‘Zuma moet onetiese, twyfelagtige persone uit kabinet hou’

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het ʼn beroep op president Jacob Zuma gedoen om, wanneer hy sy nuwe kabinet saamstel, ministers wat voorheen twyfelagtig of oneties opgetree het, nie weer aan te stel nie.

Solidariteit meen die samestelling van die kabinet sal ’n aanduiding wees van hoe hoog die ANC verantwoordbaarheid, etiek en geloofwaardigheid ag. Volgens Eugene Brink, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), volg dié aanmaning na aanleiding van onlangse navorsing deur die SNI oor kandidate op die onderskeie politieke partye se nasionale lyste.

“Die navorsing toon dat daar baie mense binne die ANC maar ook in ander partye, soos die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV), is wat hul openbare ampte nie in die openbare belang beoefen nie,” sê Brink.

Brink meen dit sluit mense soos die minister van die staatsdiens en administrasie, Lindiwe Sisulu; die minister van sport, Fikile Mbalula; en die minister van landbou, bosbou en visserye, Tina Joemat Pettersson, in.

“Hulle is hooggeplaastes binne die regerende party en beklee tans ook hoë posisies in die regering. Tog stel hulle ’n swak voorbeeld vir die publiek deur belastingbetalers se geld op glansgeleenthede en onnodige vlugte te verkwis. Ander het hulself skuldig gemaak aan ’n konflik van belange deur die onreëlmatige toekenning van tenders.”

Johannes Möller, president van Agri SA sê intussen die aanstelling van kabinetslede en die toekenning van portefeuljes is uiteraard die prerogatief van die president en dat Agri SA soos in die verlede sal poog om die beste moontlike samewerking met diegene te vestig.

Volgens Möller is dit egter ’n realiteit dat die eise wat direk en indirek aan die landbousektor gestel word nie slegs uiteenlopend is nie maar ook omvangryk. “Dit sal besondere insig en veral landboukundigheid vereis van diegene wat in die toekoms tersaaklike beleid moet ontwikkel en tot uitvoer moet bring”, aldus Möller.

Möller het spesifiek verwys na die doelwitte van grondhervorming, werkskepping, landelike ontwikkeling, voedselsekuriteit, ondersteuning aan veral nuwe toetreders tot die landbou en die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan wat in die verlede ten opsigte van beleidsbenaderings nie noodwendig ondersteunend tot mekaar gestaan het nie. “Selfs in praktyk was dit byvoorbeeld nie altyd duidelik of grondhervorming ’n doel in sigself was en/of die produktiewe benutting van grond en die ondersteuning van begunstigdes van grondhervorming werklik ook die noodsaaklike prominente fokus geniet het nie”, sê Möller.

“Ons vertrou dat die president in diepte aandag sal skenk aan die aanwending van die beste kundigheid vir die landbou as sodanig asook aan verwante terreine. Beleidsekerheid en gepaste ondersteuning is kernbelangrik om investering in die sektor te bevorder; daarsonder sal ander ekonomiese doelwitte ook nie tot wasdom kom nie”, sê Möller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

In julle drome mense! Dit sal “more of the same” wees: Zuma sal voortgaan om hom met twyfelagtige persone te omring, die wat saam met hom sal “lieg en bedrieg” – daar is te veel op die spel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.