Zuma moet self betaal as appèl misluk, sê Fedusa

jacob zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Die vakbondfederasie Fedusa het Saterdag gesê pres. Jacob Zuma “moet persoonlik finansieel aanspreeklik gehou word” indien sy versoek onsuksesvol is om appèl aan te teken teen ʼn hooggeregshofbevel om ʼn kommissie van ondersoek aan te stel om bewerings van staatskaping te ondersoek.

“Nóg ʼn verkwistende appèl van Zuma sal slegs die land ondermyn om staatskaping, korrupsie en bedrog aan te spreek,” het Dennis George, algemene sekretaris van Fedusa, gesê. “Die Pretoriase hooggeregshof het bevind Zuma is roekeloos, onredelik en onverstandig, en hy word persoonlik aanspreeklik gehou vir die regskoste.”

Hy het gesê Fedusa ondersteun die besluit van die ANC se 54ste verkiesingskonferensie wat beslis het dat ʼn kommissie van ondersoek dringend aangestel moet word om staatskaping te ondersoek.

Zuma het aansoek gedoen om appèl aan te teken teen die beslissing van regter Dunstan Mlambo dat hoofregter Mogoeng Mogoeng sal besluit wie die kommissie sal lei. Zuma voer in sy hofdokumente aan dat die Grondwet dié mag aan hom oorlaat om ʼn kommissie van ondersoek aan te stel. Hy het gesê die hof was verkeerd om die besluit aan ʼn hoofregter oor te laat, en hy meen dit maak inbreuk op die doktrine van skeiding van magte.

“Fedusa is van mening dat Zuma se voortgesette appèl slegs nóg ʼn uitsteltaktiek is. Zuma se minagting van die Grondwet skep politieke en ekonomiese onsekerheid en benadeel werknemers en dit kan tot verdere werksverliese lei,” het George bygevoeg.

Hy het gesê die vakbondfederasie veroordeel enige verdere vermorsing van die belastingbetaler se geld en eis dat Zuma persoonlik aanspreeklik gehou moet word indien die appèlaansoek onsuksesvol is.

Zuma hou vol die toenemende versoeke dat hy ʼn kommissie van ondersoek oor staatskaping moet aanstel, is gebaseer op “ongetoetsde verdenkinge”. Hy daag ook die uitspraak in die hof dat hy persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te bekom wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag vry te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

zoom zoom ·

Wie gaan toesien dat hy moet self netaal. Het hy al die ander hofsaak se miljoene betaal. ????

Jacques venter ·

As daar “ongetoetsde verdenkinge” is, dan moet dit in die hof getoets word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.