Zuma moet nou besluit

jacob zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Die politieke galgestrop is om pres. Jacob Zuma se nek en môre is die dag waarop hy sy eie politieke lewe gaan neem – of die ANC gaan dit vir hom doen.

En sy opvolger gaan klaarblyklik adjunkpres. Cyril Ramaphosa wees, want die ANC se advies is dat die sestien maande tussen vandag en die volgende algemene verkiesing nie as ‘n volle presidentstermyn getel gaan word nie, het Khusela Sangoni, ANC-woordvoerder, by navraag bevestig.

Die ANC het nog nie besluit wie as Ramaphosa se adjunkpresident van Suid-Afrika gaan dien nie.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, het vanmiddag belowe Zuma sal môre aankondig of hy as president gaan bedank. Die ANC het hom reeds in kennis gestel dat hy nie meer die party se keuse vir die land se presidentskap is nie.

Magashule het die sluier effe gelig oor die reusagtige stryd wat tans in die ANC afspeel, toe hy by die ANC-hoofkwartier, Luthuli-huis in Johannesburg, vrae moes trotseer van ‘n horde joernaliste wat presidensiële bloed geruik het.

Volgens Magashule was dit hy en Ramaphosa wat gisteraand in Pretoria die strop om Zuma se nek gesit het deur hom in te lig dat die ANC nie sy versoek om ‘n grasietydperk van drie tot ses maande om sy presidensiële sake af te handel, gaan toestaan nie.

Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC se besluit om Zuma te herroep is aan hom oorgedra, en volgens Magashule het Zuma geen keuse as om daaraan gehoor te gee nie.

Terselfdertyd het Magashule, wat bekend staan as een van Zuma se grootste ondersteuners, gesê geen spertyd is aan Zuma gestel oor presies wanneer hy moet bedank nie.

Tussen die reëls was dit duidelik dat Zuma verbete veg om so lank moontlik president te bly en elke jakkalsdraai moontlik uithaal om nog ‘n rukkie in sy pos aan te bly, maar dat die ANC meen hy het nou die einde van die pad bereik.

Magashule het uiters ongemaklik voorgekom tydens die mediakonferensie, en het slegs gemaklik gelyk wanneer hy Zuma se lof besing het. Magashule het bly pleit dat Zuma die ruimte gegun moet word om “met waardigheid” uit die pos te tree nadat die ANC nasionale uitvoerende komitee tydens ‘n marathonsessie van 13 uur besluit het dis tyd vir Zuma om te gaan.

Môre beloof dus om ‘n geskiedkundige dag van politieke hoogspanning te wees, met minstens die volgende drie hoogtepunte, twee in Kaapstad en die derde waarskynlik in Pretoria:

* Om agtuur môreoggend is daar ‘n vergadering agter geslote deure van al die parlementêre partye, insluitend die ANC en die opposisie, se hoofswepe. Die verwagting is dat die moontlikheid van ‘n mosie van wantroue in Zuma bespreek sal word. Die EFF het só ‘n mosie ingedien, maar tans is die ANC daarteen gekant. Indien Zuma bly weier om as president te bedank, kan die ANC van besluit verander en hom deur so ‘n mosie uitdwing.

* Ietwat later môreoggend vergader die ANC se parlementêre koukus agter geslote deure om deur die party se leierskap ingelig te word oor Zuma se lot. Dit sal interessant wees om te verneem of Zuma se ondersteuners in die koukus, veral LP’s uit KwaZulu-Natal, Noordwes en die Vrystaat, gaan probeer teenstand bied en vir hom gaan probeer tyd koop.

* En derdens word verwag dat Zuma van hom gaan laat hoor. Selfs hy moet nou al besef hy is in sy kanon in. Hy sal ook weet dat die ANC hom nie as president kan afdank nie – net die parlement kan.

As hy dus hardgebaker aan sy pos vashou kan hy nog ‘n tydjie in die Uniegebou bly, maar daar is twee risiko’s aan verbonde. Eerstens, as hy nie vrywillig afstaan nie, verloor hy sy omvattende pensioen en ander voordele. En tweedens is hy besig om met sy hardkoppigheid, groeiende aggressie teen hom in die ANC aan te vuur. Hul geduld met hom raak op.

Dit raak dus nou tyd vir sy ondersteuners om hulself met die nare onafwendbaarheid van sy vertrek te versoen – en vir sy vele teenstanders om die vonkelwyn op ys te plaas en die vreugdevure aan te steek.

Dis sowaar nou nie meer lank nie, dan is die Zuma-regering verby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Welgedaan ·

Dankie, Jan-Jan Joubert, vir ‘n juweel van ‘n stukkie joernalistiek. Jy het nie moord gepleeg op papier nie, jy het absoluut puik geskrywe. Welgedaan!

