Zuma moet self opdok vir appèl teen staatskapingsverslag

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Die presidensie het Vrydagaand bekendgemaak dat hy sy appèl teen die hofbevel wat oudpres. Jacob Zuma beveel om sy eie regskostes te betaal in die hofgeding om te probeer voorkom dat die staatskapingsverlsag openbaar gemaak word, gaan terugtrek.

Zuma het dié appèl voor sy bedanking in Februarie by die Noord-Gautengse hooggeregshof ingedien. Hy wou verhoed dat Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer (OB), se staatskapingsverslag bekend gemaak word, maar die hof het beslis dat dié verslag in openbare belang is. Zuma is daarna beveel om sy eie regskostes te dra, waarna hy geappelleer het.

Die DA het die presidensie se aankondiging verwelkom. James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, het gesê die DA was sedert die begin van die appèlsaak van mening dat Zuma vir die regskoste verantwoordelik moet wees – koste wat die DA beraam op R10 miljoen.

Selfe meen Zuma moet ʼn verdere R15 miljoen opdok vir die regskoste wat aangegaan is in die pogings om te voorkom dat verskeie aanklagte van korrupsie, rampokkery en geldwassery weer teen hom ingestel word.

“Hoewel hierdie nuus ʼn oorwinning is vir Suid-Afrikaners wat al vir te lank vir die ANC se foute moet betaal, moet die vraag gevra word oor wie die regskoste van R15,3 miljoen gaan betaal wat aangegaan is in die voortslepende spioenbande-saak,” het hy gesê.

Selfe het gesê die regering moet ʼn besluit hieroor neem, anders is dit nie ʼn oorwinning vir demokrasie nie. Hy het bygevoeg die oudpresident behoort verder ook nie finansiële bystand van die regering te ontvang nie vir wanneer die spioenbande-verhoor op 8 Junie voortgesit word.

Dit kom nadat Zuma Vrydag saam met Christine Guerrier, ʼn verteenwoordiger van die Franse wapenvervaardiger Thales, in die beskuldigdebank in die hof in Durban verskyn het.

Zuma het op 16 aanklagte verskyn wat verband hou met die omstrede wapentransaksie met Thales in die laat 1990’s. Zuma word vervolg vir een aanklag van afpersing, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 van bedrog.

Die saak teen die twee partye is tot 8 Junie uitgestel nadat adv. Billy Downer, vir die staat, die hof gevra het om die saak uit te stel omdat Zuma se regspan van voorneme is om ʼn hersieningsaansoek in te dien om die besluit om hom te vervolg te betwis. Downer het gesê na gelang van die uitkoms van die hersieningsaansoek kan daar dalk verdere hofaansoeke ingedien word. Zuma en Guerrier is op waarskuwing vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Siek en sat ·

Goed so. Hyt genoeg gestwel so hy behoort genoeg te he. Hy kan ook vir sy skatryk seun vra om hom te help.

Hanna ·

Mense wat niks het om weg te steek nie, steek niks weg nie… Jy wou mos jou dag in die hof he, hier is dit nou. Maar betaal gaan jy betaal pappie! Dit is die wet van Transvaal!

Abe ·

Wat beteken “kry vir jou”. Ek het afr. groot geword in die Transvaal / Gauteng area en het nooit die uitdrukking geken nie.

Cherokee ·

Heeltemal reg Abe, en snaaks dat geen van die ‘kry vir jou’ers’ jou antwoord nie. Dit is ‘n niksseggende uitdrukking wat onlangs kop uitgesteek het en tot vervelens toe herhaal word.

Johan ·

Dit beteken “ek voel vere vur jou”, glad nie ‘n nuwe uitdrukking nie. Ek gebruik en hoor dit al vir jare

Sê net ·

Wie laaste lag, lag die lekkerste. Hy het mos altyd so lekker gelag. In elk geval. Hy het miljoene, die bietjie behoort hy nie eers te voel nie.

Cherokee ·

Toe hy R10m Nkandla-geld aan die belastingbetalers moes terug betaal, het hy dit geleen.

Willem ·

Ek wonder wat het Cyril en die presidensie anders laat besluit, tot hul sinne laat kom, dalk druk, want Cyril het verseker tot dusver nie goed met die presidentskap gevaar nie.

Oom Kalahari ·

Sien maar eers of dit wel so is. Dalk is dit ook gebasseer op misleidende inligting net om die publiek te paai en te sus. As hy wel self moet betaal kan die geldjies van waar dit kom opgevol word. Wanneer jy self moet betaal is dit geweldige uitgawes en dan wil mens liewer ‘n saak gou laat afhandel as wat hy sloer/uitgerek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.