Zuma moet jammer sê oor Jan – AfriForum

Lede van AfriForum Jeug se Tukkie-tak hang die plakkate aan die heining rondom die Uniegebou in Pretoria Foto: AfriForum

Lede van AfriForum Jeug se Tukkie-tak hang die plakkate aan die heining rondom die Uniegebou in Pretoria Foto: AfriForum

Lede van AfriForum Jeug se Tukkie-tak het Donderdagmiddag plakkate teen die hekke van die tuine by die Uniegebou in Pretoria opgehang waarin pres. Jacob Zuma vir vergrype rondom die land se standbeelde en monumente verantwoordelik gehou word.

Die studente het meer as 200 plakkate versprei met boodskappe soos: “Zuma is to blame for statute vandalism” en “Zuma take back your words on Jan”.

Die aksie vorm deel van AfriForum Jeug se #dankieJan-veldtog. Dié veldtog het verlede week in Kaapstad afgeskop tydens die oorhandiging van ʼn eisbrief aan die departement van kuns en kultuur. AfriForum Jeug is van mening dat pres. Zuma aanspreeklik gehou moet word vir sy onverantwoordelike uitlatings dat die land se moeilikheid met die koms van Jan van Riebeeck begin het.

“Ons voel die president is aandadig aan die vernietiging, afbreek en beskadiging van standbeelde wat nou regoor die land plaasvind,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê. “Hy moet sy stellings oor Van Riebeeck terugtrek en leierskap toon deur die situasie te ontlont. Die president behoort ook die voorbeeld te stel wat erfenisbewaring van alle Suid-Afrikaners se erfenis betref. Ons verwag dat hy sy uitlatings terugtrek en om verskoning vra.”

Die studente wat aan die protesoptog deelgeneem het, het gesê die optrede van die EFF rondom standbeelde laat hulle “gefrustreerd”, “ontsteld” en “kwaad” voel.

Die krisis rondom standbeelde en monumente het die afgelope weke wyd uitgekring met talle beelde van bekendes soos Cecil John Rhodes, Paul Kruger, JG Strijdom, Louis Botha, Jan Smuts, koningin Elizabeth en Jan van Riebeeck wat onder vandale en aanvalle van EFF-lede deurgeloop en onder meer met verf ontsier is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lizelle Smith ·

Hoe is dit dat rassisme en rassistiese aanmerkings toegelaat word wanneer dit uit n nie -blanke mond kom! ?

Winston ·

Lizelle dis die reël. Slegs blankes kan rassiste wees. Whites only?

Jakoos ·

Dink julle regtig hy gaan reageer? Ons agbare president reageer nie eers op versoeke van die parlement nie!

Nadia Verster ·

Dis nou alles goed en wel en ek is bly dat AfriForum Jeug standpunt inneem, maar gestel nou maar ou Zuma vra omverskoning (wat hoogs onwaarskynlik is!) en trek sy stelling terug, wat sal dit help? Hy het dit klaar gesê en die spul het al reeds begin verwoesting saai. Ek vind dit bitter moeilik om positief te bly oor hierdie land van ons.

jaycee ·

Is SA vervloek om vanaf 1994 al hoe dieper in ‘n dal van doodskaduwee in te gaan? Party mense sal seker sê dit is ons verdiende loon vir die vergrype in die verlede, maar daarmee stem ek nie saam nie en is ‘n debat vir ander dag. Toe Mbeki president was het hy groot skande oor SA gebring en Zuma met sy ANC-vriende maak dinge nog slegter. Die beskadiging van standbeelde kan natuurlik aan Zuma se onbekwame leierskap toegeskryf word want onder die ANC-regering het toestande in die land so versleg dat mense se frustrasie begin oorkook en enige misplaaste rede soek om uiting daaraan te gee. Maar die ANC weier om die werklike redes vir die frustrasies aan te spreek.

pop ·

Ek is net baie bly dat daar nou optogte deur die wittes ook kom. Skaam my net dat ons kinders ons nou moet wys wat dit is om n ruggraat te he. Mooi so julle jongetjies, hierdie ouma bars van trots op julle. Dalk is daar tog hoop!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.