Zuma moet Phiyega afdank, sê DA

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega tydens die bekendmaking van die 2013/14-misdaadstatistiek in Pretoria op 19 September 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega tydens die bekendmaking van die 2013/14-misdaadstatistiek in Pretoria op 19 September 2014 Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê pres. Jacob Zuma moet oorweeg om die nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega af te dank.

“Die nasionale polisiekommissaris het haarself al herhaaldelik in die verleentheid gebring deur ʼn gebrek aan polisiëringskennis en het gevolglik ʼn gebrek aan leierskap getoon,” het Dianne Kohler Barnard, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Phiyega is ongelukkig beter bekend vir dit wat sy sê as wat sy doen. Die realiteit is dat sy onder die soeklig geplaas word omdat sy ʼn gebrek aan leierskap getoon het tydens noodsaaklike oomblikke. Dit is nou die regte tyd om ernstig oor Riah Phiyega se ontslag te besin.”

Die Sunday Tribune het berig dat Zuma ʼn ministeriële ondersoek oor bewerings van wangedrag teen Phiyega gelas het. Musa Zondi, woordvoerder van die ministerie van polisie, het gesê die departement kan nie kommentaar lewer oor die berig nie.

Kohler Barnard het gesê die DA sal versoek dat die ministeriële ondersoek oor Phiyega se gedrag uitgebrei word om ook haar geskiedenis in die kantoor sal insluit om te bepaal of sy “bevoeg en bekwaam is vir hierdie noodsaaklike amp”. Sy het gesê sedert 2000 was daar nog nie ʼn loopbaan-polisiebeampte in die pos as nasionale kommissaris aangestel nie en die effek van politieke aanstellings is verwoestend.

“Ons polisiediens het ʼn gebrek aan hulpbronne, het nie genoeg opleiding nie en raak toenemend gewelddadig,” het sy gesê.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het op 13 September gesê hy sal nie klagtes van dwarsboming van die gereg teen Phiyega ondersoek nie. Nathi Mncube, woordvoerder van die NVG, het gesê daar is nie ʼn redelike vooruitsig van ʼn suksesvolle vervolging nie.

Volgens Mncube het die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) die dossier na die nasionale direkteur van openbare vervolging, Mxolisi Nxasana, gestuur toe hy sy ondersoek afgehandel het. Opod het Nxasana versoek dat ʼn besluit kragtens artikel 7(4) van die Opod-wet gemaak moet word. Hy het gesê Opod het verlede jaar die klag teen Phiyega ondersoek.

Opod het in Oktober 2013 gesê hy sal bewerings ondersoek dat Phiyega die Wes-Kaapse kommissaris, lt.genl. Arno Lamoer, gewaarsku het dat hy deur misdaadintelligensie ondersoek word. Volgens berigte het Phiyega op drie verskillende geleenthede Lamoer ingelig oor ʼn ondersoek teen hom.

Die Sunday Independent het in daardie stadium berig dat hul telefoongesprekke wettiglik opgeneem is deur misdaadintelligensiebeamptes wat Lamoer se oproepe afgeluister het.

Phiyega het ontken dat sy Lamoer ingelig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

alet ·

Die een is net so onbevoeg soos die ander waar gaan jy n eerlike persoon onder hulle kry vergeet dit

Renate Barnard ·

Dit is algemene kennis dat daar sedert 2000 net politieke aanstellings as Nasionale Kommissarisse gemaak is. Die nagevolge is dat hierdie persone hul “eie mense” saambring en in hoë poste aanstel sonder dat hierdie individue enige kennis, ervaring of passie vir polisiering het nie. Ek is van mening dat daar tans meer politici in die SAPD is as wat daar loopbaan-polisiebeamptes is. Die skrynende wyse waarop daar met lojale, hardwerkende en ervare polisie-offisiere gewerk word en die openlike beskerming van korrupte, hoë offisiere is deel van die harde werklikheid waarmee duisende bevoegde polisielede daagliks gekonfronteer word. Daadwerklike ingryping is van kritieke belang. Dit is egter ook ‘n feit dat die regering die spesifieke aanstellings en optredes goedkeur. Die enigste logiese afleiding wat daaruit gemaak kan word is dat dit nie erns is by die huidige regering om ‘n bevoegde polisiemag daar te stel nie.

Cathy Louw ·

Ons is glad nie verras oor haar swak bestuursstyl of die tekort daaraan nie, want die ANC is vol ongeskoolde, oneerlike, swak “bestuurders” wat eerder op ‘n plaas moes werk as in die parlement! Selfs van die parlement is nou ‘n sirkus gemaak. Hulle kan nie hulle eie gemaakte lakeie hanteer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.