Zuma moet in hof sê oor kabinetskommeling

jacob-zuma-2

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die hooggeregshof in Pretoria sal Donderdag argumente aanhoor in die dringende aansoek wat deur die DA ingedien is om pres. Jacob Zuma te dwing om redes te verskaf vir sy onlangse kabinetskommeling.

Die DA het op 5 April die aansoek by die hof ingedien om Zuma te dwing om sy redes te verskaf vir die “rampspoedige” kabinetskommeling waartydens Pravin Gordhan as minister van finansies en Mcebisi Jonas as sy adjunk gepos is.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, het gesê die party het ook versoek dat Gordhan en Jonas se afdanking tersyde gestel moet word op grond daarvan dat dit irrasioneel, ongrondwetlik, onwettig en ongeldig is.

“Elke uitoefening van openbare mag moet onderworpe wees aan die beginsels van wettigheid en rasionaliteit, en spesifiek die uitoefening van die president se magte, wat die aanstelling en afdanking van ministers en adjunkministers insluit,” het Selfe gesê.

“Die president moes die ernstige gevolge van sy kabinetskommeling redelik kon voorsien het, gegewe die gebeure in 2015 toe hy Nhlanhla Nene as minister van finansies afgedank het.”

Volgens Selfe is die DA van mening dat die president se besluit tersyde gestel moet word omdat dit nie aan die vereistes van rasionaliteit voldoen nie en daarom onwettig is.

Vir sy besluit om hersien te word moet Zuma volgens Selfe in terme van die hofreëls sy rekord van besluitneming oor die kabinetskommeling aan die hof verskaf.

“Ná verskeie vertragingstaktieke, het Zuma beweer die DA, en Suid-Afrika, is nie geregtig op die rekord en redes vir sy kabinetskommeling nie.”

Die saak word Donderdag 13:00 aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kosie ·

Ek hoop die hof kry dit reg om sy kop ook so n bietjie te skommel

Scalla ·

Hulle is afgedank omdat hulle nie dokumente wou teken vir sekere konrakte ens wat tot voordeel van z en sy trawante sou lei nie en is toe vervang met gigaga wat dit geteken het nog voor hy aangestel was en daarom die middernagtelike skommeling. Wonder wat se storie gaan nou gespin word.

Loeis ·

Hierdie gaan interessant wees: dit word algemeen aanvaar dat kabinet aanstellings die president se prerogatief is. Dit is dus onwaarskynlik dat hierdie aansoek kan slaag, maar dit sal vir Zuma en sy meesters ‘n bloedneus wees as dit sou gebeur.

Nettie ·

Alles is nou goed en wel met die DA wat dapper teen die ANC ‘veg’, Afriforum en Solidariteit wat vir die Afrikaner en arm, wit mens opstaan teenoor die swart ANC oormag. Maar – vra ek myself nou af – sou al dié geld wat die DA/Afriforum/Solidariteit nou aan hofsake spandeer (hofsale, terloops, wat ons weet ‘n groot kans het om op niks uit te loop nie, soos met Zuma se verkragtingsaak en die ander 783 sake van korrupsie) nie beter aangewend kon word vir die behoud van die wit Afrikaans-sprekende Afrikaner deur dit te belê in bv. die ontwikkeling van Orania en/of ‘n ander selfbeskikkingstaat nie. Of om hierdie geld eerder aan te wend in ‘n GoFundMe-rekening of skarefinansieringsprojek om mense wat wil, maar nie kan nie (a.g.v. finansiële probleme) te borg om te emigreer na Australië of Nieu Seeland toe nie?

Carol ·

Ek dink tog ons geld hoort in SA en nie om te help om mense wat nie bereid is om saam te staan in hierdie land, te befonds en help na ander land gaan.

AP ·

Nee wat nog n mors van tyd en geld die arrogante maat doen net wat hy wil hulle sal van hom op n ander wyse moet ontslae raak he he he .. simpel laggie en kommentaar wat hy altyd lewer

Callie ·

Zuma is besig met laaste deel van sy strategie. Die man in Pravin se plek teken net sagweg beswaar aan as sy assistent reguit verduidelik dat alles by die wittes weggevat gaan word. Hulle twee is met daardie uitsluitlike doel aangestel.
Zuma spot met die demokrasie. Alles wat geweld bevat of soos sy uitjouery, is die demokrasie. SA gaan wakker skrik wanneer Zuma die chaos wat hy skep gaan stop deur die weermag in te roep. Dan gaan hy met geweld oorvat met die verskoning dat demokrasie nie werk nie. Wie gaan hom dan uit sy stoel uithaal. Hy lag, want sy planne is in plek.

Griki ·

Hoekom wil Zuma dit nie bekend maak nie? Wat het geword van deursigtigheid? Hy weet natuurlik sy redes is irrasioneel, ongrondwetlik en, eintlik, ‘n spul leuens.

SARIE VAN HEERDEN ·

Griki, Zuma wil niks bekendmaak nie want soos gewoonlik het hy gelieg oor die geheime dokument wat Pravin beskuldig het dat hy met die buiteland heul. Zuma moes die beskermingsnetwerk om hom verstewig en ook voorgee daar is een enkele mens wat ‘n coup beplan. Al arms en hande swaaiend het hy nou ‘n nuwe woord geleer wat hy oral en altyd aan geletterde mense wil verduidelik. DEMOKKRASIE. (rek die o lank uit as jy dit uitspreek). Trek nou jou lippe om jou tande, loer rond, en verduidelik die betekenis aan die gepeupel. DEMOKKRASIE is die onderwerp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.