‘Zuma moet in belang van alle inwoners optree’

jacob-zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die doel van die #ZumaMustFall-optogte is om die integriteit van die president se amp te herstel, met ʼn president wat in die beste belang van al die land se inwoners optree.

So het Msizi Cele, woordvoerder van die #ZumaMustFall-beweging, gesê oor die hordes Suid-Afrikaners wat Woensdag landwyd in die strate opgeruk het om hul misnoeë met pres. Jacob Zuma se leierskap te laat hoor. “Die doel van die beweging is om Zuma sover te kry om te bedank of deur die ANC herroep word.”

Zuma het hom verlede week week die gramskap van gewone Suid-Afrikaners op die hals gehaal toe hy Nhlanhla Nene as minister van finansies in die pad gesteek het en hom met die relatief onbekende Des van Rooyen vervang het. Na druk van vooraanstaande sakelui en swaargewigte in die regerende party, het Zuma vir Pravin Gordhan in dié kritiese pos aangestel.

Volgens Cele was die onlangse kabinetskommelings die laaste druppel aan die emmer. “Zuma maak hom skuldig aan ʼn eindelose lys leierskapmislukkings. Dit kan nie langer geduld word nie.”

Soos met die suksesvolle #FeesMustFall-veldtog toe studente hulle na sosiale media gewend het om te eis dat klasgelde by universiteite in 2016 nie verhoog word nie, het Suid-Afrikaners ook met #ZumaMustFall hulself tot sosiale media gewend.

Cele het gesê dit is betekenisvol dat die optogte juis op Versoeningsdag moes plaasvind. “Gegewe Suid-Afrika se verdeelde verlede, is dié dag juis bedoel vir die bevordering van versoening en nasionale eenheid. Mense uit alle vlakke van die samelewing eis ‘n beter regering.”

Die beplande kernkragooreenkoms met Rusland is volgens Cele “die ander olifant in die vertrek”.

Cele het gesê hulle beplan ook ʼn optog voor Zuma se staatsrede in Februarie. “Die datum is nog nie gefinaliseer nie, maar ons hoop om ʼn groot impak op ʼn vreedsame manier te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Narsistiese persoonlikheidsteuring (NPS) is ’n persoonlikheidsteuring[1] waar ’n persoon ’n obsessie het oor sy toereikendheid, mag, aansien en ydelheid, en nie in staat is om die vernietigende uitwerking daarvan op hulself en ander te sien nie. Na raming ly sowat 1% van mense aan die geestesteuring. ;-)

Johann Marx ·

Hiermee saam: “Die Dunning-Kruger-effek is ’n denkfout waarin relatief onbekwame indiwidue aan denkbeeldige meerderwaardigheid ly en hul eie vermoë foutiewelik veel hoër ag as wat dit werklik is.” Te lank om volledig hier te bespreek, maar Google dit gerus.

Anoniem ·

Nkandla ja ……………. met sarkasme gese!!!!!!!!!!!!!!!!

Fanie ·

As Zuma enige verstand of ordentlikheid in hom gehad het, sou hy self bedank het. Hy self weet hy is ‘n disaster.
Die ANC erken met hulle traagheid dat hulle nie hierdie land Suid Afrika kan regeer nie. Die ANC verontagsaam die grondwet en burger regte.
Die Belastingbetaalde Burgers van hierdie land eis sy bedanking! Summier!!

Winston ·

Waarom sê ons nog iets? Die land het klaar gekantel onder die ANC regering. Mag is belangriker as die land. Wys my waar in Afrika gaan dit beter? Geen land kan suksesvol wees as die vorige regering deur rewolusionêres oorgeneem is nie. Nêrens ooit gewerk nie. Bewys my dit het iewers gewerk asb

HEVW ·

Dit behoort n uiters pynlike belewenis te wees om nog in hierdie stadium teen jou beterwete n volgeling van z te wees en blood n anc lid te wees.. Of is die gewete tot op so n vlak ontwikkel om dit as pynlik te beleef??

HEVW ·

Maroele ek reken julle is geensins konsekwent nie. Kyk na die vorige kommentare. Narsistiese persoonlikheidssteuring, geestessteuring. “As z enige verstand of ordentlikheid in hom gehehad het>” My kommentaar is geensins so afbrekend nie. Probeer tog net konsekwent te wees!!!

Sune van Heerden ·

Dagsê HEVW

Kommentaar moet soms per hand goedgekeur word, en dit neem dus soms ‘n wyle voor kommentaar op die webwerf verskyn. Wanneer jou kommentaar dus nie dadelik wys nie, beteken dit nie noodwendig dat jou kommentaar afgekeur is nie, dit moet dalk net nog bloot goedgekeur word.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.