhaal dit uit sy toekomstige pensioen en toelaes en die toelaes van sy familie. Duduzani kan die terugbetaling finansier d.m.v. ‘n familie-lening.

Rentia ·

Steier steeds onder die ANC? Dieselfde ANC en korrupsie waarmee jy John ingestem het om in koalisie in te gaan? Lekker man… Tog te lekker as mens kan kies aan watter kant van die lyn jy wil staan as die skandes verder oorkook…

Cherokee ·

Die duimaffer blyk stom te wees. Wil graag teëpraat maar weet nie wat om te sê nie.

Pieter ·

Gaan vra vir kopdoek sy het baie geld gemaak met haar sigarette.

Debbie ·

Hulle weet sy regskoste is al in die miljoene, stop die aanhoudende uitstel van sy hofsake. Kry dit oor en verby, stuur hom tronk toe en begin dan met Malema se sake wat ook al vir n paar jaar uitgestel is

koos10 ·

Net soos hy die opgradering van sy huis moes betaal het? Hy het geen vaste bastes nie, so as hy nie betaal nie, wat gaan op beslag gelê word?

Gert ·

Uiteindelik draai iemand die Zuma kraan toe. Ons weet hy is bankrot so hy gaan nie dit terugbetaal nie net soos hy nie sy R200 mil wat aan sy huis bestee is gaan terugbetaal nie.

Johann ·

Hy gaan seker weer gevra word wat hy dink hy moet betaal? One seventi hundrid ant two …..

Daars mos nie n MANIER wat hierdie vergryper n sent gaan betaal nie?

Mariana ·

Sy seuntjie kan mos maar betaal as hy dan bankkrot is. Hy soek nuwe vrou maar die belastingbetaler moet sy regskoste dek, vermetel is sag gestel.

marius ·

Net soos VBS vir hom geld geleen het ? Hy lag vir die narre

Duck ·

Ai tog, ek kry daardie man so jammer, kan ons nie maar saam staan en die miljoene namens hom betaal nie. Shame man!

Magda G ·

Hy gaan verseker weer eens gehelp word met die regskoste. Dis mos hoe daar deur die topstruktuur gewerk word.????????????????

Astrain ·

Ek wil ook graag daai dag sien.. dis nou as ek nie ook al onder kluite lê nie – en eks nog jonk!

Alleen Wolf ·

Gaan nooit gebeur nie, dit moet in die eerste plek nooit betaal gewees het nie

Saartjievandiebosveld ·

Kom ek wet julle…hy gaan dit nie terug betaal nie…

Marisa W ·

Al betaal hy nie is daar ten minste nou uitsluitsel en uitspraak en dit sal hopenlik bietjie moeiliker wees vir die volgende een om dit te probeer.

Dirk Mostert ·

Hy sal maar net se hy het nie die geld om terug te betaal nie. Maar, stop staatshulp aan hom summier, dan sal sy regsadviseurs sy sinkende skip verlaat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.