Sarie ·

Soos ek van jou gewoond is, ‘n puik artikel ek hoop regtig dat vandag die dag is dat hy politiekeselfmoord gaan pleeg en of aankondig dat hy bedank of sommer op ‘n vliegtuig klim, saam met miljoene rande, en stil-stil vlug Dubai toe waar hy reeds ‘n paleis het om in te gaan woon

Arie ·

Wat sukkel Z om n antwoord te gee.
Dis tog nie so moeilik om JA te sê nie.
Die ANC het teeds besluit dat hy nie meer hul kandidaad is nie en so is hy regtens seker nie meet hul president nie.
Maar lyk my hy weet nie meer hoe om JA te sê nie

Sarie ·

As daar miljoene rande aan verlies aan salaris en ander voordele en dan nog bykans 800 kriminele klagte in die gesig staar, dan is hierdie seker vir hom op die oomblik die twee moeilikste woordjies nog ooit in sy lewe om te uiter en skryf kan hy nie so hy het nie die moet om een van die woorde uit sy mond te kry nie

Gesiggie ·

Hier kom alweer n groot STRIKE …. vat jou pensioen en ander voordele en trek eerder… goeie nuus op Valentyn’s dag… hou die vonkel wyn gereed… ja ja en steek aan die braaivleis vuur… want dan gaan ons PARTY””’ Voorwaar marts Zuma….

christa ·

hoekom met waardigheid, die skelm het glad nie waardigheid getoon aan SA nie.

Seeklong ·

My vuur brand al…..nou gaan ons braai en dans en juig……..en……en…..

Anti Zuma ·

Hy kan dalk laat mobiliseer.
Sal nog nie vuur aansteek nie.

Boggom ·

Onthou Ace ook korrup.Speel dalk n dubbele spel.Zuma nou op sy gevaarlikste.Sy een vrou het daaroor gewaarsku.
Kan dalk mobiliseer..daaroor dalk die ekstra tyd waarvoor hy vra…
Hy moet onmiddelik verwyder word.

Kapenaar ·

Hy het nou sy tande in sy lessenaar in geslaan en byt vas vir n vale.

Bokser ·

Top 6 net so korrup en kan nie vertrou word nie.Net soos de klerk en roelf meyer.

Clive ·

Pasop top 6 ook korrup.Enige iets kan nog gebeur.Dalk kan zuma mobiliseer aangesien hy die weermag wil groet?

Siener van Melbourne ·

Hy wil net gou ‘n laaste keer die kluis oopsluit dan sal hy gaan, met ‘n Checkers vol note…

snoefie ·

presidentiële sake afhandel? sluir dit n reis na Washington met n stop in Dubai in?

Charles ·

Zuma gaan nog in die howe oomkoop vir uitstel van sy bateverkoping en vonus

Chris ·

Stel hom aan as springbok afrigter. Hy is so goed met ‘bribes’, die bokke sal elke game wen…..lol

Yankee ·

Vaderland mense, dit maak nie saak wie gaan en wie gaan bly nie. Maak nie saak wie opvolg nie. Dit bly nog steeds n Afrika in beheer. n Donker, wreedaardige Kontinent.

Daan ·

3 of 6 maande om al sy spore uit te vee,en die kernkragooreenkoms te teken.

Theresa B ·

Ag hel kom net tot die punt asseblief!! Dit is 1 knap en ‘n hele land vol mense en hulpbronne wat ten gronde gaan.

Boet Fasie ·

Hoop nie Zuma verras die ANC met skaakmat nie, hy is slimmer as wat mens dink.

Hendrik ·

Baie mense se lewens rigting het al verander op Valentynsdag. Party mense val en die ander staan op. Dit is tog ‘n feit dat Zuma gaan en hy moet maar verantwoordelikheid neem vir sy EIE besluite.

Allan ·

Ek weet nie hoe waar die inligting is nie, maar gee dit deur want dit klink soos Zuma se styl.

Apparently Zuma made threats to spill all the beans and not go down alone!!

He’s threatening to reveal who sold us at CODESA, ARMS Deal files and Who in the ANC conspired to kill Chris Hani, etc!!

It’s Chaos in that NEC Meeting

They say Zuma says, “When the ANC came home from exile, none of us had a source of income, yet nearly all leaders “bought” houses in expensive suburbs. Where did that money come from? Saint Mandela lived in a mansion bought by Openheimer, so did Sisulu and Govan. Raymond, Oliver and Mlangeni were “sponsored” by the Rothschild’s. Angel Thabo, Kgalema, Sexwale, were taken care of by the Ruperts. Many leaders acquired shares in white-owned companies. While Gwala and myself were deployed to deal with tribal wars between the IFP and ourselves, leaders were getting directorships in major mining and blue chip companies. Now, my dear top 6, I ask you again, ngenzeni engenziwanga abanye? Do you still want to talk about state capture? Kungani singa qali ekuqaleni?”

Tess ·

Regtig, so baie foto;s vd selfde person? En so groot en helder.

Heinrich ·

Dokumentasie van hoekom stortkop in die pad gesteek moet word sal ‘n biblioteek vol maak, so die enigste rede hoekom hierdie so lank vat is dat hulle moet besluit wie gaan almal saam val oor hulle hande almal saam in die dieselfde korrupte koekieblik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.